Die verhoor van Gaius Rabirius in historiese, meer bepaald juridiese en polities-staatkundige perspektief

Loading...
Thumbnail Image
Date
1983-01
Authors
Wessels, Hermanus Arnoldus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die Pro Rabirio is 'n rede wat Cicero in die loop van 'n strafverhoor gelewer het, maar by die eerste deurlees daarvan besef 'n mens dat dit hier om veel meer gaan, en om 'n vreemde verloop en saak. Die feit dat die besige konsul van die Romeinse Republiek vir die verdediging verskyn om 'n toespraak te maak wat, na die uiterlike geoordeel, nie veel betrekking op die klag het nie, is reeds uitsonderlik. Hierby moet ons, egter, reken dat die aanklag ses-en-dertig jaar na die pleging van die.misdaad gebring word met getuienis wat so power was dat die aanklaer hoegenaamd geen uitsig op sukses kon gehad het nie. En tog is dit 'n belangrike saak. Dit is een van die mees noodlot swangere gebeurtenisse in die lewe van Cicero, die groot kampvegter van die republikeinse ideaal op 'n tydstip kort voor die daarstelling van die eerste driemanskap wat die ondergang van die Republiek sou inlui. Van die ander kant is die vervolging in die eerste plek geïnspireer deur Caesar wat op die drumpel van 'n loopbaan was wat hom binne die volgende twee dekades sou voer tot alleenheerskappy oor die Romeinse wêreld. Caesar maak hom nie veel sorge oor die skuld van Rabirius nie, maar wil deur hierdie vervolging vir hom die maksimum beweegruimte in die politieke sfeer verseker. Hierdie hofsaak verteenwoordig dus essensieel die eerste openlike botsing tussen hierdie twee persoonlikhede wat gaandeweg ontwikkel in 'n stryd van blywende aktualiteit en wat Cicero betref, van diepgang. Die optrede van beide die vervolging en die verdediging is dus meer dimensioneel en dui onmiskenbaar ook op versweë belange wat nie eie is aan'n gewone strafverhoor nie. Hierdie moeilik bewysbare saak het 'n aanvang geneem met 'n verhoor voor die argaïese hof van die duumviri, beman deur Caesar en sy neef. Hierdie hof met sy godsdienstige gewaad wat uit die monargale tydperk opgediep is, is gekies om die politieke doel te kamoefleer, en natuurlik omdat dit geen getuienis aangehoor het nie. Hierdie fase verraai Caesar se motiewe reeds duidelik, en laat blyk dat hierdie inisiatief bloot nog 'n item van sy program in sy strewe na mag was. Cicero se verskyning in die saak was in die eerste plek die gevolg van hierdie uitspraak en 'n daaropvolgende ooreenkoms, glo ek, tussen hom en die vervolging wat hom in staat sou stel om sy begeerde beleidstoespraak in verband met die dreigende Catilinariese opstand te maak. Op hulle beurt moes die vervolging probeer om aan 'n baie onbehaaglike situasie te ontkom. Na die onverwagte tersydestelling van die duumviri se uitspraak deur Cicero moes hulle óf 'n neerlaag erken óf die beskuldigde wederregtelik teregstel. Die inbring van 'n ooreenkoms is 'n nuwe poging ter verklaring met, na ek hoop, allerlei ander konsekwensies vir die rekonstruksie van die onsekere verloop van die saak en selfs vir die doel en betekenis. Ingevolge hierdie ooreenkoms kon Titus Labienus in sy hoedanigheid as tribuun die swak saak dus wel de novo aanhangig maak en wel voor die Comitia Curiata. Hier was dus geen appél en ook geen blote veto en heropname van die saak nie, en die populêre opvatting wat die saak in die Concilium Plebis 'n draai laat maak, vind ons onaanvaarbaar. Na die duumviri-fase en Cicero se betrokkenheid wat tot 'n ooreenkoms gelei het, volg daar slegs die Comitia Centuriata-fase. Daar was wat die uitslag betref, geen wenner of verloorder en geen frontale botsing tussen Cicero en Caesar nie, maar die saak het ingrypende gevolge gehad, eerstens vir die verswakkende verhouding tussen die twee eintlike hooffigure, naamlik Caesar en Cicero. Eersgenoemde beleef nou sy inisiatiefryke hoogtepunt wat toenemend 'n outokratiese patroon vertoon, laasgenoemde se politieke hoogtepunt (konsulskap) is agter die rug, maar hy word, nou sonder amp, die groot verdediger van sy aristokratiese republiek. Hierdie geskrifte word 'n blywende nalatenskap vir die Weste veral, daar waar hierdie ideaal steeds gekoester is. As albei byna gelyktydig van die toneel verdwyn, volg 'n baie onbestendige tydperk waarin Keiser Augustus 'n konsoliderende, bestendigende rol vervul. Ons meen dat hy hom in 'n belangrike mate, sy dit binne die perke van omgekrapte realiteite, aan gedagtes van Cicero gesteur het. Hy haalook die beste uit die ander kamp by! Na Augustus bly Tiberius na die vorm binne die patroon van Augustus, na die gees, onder andere wat die rol van die hof betref, is hy myns insiens nader aan Caesar. Die twee se voorbeelde, duideliker sedert die pro Rabirio en sy onmiddellike nasleep, bly wisselend naleef met Caesar meer en meer op die voorgrond in die Romeinse Ryk. Die republikeinse en Cicero se komponent word in die tyd meer en meer spookbeelde. Cicero sou eers later weer tot sy reg kom. Hy was dan ook die meer blywende, die man van beginsel teenoor Caesar as die pragmatis en instrumentalis, die man van die daad maar van die kortstondige. Hierdie hofsaak is natuurlik nie die enigste faktor wat hierdie teenstelling gevoed en sigbaar gemaak het nie, maar wel 'n beduidende,en heel vroeë faktor in die proses wat ander probleemterrein kruis en op die wyse verrassende dieptedimensies ontwikkel, dimensies waaruit ook groter sekerheid kom in die duiding van allerlei verbandhoudende probleme. Dis bonusse, ook metodologies gesproke.
Description
Keywords
Cicero, Marcus Tullius. Pro C. Rabirio perduellionis reo, Speeches, addresses, etc., Latin, Speeches, addresses, etc., Thesis (D.Litt. (Latin))--University of the Free State, 1983
Citation