'n Kritiese ondersoek na museologiese tegnieke

Loading...
Thumbnail Image
Date
1977
Authors
De la Harpe, Mariana Erna
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Weens die verskeidenheid van voorwerpe wat in musea tentoongestel word en as gevolg van die feit dat elke voorwerp of groep voorwerpe hul eie vereistes stel met betrekking tot tentoonstelling, opvoedkundige aanbieding, die ideale gebou, administratiewe organisasie, konservering en restourasie, word daar slegs gepoog om breë riglyne van die verskillende museumfunksies aan te stip. In hierdie verhandeling word gepoog om 'n redelike volledige oorsig van die verskillende museologiese tegnieke en verwerkings te gee. Spesiale aandag word gegee aan die tentoonstellingsaspek in die museum aangesien die outeur dit tesame met konserveringas die hooffunksies van die museum beskou. Die konservering v an die museum-voorwerp word deurlopend beklemtoon omdat die behoud van die voorwerp van essensiële belang vir die museuminrigting is. Die verhandeling word benader vanuit die oogpunt van die kurator. Om dié rede word eerder 'n algemene oorsig as 'n gedetailleerde bespreking van die verskillende museumpraktyke gegee. Die ideale museumgebou word bespreek aan die hand van die nuwe vereistes wat aan die moderne museum gestel word. Dit word as ideaal gestel dat 'n gebou so ontwerp sal word dat dit by die versameling sal aanpas. Die tegniese en finansiële eise wat dit sou meebring, word egter besef en daarom word die aanpassing van bestaande geboue om as museumgeboue te dien, in die verhandeling bespreek. Wat administrasie betref, probeer die outeur die noodsaaklike administratiewe verwerkings, praktiese wenke aangaande hierdie verwerkings asook bykomstige verwerkings wat met min ekstra moeite 'n massiewe hoeveelheid inligting beskikbaar sal stel, aantoon. Ook hier is daar baie moontlikhede, maar die outeur wil dit duidelik stel dat enige verwerking of tegniek wetenskaplik, eenvoudig en prakties moet wees. Al hierdie verwerkings is beproef deur die jare maar die outeur voel dat die toepassing daarvan so moet wees dat dit soos nodig by nuwe behoeftes kan aanpas en nie persoonlike inisiatief moet demp nie. Die aanbieding van museumvoorwerpe is die spil waarom die museumorganisasie draai en om hierdie rede geniet die tentoonstelling spesiale aandag in hierdie verhandeling. Die wyse waarvolgens 'n tentoonstelling aangebied word, word deur elke versameling afsonderlik bepaal na sy eie aard. Daar kan dus nie 'n ideale metode voorgestel word nie, maar slegs breë riglyne. 'n Belangrike en moeilike plig van die tentoonstellingstegniek toegepas in 'n museum, is dat dit tot alle besoekers gerig moet wees. Dit moet dus sowel die algemene publiek as die belangstellende en die kenner bevredig en aan alle groepe die moontlikheid bied om verder te ontwikkel. Dit is duidelik dat die tentoonstellingsaktiwiteit van die museum 'n gespesialiseerde veld is en deeglike beplanning en organisasie vooraf vereis. Die outeur voel dat die tentoonstelling van so aard moet wees dat dit die besoeker wat deur die ingangsportaal van die museum gestap het se aandag moet trek en behou hetsy hy 'n gespesialiseerde student of belangstellende lid van die publiek is. Besoekers van heel verskillende kulturele agtergrond moet geïnspireer en geprikkel word tot verdere selfstudie. Om dit te kan doen, moet die aanbieding lewendig, verstaanbaar en logies ontplooi word. Weereens is deeglike beplanning en voorbereiding 'n absolute vereiste. Die outeur is die mening toegedaan dat die trefkrag van outentieke museumvoorwerpe meer is as die van afdrukke, maar dat die gebruik van goeie afdrukke en replikas van uitstaande werke wel geregverdig is, veral in gevalle waar die begroting beperk is. By die aanbieding van opvoedkundige materiaal moet die gevaar van vooroordeel en die intellektuele eerlikheid van die personeel voortdurent aandag geniet om te voorkom dat die museum sy doelstelling mis. Die konservering en restourasie van museumvoorwerpe word bespreek met die doel om die belangrikheid daarvan in die museumorganisasie aan te toon. Die aanwesigheid van so 'n afdeling in die museum word nog nie algemeen aanvaar nie en dit is ee nvan die redes waarom veral aandag aan dié afdeling gegee word. Dit moet weer genoem word dat die toepassing van goeie konserveringmetodes, restourasie tot 'n groot mate verminder. Sekere restourasietegnieke bespreek, vereis gespesialiseerde apparaat en dit is duidelik dat die klein musea nie die mas sal opkom nie. Dit word dus aanbeveel dat hulle met groot inrigtings sal saamwerk of dat 'n paar kleiner musea sal saamstaan. Dieselfde geld vir die indiensname van 'n gekwalifiseerde restourateur. Daar is egter heelwat restourasietegnieke wat wel deur die kleiner museum toegepas kan word. Ten slotte moet dit weer beklemtoon word dat alles ingrepe met betrekking tot restourasie tot 'n minimum beperk moet word. Indien daar enige twyfel bestaan ten opsigte van restourasie, moet 'n tweede opinie ingeroep word; selfs 'n derde opinie sou nie verkeerd wees nie. Die outeur voel ook baie sterk dat wat oorspronklik aan 'n voorwerp is, sover as moontlik behoue moet bly en indien dit nie moontlik is nie, moet retoesjering en ander toevoegings van so 'n aard wees dat die oorspronklike altyd weer teruggebring kan word. Dit is dus duidelik dat daar baie hoë eise aan die integriteit van die restourateur gestel word.
Description
Keywords
Museum techniques, Dissertation (M.A. (History of Arts and Fine Arts))--University of the Free State, 1977
Citation