Opleiding van voedseldienspersoneel by hospitale in die Oranje-Vrystaat

Loading...
Thumbnail Image
Date
1979-03
Authors
Cronje, Hennie Lodewia Jacoba
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die opleiding van personeel by enige instelling behoort hoog op die prioriteitslys van maatreëls vir die bevordering van doeltreffendheid te verskyn. Opleiding van personeel het nie slegs ten doel om funksionele bekwaamhede te verbreed nie, maar ook om die doelwite van die instelling op 'n effektiewe wyse na te streef. Alhoewel voor-indiensopleiding van groot belang is om in die behoefte aan kundige personeel te voorsien is indiensopleiding van ewe groot belang om die verkryging van groter vaardigheid te bevorder. Dit is nie altyd moontlik om deur formele opleidingsprogramme, wat by opvoedkundige instellings aangebied word, in die behoeftes aan geskoolde personeel van die private sowel as van die openbare instellings in alle opsigte te voldoen nie. Daarom is dit belangrik dat die vaardighede van personeel deur formele en informele indiensopleiding vergroot word. Tegnologiese ontwikkeling het meegebring dat voedseldiensadministrasie, (waarby die voorsiening, voorbereiding en bediening van voedsel ingesluit is) besig is om fundamentele veranderings te ondergaan. Hierdie toedrag van sake het onder andere meegebring dat die organisatoriese reëlings vir voedseldiensadministrasie veral by groter hospitale (hospitale met meer as 500 beddens), aanpassings moes ondergaan en dat in sommige opsigte geheel en al nuwe maatreëls vir voedseldiensadministrasie getref moes word. Die spesialiteitsaard van hospitaalvoedseldienste het daartoe gelei dat nuwe vereistes vir die opleiding van voedseldienspersoneel ontstaan het. Daar moes byvoorbeeld in meer as een opsig splinternuwe reëlings getref word vir die vaardigmaking van voedseldienspersoneel om die moderne instellings vir voedselbereiding vir die hospitale in Bloemfontein te beman. Die bediening van voedsel by sekere hospitale in Bloemfontein moes noodwendig ook gemoderniseer word. Daar sal in hierdie geskrif verduidelik word dat die voedseladministratsie in veral die groter hospitale, sodanig gemoderniseer is en nog steeds ontwikkel word, dat nuwe vereistes vir die opleiding van personeel gestel word. Daar sal ook beklemtoon word dat tydige stappe gedoen sal moet word om te verseker dat die verwagte verdere sofistikering van voedseldienslewering nie deur 'n gebrek aan vaardige personeel aan bande gelê word nie. Voorgaande dui op die noodsaaklikheid vir 'n beleid vir die opleiding en ontwikkeling van hospitaalvoedseldienspersoneel. Tegnologiese ontwikkeling op die onderhawige terrein vind voortdurend plaas en soos verwag kan word, sal die benutting van die resultate, wat met tegnologiese ontwikkeling behaal word, algaan nuwe en hoër vereistes aan die vaardighede van voedseldienspersoneel stel. Dit bring mee dat die voornoemde beleid ook van tyd tot tyd aangepas sal moet word. 'n Beleid vir die opleiding van personeel behoort sover as moontlik rekening te hou met die teoretiese grondslae wat met verloop van tyd ontwikkel en verfyn is. Hierdie grondslae of rigsnoere vir opleiding vind hoofsaaklik hul beslag in empiriese waarnemings wat oor jare in die praktyk gemaak is. 'n Bespreking van die opleiding en ontwikkeling van voedseldienspersoneel moet, in die lig van die voorgaande, rekening hou met die teoretiese grondslae. Laasgenoemde moet die verwysingsraamwerk voorsien waarbinne die institusionele reëlings vir opleiding en ontwikkeling van die betrokke personeel daargestel word.
Description
Keywords
Dissertation (M.P.A. (Public Administration and Management))--University of the Free State, 1979, Hospitals -- Food service, Hospitals --Staff -- In-service training
Citation