Debt and the management of personal finances
Loading...
Files
Date
Authors
Kotze, Liezel
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Hoë persoonlike skuldvlakke en lae spaarverhoudings blyk die norm te wees en
nie die uitsondering nie in die meeste ontwikkelde lande en Suid-Afrika is beslis
nie uitgesluit van hierdie groeiende verskynsel nie. Na die deregulering van
finansiële instansies gedurende die 1980’s, het persoonlike skuldvlakke wesenlik
gegroei en spaarvlakke het aansienlik gedaal tot ‘n breukdeel van wat nodig is vir
gesonde persoonlike finansies, aangesien hierdie twee veranderlikes in ‘n
omgekeerde verhouding tot mekaar staan. Uitermatige skuld en lae besparings
beïnvloed nie net die individu nie, maar ook die werkgewer en die ekonomie.
As gevolg van oormatige skuld kan individue die gevolge van afbrekende
finansiële mislukkings ervaar, soos gebroke huise of egskeiding, stres, gebrek
aan prestasie by die werk, agteruitgang van finansiële gesondheid en
bankrotskap. Al hierdie uitkomste van uitermatige skuld en lae spaarvlakke, kan
‘n individu se lewenskwaliteit benadeel. Die persoonlike aspekte van ‘n individu
se lewe sal ook sy werk negatief beïnvloed en daarom ook sy werkgewer. Lae
produktiwiteit, afwesigheid, organisatoriese verbintenis en werktyd wat in beslag
geneem word, het ‘n negatiewe invloed op die werkgewer en ook die ekonomie.
Eerstens beïnvloed dit die ekonomie indirek deur die verlaagde produktiwiteit van
werknemers. Tweedens beïnvloed dit die ekonomie direk deur veranderlikes
soos belegging, inflasie, rentekoerse, die waarde van die rand en die
oorkoepelende ekonomie te beïnvloed.
‘n Tekort aan basiese finansiële bestuurskennis is een van die belangrikste redes
waarom individue verkeerde finansiële keuses maak. Geslag, ouderdom,
inkomste en die vlak van opvoeding kan alles ‘n uitwerking hê op finansiële
geletterdheid en dit het ook ‘n invloed op die persoonlike finansies van die
spesifieke individu.
Hierdie studie se doel was om inligting in te samel aangaande die bestuur van
skuldgebruike van alle geregistreerde studente aan die Universiteit van die
Vrystaat Skool van Bestuur wat geregistreer was vir bestuursprogamme
gedurende 2005. Die sekondêre doelwitte sluit ook in om die belangrikheid van
finansiële geletterdheid en die effektiewe bestuur van persoonlike finansies te
bepaal, verskillende bronne van skuld te identifiseer, asook om die persentasie
van besteebare inkomste wat aan elke bron van skuld bestee word vas te stel,
die omvang van skuld bymekaargemaak deur die respondente, die omvang van
besparings deur die respondente, asook om die impak van uitermatige skuld op
produktiwiteit in die werkplek te bepaal. Die teikenpopulasie was 425
geregistreerde studente gedurende 2005. Daar is besluit om van die hele
populasie gebruik te maak en hierdie besluit het die gebruik van ‘n
verteenwoordigende proef uitgeskakel. Die vraelyste is deur 286 studente
voltooi.
Die resultate het aan die lig gebring dat die totale gemiddelde persentasie wat
elke maand aan skuld bestee word, gelykstaande is aan 62,1%. Dit beteken in
algemene terme dat 62,1% van alle beskikbare besteebare inkomste vir die
betaling van skuld gebruik word, wat slegs 37,9% van besteebare inkomste vir
algemene maandelikse uitgawes en besparing laat oorbly. Volgens 2006-
statistieke is die huidige Suid-Afrikaanse huishoudelike skuld 73% van die
besteebare inkomste, met slegs 28% van die salaris wat nie aan skuld bestee
word nie.
Hoë vlakke van ontevredenheid is by die respondente waargeneem aangaande
hulle kennis en waarneembare beheer van hul persoonlike finansies; die mate
van selfversekerheid om hul finansies te bestuur en beleggingsbesluite te neem;
hulle was bekommerd oor skuld, besparings en of hulle oor genoegsame
aftredingsfondse beskik; hulle was ook pessimisties oor hul finansiële toekoms
en het hoë vlakke van finansiële stres ervaar wat inbreuk maak op daaglikse
verantwoordelikhede. Daar was ook hoë vlakke van slegte finansiële bestuur
deur nie fondse opsy te sit vir besparings of aftrede nie, nie ‘n begroting te volg
nie en nie kredietkaarte ten volle te betaal om finansiële kostes te vermy nie.
Die respondente sal ‘n gemiddeld van 5-6 maande kan oorleef deur net van hul
spaargeld gebruik te maak indien hulle nie kan werk nie. Die mees algemene
rede wat die respondente aangevoer het waarom hul nie spaar nie, is dat hulle
nie genoeg geld het om te spaar nie (74,3%), terwyl 13,2% aangedui het dat
hulle nog nie aan spaar gedink het nie.
Individue wat nie in beheer van hul persoonlike finansies voel nie, dink dat hulle
nie genoeg geld sal hê om te oorleef tydens hul aftrede nie; hulle voel negatief
oor hul toekoms, ervaar ongelooflike finansiële stres en volg nie ‘n weeklikse of
maandelikse begroting nie.
Description
Dissertation (M.Com.(Business Management))--University of the Free State, 2006