Poverty and migration in a transformed South Africa
Loading...
Files
Date
Authors
Pool, Antonie
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Ten spyte daarvan dat armoede die fokus van baie streeks-, nasionale en internasionale
beleidsraamwerke is, leef 54% van die Suid-Afrikaanse bevolking steeds in armoede.
Onderwyl dit moeilik is om aan armoede te ontkom, is dit ’n groter uitdaging om die oordrag
van armoede tussen generasies te verbreek. Individue en huishoudings wend hulle tot
metodes soos migrasie om uit die armoedekringloop te ontsnap.
Die doel van die studie was die bestudering van die verband tussen armoededinamika en
migrasie in ’n getransformeerde Suid-Afrika. ’n Tweeledige benadering is in die studie gebruik
om hierdie verbande te ondersoek. Die eerste benadering het ondersoek ingestel na
interhuishoudingsdinamika deur op armoede en die oordrag van intergenerasie-armoede
vanaf kern- na dinastiehuishoudings te fokus. Die eerste benadering het ook ondersoek
ingestel na migrasie en geldsendings (oordragte) in kern- en dinastiehuishoudings en die
invloed daarvan op armoede in dinastiehuishoudings. Die tweede benadering het
intradinastiehuishoudingsdinamika verken deur kern- en nie-kernlede in
dinastiehuishoudings te vergelyk. Die invloed van die kenmerke van kern- en nie-kernlede op
die welsyn van dinastiehuishoudings is ook in hierdie benadering ondersoek. Om hierdie
doelwitte te bereik, het die studie gebruik gemaak van die data van die KwaZulu-Natal Income
Dynamics Study (KIDS).
Die bevindinge van die eerste analitiese benadering dui daarop dat post-apartheid dinastiehuishoudings
beter daaraan toe is as hul kern-eweknieë vanweë die hoër gemiddelde en
mediaanvlakke van huishoudelike besteding, asook die laer vlakke ten opsigte van die
voorkoms, die diepte en die felheid van armoede. Die analise bied bewyse vir die voorkoms
van intergenerasie-oordrag van armoede by huishoudings in KwaZulu-Natal. Die
waarskynlikheid dat ’n dinastiehuishouding arm sal wees, neem met 40.3% toe indien die
huishouding ’n kroniese armoede-agtergrond het. Die bevindinge dui ook op die relatief hoër
mobiliteit van kernhuishoudings in die post-apartheid era as vroeër in die laat-apartheid era.
Hierdie studie bevestig ook dat migrasie ’n huishoudelike risikoverspreidingstrategie is
deurdat dinastiehuishoudings uit ’n kroniese armoede-agtergrond meer waarskynlik is om te migreer, terwyl migrerende dinastiehuishoudings beduidende laer vlakke van armoede as
nie-migrerende dinastiehuishoudings ondervind. Die mede-versekeringsmotief vir oordragte
is ook bevestig, aangesien dinastiehuishoudings uit ’n kroniese armoede-agtergrond meer
waarskynlik is om oordragte te ontvang, terwyl die armoedevlakke ook beduidend laer is in
geval van dinastie-huishoudings wat oordragte ontvang.
Die bevindings van die tweede analitiese benadering onthul die belangrikheid van
intrahuishoudelike dinamika rakende armoede in dinastiehuishoudings. Die bevindings laat
blyk dat kern-individue deurslaggewend is vir die voortbestaan van dinastiehuishoudings en
waarskynlik ook meer mag bydra tot armoedeverligting in sodanige huishoudings as niekernlede
gegewe hul hoër vlakke van opleiding, sosiale kapitaal, arbeidsmarkdeelname en
indiensname, asook groter betrokkenheid by oordragte en die ontvangs van maatskaplike
toelaes. Die bevindinge van die tweede benadering suggereer ook dat die sosiale kapitaal van
familielede belangrik is vir armoedeverligting.
Die studie dra by tot die literatuur oor armoede in soverre dit ondersoek instel, enersyds na
die verband tussen armoede en armoededinamika en andersyds tussen migrasie en
oordragte. Die studie dra ook by tot die literatuur rakende migrasie en oordragte en dra by
tot ons begrip van die verband tussen migrasie en die armoededinamika in Suid-Afrikaanse
huishoudings.
Description
Thesis (Ph.D.(Economics))--University of the Free State, 2016