Persoonlikheidstrekke as keuringsveranderlikes vir doeltreffende eerste-vlak-toesighouding in die Bloemfonteinse Munisipaliteit
Loading...
Files
Date
1982-11
Authors
Mentz, Hendrik
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die eerste-vlak-toesighouer speel 'n uiters belangrike rol in die
effektiewe funksionering van die organisasie. As skakel tussen
die gewone werkers en bestuur moet hy as aangesig-tot-aangesig
leier van sy werkgroep funksioneer. Daar word algemeen aanvaar
dat persoonlikheidseienskappe grootliks sukses in toesighoudende
poste bepaal. Persoonlikheidstoetse word redelik algemeen met
die oog op keuring in die Suid-Afrikaanse bedryf, asook in die
buiteland aangewend. Voldoende navorsing ten einde die waarde
van persoonlikheidstoetse vir keuringsdoeleindes in die SuidAfrikaanse
bedryf te evalueer ontbreek egter.
Hierdie ondersoek was dus daarop gemik om die leemte wat in die
vakgebied van die Sielkunde en die Bedryfsielkunde geidentifiseer
is aan te vul. Die doel met hierdie ondersoek was die volgende:
(i) Om die persoonlikheidstrekke wat tot suksesvolle toesighouding bydra te identifiseer.
(ii) Om doeltreffende en minder doeltreffende eerste-vlak-toesighouers se persoonlikhede soos gemeet deur die 16-Persoonlikheidsfaktorvraelys met mekaar te vergelyk.
(iii) Om 'n voorspellingstudie uit te voer wat as moontlike hulpmiddel by die keuring van eerste-vlak-toesighouers in die
Bloemfonteinse munisipaliteit gebruik kan word.
Die meetinstrumente wat in hierdie ondersoek gebruik is, is die
16-Persoonlikheidsfaktorvraelys (16-PF) van Cattell, asook 'n beoordelingskaal. Die navorsing is by die Bloemfonteinse munisipaliteit uitgevoer. Om die voorspellingstudie uit te voer, is
Qaar van stapsgewyse regressie-ontleding gebruik gemaak. Met
die uitvoering van die studie het die navorser dit ook nodig gevind om 'n faktorontleding te doen. 'n Meervoudige eenrigtingvariansie-analise is gebruik om moontlike persoonlikheidsverskille tussen ioeltreffende en minder doeltreffende eerste-vlak-toesighouers te bepaal.
In die literatuurverkenning is sestien persoonlikheidstrekke wat
tot suksesvolle toesighouding kan bydra, geidentifiseer. Die
meervoudige eenrigting-variansie-analise het egter geen statisties betekenisvolle verskille tussen bogenoemde twee groepe opgelewer nie. Die meervoudige regressie-ontleding het getoon dat
'n seleksie van persoonlikheidsveranderlikes met die kriterium van
doeltreffende toesighouding wat in hierdie ondersoek gebruik is,
verband hou. Die meervoudige korrelasie tussen 'n seleksie van
sewe persoonlikheidsveranderlikes (skale op die 16-PF) en die kriterium was statisties beduidend, (5%-peil) groter as nul. Die
proporsie van die kriteriumvariansie wat gesamentlik deur die veranderlikes verklaar is, was egter van so 'n aard dat die voorspellingsmodel moontlik nie veel praktiese waarde sal hê nie. Ten
einde te toets vir moontlike leemtes in die meervoudige regressiemodel is 'n faktor-ontleding uitgevoer. Vier faktore is uit die
data geidentifiseer. Die proporsie van die kriteriumvariansie
(kommunaliteit) wat gesamerrtlik deur die vier faktore verklaar word, stem grootliks met die resultaat van die stapsgewyse meervoudige regressie-ontleding ooreen. Dit blyk dus 'n bevestiging
te wees van die resultate wat uit die meervoudige regressie-ontleding verkry is.
Die kriteriumverwante geldigheid van die 16-PF vir die kriterium
wat in hierdie ondersoek gebruik is, blyk verdag te wees. Daar
is baie·navorsers wat soortgelyke resultate rapporteer, maar aan
die anderkant is daar ook baie navorsers wat teenstrydig met die
resultate positiewe resultate rapporteer. Na die mening van die
skrywer lê die verklaring vir hierdie teenstrydige resultate daarin dat daar in die verskillende studies van verskillende kriteria en
persoonlikheidsmeetinstrumente gebruik gemaak is. Hierdie resultate beklemtoon dus die feit dat die gebruik van persoonlikheidstoetse met die oog op keuring deeglik aan navorsing onderwerp moet
word voordat dit vir sodanige doel aangewend word. Aangesien geen
sodanige studies in die Suid-Afrikaanse literatuur opgespoor kon
word nie, is die skrywer van mening dat hierdie resultate 'n waarskuwing vir alle gebruikers van sodanige toetse in die Suid-Afrikaanse bedryf inhou. Met hierdie ondersoek is daar dus 'n leemte
in die vakgebied van die Sielkunde en die Bedryfeielkunde geidentifiseer wat nog baie navorsing vereis.
Description
Keywords
Personality assessment, Dissertation (M.A. (Psychology))--University of the Free State, 1982