The depth of financial integration and its effects on financial development and economic performance of the SACU countries
Loading...
Date
Authors
Aziakpono, Meschach Jesse
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Die studie ondersoek die verhouding tussen finansiële integrasie, finansiële ontwikkeling
en ekonomiese groei in die SADU lande. Die empiriese analise begin met 'n ondersoek na
die graad van finansiële integrasie in elk van die SADU lande, deur 'n battery van toetse
te gebruik. Die resultaat verskaf in alle opsigte oorweldigende bewyse wat aantoon dat
die finansiële sektore van die SADU lande individueel hoogs geïntegreer is en dat dit
toeneem. Die aanwysers beklemtoon ook 'n duidelike asimmetrie in die kapitaalvloei
tussen die banke en die SADU lande, met die kapitaalvloei betekenisvol ten gunste van
Suid-Afrika en Namibië in vergelyking met die ander lande. Dit word toegeskryf aan die
onderliggende eienskappe van hierdie lande, spesifiek hul swak institusionele
ontwikkeling.
Die resultate bevestig verder Suid-Afrika se dominante rol in die SADU. Die
rentekoersanalises dui ook ondubbelsinnig op 'n hiërargie van die integrasie van die
finansiële stelsels van elke lidstaat met die van Suid-Afrika. Namibië is bo-aan die lys,
gevolg deur Swaziland, Lesotho en Botswana, in daardie volgorde. Die resultate dui
verder ook aan dat die heersende integrasie tussen die finansiële stelsels voortspruit uit
beide beleidkonvergensie en markkonvergensie. Die resultate toon egter ook dat, behalwe
in Namibië, daar beperkte aktiwiteite tussen die lande bestaan, wat die gevolg kan wees
van beide swak institusionele ontwikkeling en beperkte beleggingsgeleenthede, en die
onvermoë van beleggers om sodanige geleenthede in die kleiner lande te verken.
Die empiriese analise van die verhouding tussen finansiële ontwikkeling, finansiële
integrasie en ekonomiese prestasie, wat gebaseer is op ko-integrasie en foutkorrigerende
modelleringstegnieke deur die Johansen-benadering te gebruik, verskaf gemengde
resultate tussen die SADU lande. By die verhouding tussen finansiële ontwikkeling en
uitsetgroei varieer die resultate van land tot land en hang dit van die maatstaf van
finansiële ontwikkeling wat gebruik is af. As ‘n geheel verleen die resultaat 'n mate van
ondersteuning aan aanbod-leidende finansies oor die SADU lande heen, soos voorgestel
deur Patrick (1966). Oor die effek van FO, dui die oorwig van die bewyse op 'n negatiewe
jare-lange oorsaaklike effek van finansiële ontwikkeling op die uitsetvlak in die SADU lande, veral as die kredietaanwyser gebruik word. Die toetse vir die effek van die
deposito-aanwyser op die uitsetvlak was grootliks onoortuigend, met die uitsondering van
Swaziland, waar 'n robuuste positiewe effek gevind is. Die swak effek van finansiële
ontwikkeling op ekonomiese groei word toegeskryf aan ondoeltreffendhede in die
kredietallokasiemeganisme, weens swak regulasies, banktoesighouding en
onderontwikkelde finansiële stelsels asook politieke, institusionele en strukturele
probleme in party van die lande.
Die resultate bevestig verder 'n langtermyn verhouding tussen finansiële ontwikkeling en
finansiële integrasie oor die SADU lande heen. Die resultate bevestig ook 'n sterk
terugvoer-verhouding tussen finansiële ontwikkeling en finansiële integrasie oor die
lande heen. In alle opsigte is die effek van finansiële integrasie op finansiële
ontwikkelinge en vice versa dubbelsinnig en dit varieer oor die SADU lande heen.
Bykomend tot die variasie oor die lande heen, hang die bewyse af van die soort
kapitaalvoorraad en die maatstaf wat vir finansiële ontwikkeling gebruik is. Dit is
derhalwe moeilik om in die algemeen te beslis of finansiële integrasie 'n aanvulling of
plaasvervanger vir finansiële ontwikkeling oor die SADU heen is.
Laastens toon die resultate aan dat uitset oorheersend endogeen in die vier lande is,
terwyl finansiële integrasie hoofsaaklik eksogeen is. Dit suggereer 'n beperkte
terugvoerverhouding vanaf uitsette na finansiële integrasie. Wat die effek van finansiële
integrasie op die uitsetvlak betref is die resultate gemeng; die effekte varieer van land tot
land en hang van die soort kapitaal af. Die effek van Direkte Buitelandse Investering was
negatief in Botswana, positief in Suid-Afrika, maar dubbelsinnig in Swaziland. Die
verhouding van buitelandse bates van banke het 'n dubbelsinnige effek in Botswana,
Lesotho en Suid-Afrika, terwyl geen effek in Swaziland bespeur is nie. Laastens het die
verhouding van buitelandse laste 'n positiewe effek in Lesotho en Swaziland, en 'n
negatiewe effek in Suid-Afrika, terwyl die effek in Botswana dubbelsinnig is.
Description
Thesis (Ph.D.(Economics))--University of the Free State, 2008