Stelsels van verteenwoordiging in Suid-Afrika

Loading...
Thumbnail Image
Date
1958-11
Authors
Van Wyk, Adam Johannes
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Met die opkoms van die moderne demokrasie, die toekenning van politieke medeseggenskap aan alle volwasse persone, en veral as gevolg van die opkoms van ons parlementêre stelsel met sy partyorganisasies, het die probleem van verteenwoordiging aktueel geword. Dit lewer by die Griekse stadstate geen probleem nie, aangesien elke burger direk aan die besprekings of wetgewing kon deelneem. Hier was dit slegs 'n keuse van die owerheidspersoon. Gedurende die tydperk van die Nasionale Monargië was verteenwoordiging ook van geen aktuele belang nie, aangesien die massa oor geen politieke medeseggenskap beskik het nie, en die wil van die vors as die wil van God beskou is. Namate die massa ontwikkel het en hulle lewenstandaarde verhoog is, het hulle eis om politieke medeseggenskap toegeneem. Na dié mate wat die politieke medeseggenskap na die massas uitgebrei is, het di eprobleem van verteenwoordiging dus na vore gekom. Met die opkoms van volksregerings en veral van die demokratiese gedagte van gelykheid van alle persone, is die stemreg al meer en meer uitgebrei. Stemreg is gesien as 'n gesagsreg, waardeur elke kieser sou meedoen in die daarstelling van die wette. Die owerheid ontleen dus sy gesag aan hierdie indiwidue. Weens hierdie dwaling, naamlik dat stemreg 'n gesagsreg en nie 'n keusereg is nie, is die regereing van die meerderheid in twyfel getrek, juis omdat minderhede dan ook gesagdraers is. Dit is dus noodsaaklik geag dat elke party of groep op verteenwoordiging in verhouding tot sy getalsterkte, geregtig is. Daar is dan ook verklaar dat 'n volksraad alleen verteenwoordigend van die volk kan wees, indien elke party eweredig daarin verteenwoordig is. Hierdeur is alle politieke denkrigtings verheerlik as gelykwaardig en het hulle almal 'n aanspraak op verteenwoordiging. Aangesien die enkellid-kiesafdeling met sy relatiewe meerderheid, nie behoorlike verteenwoordiging aan minderhede verleen nie, is daar sedert die vorige eeu verskeie ander metodes aangebied. Met die herleweing van die "Proportional Representation Society" in London sedert die begin van hierdie eeu, is daar op groot skaal propaganda gemaak vir die instelling van proporsionele verteenwoordiging met die enkel-oordraagbare stem by die verkiesings van lede van wetgewende vergaderings. Hierdie stelsel verseker nie alleen eweredige verteenwoordiging aan alle partye nie, maar gee ook aan elke stem 'n gelyke kieswaarde. Hierdie propaganda het dan ook sy invloed in Suid-Afrika deeglik laat geld. Dit was daarvoor verantwoordelik dat die Nasionale Konvensie te Bloemfontein byna verongeluk het, aangesien proporsionele vereenwoordiging deur sekere kolonies geëis is, terwyl ander dit nie wou aanvaar nie. Hoewel proporsionele verteenwoordiging in die verkiesing van die Volksraad- en Provinsiale Raadslede deur die Konvensie laat vaar is, was die stryd in Suid-Afrika nog lank nie uitgewoed nie. Gedurende die eerste twee dekades ná die totstandkoming van die Unie, is daar telkens probeer om meerderheidsverteenwoordiging te vervang. Gelukkig vir Suid-Afrika, is daar gedurende hierdie tyd nie veel gehoor aan die kreet na proporsionele verteenwoordiging gegee nie, waarna die strewe ook laat vaar is. Toe die Nasionale Regering in 1948 en weer in 1953 met 'n minderheid stemme aan bewind gekom het, is daar in die Engelse pers probeer om die strewe na proporsionele verteenwoordiging te laat herleef. Die poging het egter weinig reaksie uitgelok. Proporsionele verteenwoordiging is 'n finale nekslag toegedien, toe dit in 1955 deur die blokstem in die verkiesing van Senatore vervang is. Waar proporsionele verteenwoordiging derhalwe nou by ons in gedrang is, maak dit 'n studie van die beginsels daarvan noodsaaklik. Ten einde die funksionering van meerderheidsverteenwoordiging en proporsionele verteenwoordiging te begryp en verwarring met ander stelsels te voorkom, is dit nodig dat ons kortliks sal let op die verskillende methodes wat vandag aangebied word. By so 'n studie van die twee stelsels wat vandag in Suid-Afrika in gebruik is, is kennis van die historiese ontwikkeling onontbeerlik. Om hulle voor- en nadele krities te bepaal, is die praktiese uitwerking daarvan belangrik. Dit is dan ook in hierdie volgorde dat ons die onderwerp wil behandel. Ten slotte wil ons net daarop wys dat 'n studie van die verskillende stelsels van verteenwoordiging in Suid-Afrika niks te doen het met die bestaande politieke partye nie. Die nadele van 'n stelsel is nie toe te skrywe aan die party wat moontlik daardeur bevoordeel is nie.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Political Science))--University of the Free State, 1958, Representative government and representation -- South Africa
Citation