Doctoral Degrees (Public Administration and Management)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Public Administration and Management) by Author "Laubscher, Laetitia Hendrina"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Finansiële beheer en verantwoording by plaaslike owerhede in Suid-Afrika(University of the Free State, Nov-07) Laubscher, Laetitia Hendrina; Van Straaten, F. P.; Kroukamp, H. J.Afrikaans: Munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika verkeer tans onder druk weens beweringe oor gebrekkige finansiële beheer en verantwoording wat aanleiding gee tot omvangryke korrupsie en finansiële wanbestuur met nadelige gevolge vir effektiewe en doeltreffende goedere- en dienslewering aan die ingesetenes. Derhalwe is dit van kardinale belang dat indringende aandag aan die bewerkstelliging van effektiewe en doeltreffende finansiële beheer en verantwoording by munisipaliteite geskenk sal word. Finansiële beheer en verantwoording is beslis een van die belangrikste faktore wat die sukses of mislukking van plaaslike regering in die Republiek van Suid-Afrika kan bepaal. Finansiële beheer en verantwoording dien as belangrike boustene vir ‘n demokrasie wat op effektiewe en doeltreffende munisipale regering en administrasie aanspraak wil maak. Finansiële beheer impliseer dat, op ‘n volgehoue wyse, ‘n wakende oog gehou moet word oor die wyse waarop geld bestee gaan word, bestee word en bestee is, met die oog op verslaggewing deur ‘n munisipale raad aan die ingesetenes van die betrokke dorp of stad. Om in staat te wees om rekenskap aan die ingesetenes te gee oor die handelinge van munisipale funksionarisse, is dit van kardinale belang dat ‘n raad voortreflike beheer oor die werksaamhede van die amptenare moet uitoefen. Voortreflike finansiële beheer en verantwoording sal bydra om ‘n positiewe gees van vertroue by die ingesetenes van ‘n dorp of stad tot gevolg te hê. Verantwoording dui inderdaad op ‘n verantwoordelikheid wat deur almal wat gesag uitoefen, aanvaar moet word. Dit impliseer dat rekenskap gegee moet word vir die wyse waarop die verantwoordelikheid wat opgelê is, aan uitvoering gegee word. Finansiële beheer en verantwoording by munisipaliteite het as vername doelstelling rekenskapgewing oor die besteding van geld in die openbaar. Die belastingbetaler moet byvoorbeeld in staat gestel word om te kan bepaal of die geld wat by wyse van begroting beskikbaar gestel is vir daardie doeleindes aangewend is en of die voortsetting van bepaalde goedere- en dienslewering in die lig van die skaarsheid van geld en die kompleksiteit van die behoeftes wat daarmee gepaard gaan, nog geregverdigd is. Statutêre finansiële beheer op plaaslike regeringsvlak bestaan uit twee komponente, te wete ‘n eksterne komponent (voorbereiding van begrotings; beheer oor lenings, besteding, inkomste en eksterne ouditering) en ‘n interne komponent (interne ouditering, verslaggewing, etiese gedragskodes en finansiële regulasies) waardeur bepaal kan word of geld vir goedgekeurde programme doeltreffend en effektief gespandeer word en of die plaaslike gemeenskap waarde-vir- geld vir hulle bydraes ontvang. Verskeie vraagstukke bemoeilik egter tans die uitoefening van effektiewe en doeltreffende finansiële beheer en verantwoording by munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika. Hierdie vraagstukke sluit onder meer ‘n gebrek aan kundigheid, onvermoë om agterstallige skulde in te vorder, omvangryke korrupsie en buitensporige salarisse en bonusse in. Om hierdie vraagstukke te oorbrug, is dit noodsaaklik om as basiese vertrekpunt bepaalde etiese norme en waardes daar te stel. Etiek hou verband met die beoordeling van bepaalde vorme van menslike gedrag of besluite om te bepaal of dit wat onderneem word of wil word, reg of verkeerd, goed of sleg of aanvaarbaar of onaanvaarbaar vir die ingesetenes van die betrokke dorp of stad sal wees. Etiese gedrag en die vasklewing aan waardes kan munisipale raadslede en amptenare ontmoedig om by korrupte aktiwiteite by munisipaliteite betrokke te raak. ‘n Nuwe positiewe verwikkeling op plaaslike regeringsvlak in die Republiek van Suid-Afrika is die implementering van Munisipale Openbare Rekeninge Komitees in Gautengse munisipaliteite ten einde aanspreeklikheid op plaaslike regeringsvlak te kan afdwing. ‘n Munisipale Openbare Rekeninge Komitee is ‘n komitee van ‘n munisipale raad wat deur ‘n munisipale raad aangestel word om finansiële aangeleenthede te ondersoek en aan die raad oor hulle bevindinge verslag te doen. Die media kan ook ‘n noodsaaklike rol vervul in die funksies van hierdie komitee(s), aangesien hulle die ingesetenes op hoogte moet hou oor aangeleenthede wat deur die komitee(s) ondersoek word. Die effektiewe en doeltreffende toepassing van finansiële beheermaatreëls en die afdwing van openbare verantwoording kan egter die voorvalle van korrupsie en finansiële wanbestuur by munisipaliteite aansienlik verminder. Dit dien derhalwe as ‘n waarborg vir voortreflike munisipale finansiële bestuur en kan sodoende bydra om die openbare belang te bevorder – die fundamentele doelwit van demokratiese plaaslike regering en bestuur.