'n Ondersoek na die verband tussen verskillende tipes van sportbeoefening en die sosiale ontwikkeling gedurende die middelkinderjare

Loading...
Thumbnail Image
Date
1990
Authors
Kok, Len Christiaan
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: In die eerste hoofstuk is daar gewys op die belangrike funksie wat sport in die totale ontwikkeling van menswees vervul asook die feit dat die middelkinderjare 'n kritieke fase by die ontwikkeling van 'n mens, veral op die gebied van sosialisering, is. Die vraag na die uitwerking van vroeë sportspesialisasie op die sosiale ontwikkeling van die kind gedurende die middelkinderjare, het dan tot hierdie projek aanleiding gegee. Die oorhoofse doelstelling van hierdie navorsingsprojek is om bespreking te wy aan die verwante literatuur in hierdie verband. Die doelstelling met die empiriese gedeelte van hierdie navorsingsprojek is om vas te stel watter uitwerking deelname aan sport, op individuele en gespesialiseerde vlak, op die ontwikkeling van die kind, met besondere verwysing na die sosiale ontwikkeling, kan hê. In hoofstuk twee is na die aard, asook die verskillende lewensfases en terreine van menslike ontwikkeling gekyk. Wat die aard van menslike ontwikkeling betref, is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die bestudering van menslike ontwikkeling meer behels as slegs die beskrywing van die lewensloop van die mens. In die bespreking van die lewensfases en terreine van menslike ontwikkeling, is aandag gegee aan elke lewensfase vanaf die neonatale fase tot die fase van bejaardheid. Die terreine van fisiese, kognitiewe en psigososiale ontwikkeling is telkens bespreek. Hier word opnuut besef hoe belangrik normale ontwikkeling tydens elke ontwikkelingsfase in die lewensloop van die mens vir daaropvolgende ontwikkeling is. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die middelkinderjare die fase in die ontwikkeling van die kind is wat gekenmerk word deur relatiewe rustigheid. Dit gun die kind genoeg tyd ter voorbereiding vir die stormagtige jare van adolessensie en is ook die fase waarin 'n stewige fondament vir verdere ontwikkeling tot en met bejaardheid gelê behoort te word. Die sosiale ontwikkeling van die kind gedurende die middelkinderjare is vervolgens in hoofstuk drie hanteer. Die kind bereik gedurende hierdie fase skoolgaande ouderdom en sy kontak met ander kinders en volwassenes verbreed aansienlik. Op sosiale gebied vind vinnige ontwikkeling plaas veral op die volgende gebiede, naamlik selfkonsepontwikkeling, die begrip van sosiale orde en sosiale waarneming, die invloed van die gesin, die invloed van die skool, die invloed van die portuurgroep asook die oorgang na adolessensie. Elk van hierdie fasette is in meer besonderhede in die derde hoofstuk bespreek. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat die kind gedurende hierdie fase eerstens vra wie hy self is en daarna waar hy in die samelewing inpas. Die antwoorde wat hy op hierdie vrae kry, sal in 'n groot mate bepaal hoe goed of hoe swak sy sosiale ontwikkeling oor die res van hierdie fase verloop. Hy beweeg gewoonlik nou na 'n groter mate van altruïsme en begrip vir ander mense, terwyl hy verder begin om sosiaal aanvaarbare houdings en waardes aan te leer. Die belangrike rol wat ouers, die skool en die portuurgroep op die sosiale ontwikkeling van die kind uitoefen, word ook opnuut besef. Ter afsluiting is die oorgang vanaf die middelkinderjare na adolessensie en die gepaardgaande verandering in sosiale aktiwiteite hanteer, waarna in die vierdie hoofstuk bespreking gewy is aan die tweede belangrike faset van hierdie projek, naamlik sport - die aard en eienskappe daarvan en die daarmee gepaardgaande doelstellings. In die vierde hoofstuk is daar eerstens aan verskeie definisies van sport aandag gegee. Die uiteenlopende fasette wat deur verskeie skrywers in hul definisies van sport aangeraak word, word verder duidelik wanneer die verskillende eienskappe aan sport toegedig, bespreek word. Eienskappe soos vryheid tot deelname, tydruimtelike