Persoonlikheid as voorspeller by stokkiesdraai

Loading...
Thumbnail Image
Date
1975-12
Authors
Nel, Christiaan Matthys
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Alhoewel stokkiesdraaiers nie 'n besonder groot persentasie van die skoolbevolking uitmaak nie, is dit nogtans 'n betekenisvolle probleem. Hierdie probleem word geaksentueer deur die feit dat daar skynbaar 'n noue verband tussen stokkiesdraai en ernstiger vorms van misdaad bestaan. Hierdie ondersoek het die moontlikhede om stokkiesdraai te kan voorspel, ten doel gehad. Dit was eerstens noodsaaklik om 'n deeglike studie van die oorsake van stokkiesdraai te maak, om sodoende die area waarin voorspellers identifiseer kon word, af te baken. Dit het uit hierdie literatuurstudie geblyk dat die oorsake van stokkiesdraai op 'n primêre en sekondêre vlak bestudeer kan word. Omdat die oorsake van stokkiesdraai primêr geneties, maatskaplik, opvoedkundig en fisiologies van aard is, laai dit op die persoonlikheid van die kind en kan dit as ongunstige genetiesen omgewingsgevormde persoonlikheidseienskappe op sekondêre vlak waargeneem word. Ten einde enigsins aanspraak op resultate te kan maak, moet 'n voorspellingsmeetmiddel oor 'n hoë mate van geldigheid en betroubaarheid beskik en die resultate kwantifiseerbaar wees. Die wye spektrum van primêrveroorsakende faktore het 'n meervoudige voorspeller dikteer. Daar is verder besluit dat die voorspellingstudie praktykgerig moet wees. Die meetmiddels wat as voorspellers sou dien, moes geskik wees om in skole deur onderwysers wat nie spesifieke opleiding in toetsadministrasie gehad het nie, gebruik te kan word.Dit moes ook tot so 'n mate gestandardiseerd wees, dat dit beide ekonomies en objektief aangewend kan word. Twee moontlike bronne van voorspellingsdata, tewete biografiese gegewens en persoonlikheid saam met die metingstegnieke intrinsiek eie aan elk, is oorweeg. Na aanleiding van die gemak waarmee hulle aan die kriteria vir goeie voorspellers van stokkiesdraai kon I voldoen, is daar besluit op persoonlikheid as bron van voorspellingsdata en die selfondersoekvraelys as metingstegniek. Ten einde interpretasies van die resultate van die ondersoek te kan doen, is die matematiese persoonlikheidsmodel van Catteil as raamwerk gekies en bespreek. Vervolgens is 'n veldondersoek onderneem om sodoende die moontlikheid om stokkiesdraai via persoonlikheid te voorspel, te ondersoek. Al die beskikbare Afrikaanssprekende stokkiesdraaiermeisies uit departementele hoërskole van groter Bloemfontein is by die projek betrek. Die groep was dertig in getal. As kontroletegniek is hulle elkeen afgepaar met 'n Afrikaanssprekende meisie wat die skool gereeld besoek het en met intelligensiekoëffisiënt, die beroep van die broodwinner van die gesin, die sosio-ekonomiese omstandighede van die gesin, die klasonderwyser en die ouderdom as konstante veranderlikes. Die voorspellergegewens is met behulp van die HSPV, die IPAT-angsskaal en PHSF-verhoudingsvraelys ingesamel. Op grond van waarskynlikhede verkry uit die literatuuroorsig, is drie hipoteses gestel. Hipotese een het gelui dat daar wat stilistiese trekke betref, beduidende verskille tussen stokkiesdraaiers en nie-stokkiesdraaiers sal voorkom. Die hipotese is deur middel van die veertien HSPV-veranderlikes en die t-formule getoets. Die nulhipotese is ten opsigte van alle veranderlikes, behalwe faktor 0 (kalm teenoor bevreesd) gehandhaaf. Hipotese twee het gelui dat stokkiesdraaiers 'n beduidend groter mate van angs in vergelyking met nie-stokkiesdraaiers salopenbaar. Op grond van die bevindings van ander navorsers, is hierdie hipotese met behulp van die t-formule en die ses IPAT-angsskaalfaktore eenkantig getoets. Die nulhipotese is ten opsigte van alle veranderlikes, behalwe faktor Q4 (spanning as gevolg van frustrasie) gehandhaaf. Hipotese drie het gelui dat die stokkiesdraaier se persoonlikheidsaanpassing beduidend swakker as die nie-stokkiesdraaier s'n sal wees. Die twaalf PHSF-veranderlikes en die t-formule is gebruik om dié hipotese te toets. Omdat navorsing daarop dui dat die stokkiesdraaier se huislike invloede negatief op hom inwerk, is die hipotese ten opsigte van die gesinsinvloedekomponent eenkantig getoets. Die nulhipotese is ten opsigte van alle veranderlikes, behalwe die gesinsinvloedekomponent gehandhaaf. Die stokkiesdraaier-groep was dus meer bevrees, het meer spanning as gevolg van frustrasie ervaar en was volgens hulle eie mening aan negatiewer gesinsinvloede blootgestel, wanneer hulle met die gereelde skoolbesoekgroep vergelyk word. Daar is vervolgens twee voorspellingsmodelle implimenteer, naamlik meervoudige regressie en diskriminantontleding. In die geval van meervoudige regressie is al twee en dertig veranderlikes gepruik en volgens ICL-program XDS 3 verwerk. Die model met ses voorspellerveranderlikes, tewete HSPV-faktore G (opportunisties teenoor pligsgetrou), Q3 (geneigdheid tot ongedissiplineerde selfkonflik teenoor beheersdheid), Q4 (ontspanne teenoor gespanne), IPAT-angsskaalfaktor Q4 (spanning as gevolg van frustrasie) en PHSF-komponente selfbeheer en gesinsinvloede het die hoogste meervoudige korrelasie opgelewer. Hulle kon 41,0% van die variansie ten opsigte van stokkiesdraai verklaar. Hierdie resultaat is egter nie as bevredigend beskou nie en sou waarskynlik in die praktyk van min waarde wees, omdat dit min potensiële stokkiesdraaiers sal kan identifiseer. Vir die diskriminantontledingmodel is ook twee-en-dertig veranderlikes gebruik en volgens ICL-program XDS 3 verwerk. Met behulp van hierdie twee-en-dertig veranderlikes kon sewe-en-twintig of 89,9% van die werklike stokkiesdraaiers in die stokkiesdraaiergroep geplaas word. Van die gereelde skoolbesoeksters kon agt-en-twintig of 92,857% in die regte groep geplaas word. Hierdie resultaat is hoogs bevredigend en toon dat die geimplimenteerde persoonlikheidsveranderlikes tesame met 'n diskriminantontledingmodel in die praktyk waarskynlik uitstekende resultate sal lewer.
Description
Keywords
Educational psychology, School attendance, Dissertation (M.A. (Psychology))--University of the Free State, 1975
Citation