Die woord-toon-verhouding in "Die Winterreise"-siklus van Franz Schubert
Loading...
Date
Authors
De Villiers, Cornelia Alice
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Musiek is, net soos die gesproke woord, 'n kommunikasiemiddel. Die besondere samehang en ooreenkoms tussen die toonrede en die woordrede is een wat nie altyd ten volle besef word nie.
Die ontwikkeling van die Westerse woord- en toonkuns verloop vanaf hulle oeroue samehang in die Griekse Antieke, oor die skeiding in die laat-Antieke tot die na-Christelike era, waarin hulle gedurende die verloop van tyd telkens nader en weer verder van mekaar beweeg. Veral met die redekuns, en 'n besondere vertakking van die woordkuns, ontwikkel die musiek sedert die Humanisme 'n innige samehang wat in die 18e eeu sy hoogtepunt bereik. Die inisiatief vir die navorsing van hierdie belangrike terrein het uigegaan van Arnold Schering en het gelei tot 'n verdiepte insig in die musiekbeskouing en -praktyk van die tydperk 1500 - 1750. Enkele belangrike navorsers op hierdie gebied is, behalwe Schering, ook Kretzmar, Brandes, Unger, Schmits, Muller-Blattau, e.a. Daarenteen is met 'n omvattende sistematiese ondersoek van die intuitiewe gebruikmaking van retoriese middels vanaf 1750 tot op hede feitlik nog net 'n begin gemaak. Hier kan o.a. die werk van Schenk t.o.v. die sogenaamde "toonsimboliek" in die Klassiek-Romantiese periode vermeld word.
'n Vraag wat besonder verhelderend kan inwerk op die estetika van Franz Schubert se werk, is die een na die verhouding tussen spraakfigure en musikale figure. Skrywers is dikwels baie vaag in hierdie verband, bv. BELL, HUTCHINGS e.a. en dui op 'n bepaalde samehang van teks en musiek sonder om deur te dring tot die histories-verankerde musikale retoriek wat as grondliggend kan geld.
Hoe sterk die afkeer teen die uiterlikheid en handwerklike aspek van die retoriek ookal mag wees, intuitief maak elke komponis of digter wat deur middel van sy kuns iets aan sy toehoorder of leser wil meedeel, tog gebruik van een of ander retoriese middel, daar die retoriek feitlik die hele terrein van kommunikasie deur middel van taal omvat.
Die versoeking ontstaan dikwels by skrywers om bepaalde ooglopende betrekkings tussen die musiek en die teks as nuutgevonde simbole te verklaar, terwyl hierdie ag. simbole baie dikwels tot die figure-leer teruggevoer kan word (Vgl. bv. Alec Robertson in Music of the Masters, uitgegee deur Gerald Abraham, London 1946). So kan talle van die toonsimbole wat bv. Hugo Wolf gedurende die laat-Romantiek in sy liedere aanwend, basies tot die figure-leer herlei word (Vgl. R.E. Pienaar t.o.v. "Italianisches Liederbuch").
In die studie voorhande word dus gepoog om aan te toon in hoe 'n groot mate Schubert uit die oorgelewerde tradisie van die figure-leer put en gelyktydig bepaalde "toonsimbole" gebruik wat in die laat-Romantiek tot geykte komponismiddele word.