beperking, onsekerheid oor die uitslag met die aanvang van die wedstryd, onproduktiwiteit en die regulering van die spel deur reëls, is maar sommige van die eienskappe van sport wat bespreek word. So is daar ook verskeie betekenisse wat aan sport gekoppel kan word, naamlik die strewe na voortreflikheid, dominering en superioriteit, die definiëring van persoonlike grense, die waag van kanse, uitdrukking, sport as middel tot selfverwesenliking, sport as basis vir 'n kreatiewe lewe, sport as spel, sport as estetiese verskynsel, sportas middel tot etiese opleiding, sport as model vir die presterende samelewing, sport as kompensasiemiddel waarmee aanpassings gemaak kan word vir lewensomstandighede in 'n nywerheidswêreld en sport as 'n sisteem van tekens. Dit was vervolgens in hoofstuk vyf nodig om 'n koppeling tussen menslike ontwikkeling en sport te maak en dan veral te kyk na die uitwerking van gespesialiseerde deelname aan sport op menslike ontwikkeling, met die klem op veral die ontwikkeling van die kind gedurende die middelkinderjare. In hierdie vyfde hoofstuk is gereedheidvir kompeterende deelname eerstens in besonderhede bespreek. Daar is vervolgens aan vroeë sportspesialisasie, die doel met en beginsels van vroeë sportspesialisasie, die implikasies daarvan, die vraag ofvroeë sportspesialisasie reg of verkeerd is, wanneer kinders moet begin spesialiseer en wie moet spesialiseer, aandag gegee. Ter afsluiting van hierdie hoofstuk is bespreking gewy aan 'n ontwikkelingsperspektief om kinders betrokke by sport te bestudeer. Dit is 'n baie belangrike nuwe rigting wat vir toekomstige navorsing aangedui word. Die feit dat ontwikkelings- en kognitiewe ontwikkelingsaspekte by navorsing van kindergedrag op sportgebied inaggeneem word, is 'n belangrike faktor wat sodanige navorsing se resultate aansienlik meer betroubaar en bruikbaar kan maak. Dit gaan die navorser ook in staat stel om uiteindelik tot groter begrip van die kind wat hy bestudeer te kom. Riglyne oor hoe sodanige studie uitgevoer behoort te word, word ook kortliks uiteengesit. In die sesde hoofstuk is bespreking gevoer oor die metode van ondersoek wat tydens die empiriese gedeelte van hierdie projek gevolg is. Die volgende nul- en alternatiewe hipoteses is gestel: H0 : Daar is geen beduidende verskille in die vektorgemiddeldes van kinders wat gedurende die middelkinderjare aan spansporte deelneem en dié wat op gespesialiseerde vlak aan individuele sportsoorte deelneem, ten opsigte van hulle tellings op die subskale van die lVV nie. H1 : Daar is wel beduidende verskille in die vektorgemiddeldes van kinders wat gedurende die middelkinderjare aan spansporte deelneem en dié wat op gespesialiseerde vlak aan individuele sportsoorte deelneem, ten opsigte van hulle tellings op die subskale van die lVV. Die verskillende fasette onder bespreking was die samestelling van die ondersoekgroep, die veranderlikes en meetinstrumente (lVV), die hipotesestelling en ontledingsprosedure en die bespreking van die navorsingsresultate. Geen beduidende verskille betreffende die ondersoekgroep se gemiddelde aanpassingstellings is vir die twee onderskeie subgroepe (pro en nie-pro) gevind nie waar dit onderskeidelik volgens geslag en die skool wat deur hulle bygewoon is, ontleed is. Moontlike oorsake ter verklaring van die feit dat geen beduidende resultate verkry is nie, is laastens bespreek. Aangesien verskeie faktore soos onder andere die kind se seltbeeld, sosiale waarneming, gesin van oorsprong, gesin, skool en portuurgroep 'n effek op die kind se sosiale ontwikkeling uitoefen, is tot die gevolgtrekking gekom dat verdere navorsing op hierdie gebied noodsaaklik is alvorens 'n finale uitspraak in verband met die uitwerking van individuele en gespesialiseerde deelname aan sport gedurende die middelkinderjare op die sosiale ontwikkeling van die kind, gelewer kan word.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Psychology))--University of the Free State, 1990, Sports for children, Physical education for children
Citation