Doctoral Degrees (History)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (History) by Author "Kriel, Johannes David"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Emily Hobhouse en die naweë van die Anglo-Boereoorlog. 'n studie van altruisme en pasifisme(University of the Free State, 1956-09) Kriel, Johannes David; Uys, C. J.Afrikaans: Die besluit om 'n aspek van Emily Hobhouse se lewe en werk as proefskrif aan te bied, is deur 'n tweeledige doelstelling bepaal. Eerstens, om te verhoed dat die veelbewoë geskiedenis van hierdie groot vrouefiguur tot vergetelheid sal verval; tweedens, om die aangrypende en afgryslike verhaal van die konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog en die naweë van die stryd objektief voor te stel. Die biografiese besonderhede wat benadruk word, behoort m.i. ook nuwe lig te werp op die milieu en geslag deur Emily Hobhouse verteenwoordig. Sy het inderdaad in 'n tydperk swanger aan aangrypende gebeurtenisse geleef:Oorloë en hongersnood; epidemies en verwoesting; inflasie, emigrasie en ekonomiese insinking. Daarbenewens het sy ook die ontstaan van die massa-ideologieë van die twintigste eeu aanskou: Imperialisme in Brittanje, fascisme in Italië, nasionaal-sosialisme in Duitsland, kommunisme in Rusland en nasionalisme in Suid-Afrika. Terselfdertyd was sy ook tweemaal persoonlik ooggetuie van die verval van beskaafde volkere tot oorlog, en barbarisme. Dwarsdeur die donker tydkperk van geestelike en sedelike verval waarin Emily Hobhouse geleef het, loop haar lewe soos 'n silwerdraad. Die dramatiese in haar loopbaan is geleë in die stryd tussen lig en duisternis - die tweekamp enersyds, tussen haar eie Godgerigte lewenswandel en andersyds, die ontaarde wanskapenheid van die mens in oorlogstyd. Wat haar persoonlike lewe betref, het ek dit my nie ten doel gestel om 'n biografie in die gewone sin van die woord te lewer nie; ek het slegs die suiwer-menslike eienskappe wat rigting gegee het aan haar werk as altruïs, pasifis en maatskaplike hervormer beklemtoon. Sonder afbreek aan Ruth Fry en Annette Terblanche se werkies oor die gevierde "meisie van Engeland" te probeer doen, om dit my voor as of daardeur weinig lig op Emily Hobhouse se werklike historiese belangrikheid gewerp word. Daarom het ek onderneem om 'n gedokumenteerde studie oor juis hierdie aspek van haar lewe die lig te laat sien. 'n Doelbewuste poging is aangewend om haar plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nader te bepaal. Die nuwe stof wat gebruik word, behels o.m. Emily Hobhouse se eie ongepubliseerde herinneringe, die omvattende Steyn-versameling, w.o. talle koerantberigte, asook nuusberigte uit die Leyds-, Preller- en Fisher-versamelings. Die hoofstukke "Verskroeide Aarde"-beleid en "Die Doodsengel Wink" is oorspronklik geskryf en deur my promotor gelees voor die verskyning van dr. J. C. Otto se proefskrif, "Die Konsentrasiekampe" (1954). Dr. Otto het hom hoofsaaklik verlaat op bronne in die Transvaalse Argief; hy benadruk gevolglik die Transvaalse sy van die hele aangeleentheid. Omdat dit my bedoeling en oogmerk was om veral die Vrystaatse kampe, deur Emily Hobhouse self besoek, te bespreek, het ek besluit om genoemde hoofstukke in hierdie proefskrif te behou al het dr. Otto dieselfde veld gedeeltelik gedek. Dr. Otto het ook nie Emily Hobhouse se aandeel aan die uiteindelike verbetering van die kampe aangetoon nie, omdat dit nie binne die bestek van sy verhandeling geval het nie. Dieselfde geld vir die opruiming van die kampe wat in hierdie werk - sover my bekend - vir die eerste keer behandel word. Vir hierdie hoofstukke is hoofsaaklik geput uit die Steynversameling, kontemporêre publikasies en amptelike stukke. Die sgn. "Repatriation Muddle" word slegs terloops deur skrywers soos G. B. Beak, W. Worsfold e.a. vermeld. Sover my bekend is nog nooit tevore getrag om die onderwerp volledig as 'n losstaande geheel te skets nie. Om die rede het ek onderneem om dit wetenskaplik as agtergrond vir die hooftema, Emily Hobhouse te behandel. Ek vertrou dat ek in my doel geslaag het en wel iets nuuts tot die histiografie van Suid-Afrika bygedra het.