Finansiële beheer en verantwoording by plaaslike owerhede in Suid-Afrika
Loading...
Date
Authors
Laubscher, Laetitia Hendrina
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Munisipaliteite in die Republiek van Suid-Afrika verkeer tans onder druk
weens beweringe oor gebrekkige finansiële beheer en verantwoording wat
aanleiding gee tot omvangryke korrupsie en finansiële wanbestuur met
nadelige gevolge vir effektiewe en doeltreffende goedere- en dienslewering
aan die ingesetenes. Derhalwe is dit van kardinale belang dat indringende
aandag aan die bewerkstelliging van effektiewe en doeltreffende finansiële
beheer en verantwoording by munisipaliteite geskenk sal word.
Finansiële beheer en verantwoording is beslis een van die belangrikste
faktore wat die sukses of mislukking van plaaslike regering in die Republiek
van Suid-Afrika kan bepaal. Finansiële beheer en verantwoording dien as
belangrike boustene vir ‘n demokrasie wat op effektiewe en doeltreffende
munisipale regering en administrasie aanspraak wil maak.
Finansiële beheer impliseer dat, op ‘n volgehoue wyse, ‘n wakende oog
gehou moet word oor die wyse waarop geld bestee gaan word, bestee word
en bestee is, met die oog op verslaggewing deur ‘n munisipale raad aan die
ingesetenes van die betrokke dorp of stad. Om in staat te wees om
rekenskap aan die ingesetenes te gee oor die handelinge van munisipale
funksionarisse, is dit van kardinale belang dat ‘n raad voortreflike beheer oor
die werksaamhede van die amptenare moet uitoefen. Voortreflike finansiële
beheer en verantwoording sal bydra om ‘n positiewe gees van vertroue by
die ingesetenes van ‘n dorp of stad tot gevolg te hê. Verantwoording dui
inderdaad op ‘n verantwoordelikheid wat deur almal wat gesag uitoefen,
aanvaar moet word. Dit impliseer dat rekenskap gegee moet word vir die
wyse waarop die verantwoordelikheid wat opgelê is, aan uitvoering gegee
word.
Finansiële beheer en verantwoording by munisipaliteite het as vername
doelstelling rekenskapgewing oor die besteding van geld in die openbaar. Die
belastingbetaler moet byvoorbeeld in staat gestel word om te kan bepaal of die geld wat by wyse van begroting beskikbaar gestel is vir daardie
doeleindes aangewend is en of die voortsetting van bepaalde goedere- en
dienslewering in die lig van die skaarsheid van geld en die kompleksiteit van
die behoeftes wat daarmee gepaard gaan, nog geregverdigd is.
Statutêre finansiële beheer op plaaslike regeringsvlak bestaan uit twee
komponente, te wete ‘n eksterne komponent (voorbereiding van begrotings;
beheer oor lenings, besteding, inkomste en eksterne ouditering) en ‘n interne
komponent (interne ouditering, verslaggewing, etiese gedragskodes en
finansiële regulasies) waardeur bepaal kan word of geld vir goedgekeurde
programme doeltreffend en effektief gespandeer word en of die plaaslike
gemeenskap waarde-vir- geld vir hulle bydraes ontvang.
Verskeie vraagstukke bemoeilik egter tans die uitoefening van effektiewe en
doeltreffende finansiële beheer en verantwoording by munisipaliteite in die
Republiek van Suid-Afrika. Hierdie vraagstukke sluit onder meer ‘n gebrek
aan kundigheid, onvermoë om agterstallige skulde in te vorder, omvangryke
korrupsie en buitensporige salarisse en bonusse in. Om hierdie vraagstukke
te oorbrug, is dit noodsaaklik om as basiese vertrekpunt bepaalde etiese
norme en waardes daar te stel. Etiek hou verband met die beoordeling van
bepaalde vorme van menslike gedrag of besluite om te bepaal of dit wat
onderneem word of wil word, reg of verkeerd, goed of sleg of aanvaarbaar of
onaanvaarbaar vir die ingesetenes van die betrokke dorp of stad sal wees.
Etiese gedrag en die vasklewing aan waardes kan munisipale raadslede en
amptenare ontmoedig om by korrupte aktiwiteite by munisipaliteite betrokke te
raak.
‘n Nuwe positiewe verwikkeling op plaaslike regeringsvlak in die Republiek
van Suid-Afrika is die implementering van Munisipale Openbare Rekeninge
Komitees in Gautengse munisipaliteite ten einde aanspreeklikheid op
plaaslike regeringsvlak te kan afdwing. ‘n Munisipale Openbare Rekeninge
Komitee is ‘n komitee van ‘n munisipale raad wat deur ‘n munisipale raad
aangestel word om finansiële aangeleenthede te ondersoek en aan die raad
oor hulle bevindinge verslag te doen. Die media kan ook ‘n noodsaaklike rol vervul in die funksies van hierdie komitee(s), aangesien hulle die
ingesetenes op hoogte moet hou oor aangeleenthede wat deur die komitee(s)
ondersoek word.
Die effektiewe en doeltreffende toepassing van finansiële beheermaatreëls en
die afdwing van openbare verantwoording kan egter die voorvalle van
korrupsie en finansiële wanbestuur by munisipaliteite aansienlik verminder.
Dit dien derhalwe as ‘n waarborg vir voortreflike munisipale finansiële bestuur
en kan sodoende bydra om die openbare belang te bevorder – die
fundamentele doelwit van demokratiese plaaslike regering en bestuur.
Description
Thesis (Ph.D. (Public Management))--University of the Free State, 2007