Die Britse blokhuisstelsel tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899 tot 1902
Loading...
Date
1996-11
Authors
Hattingh, Johannes Leon
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Tot dusver is nog geen grondige studie van die presiese aard, omvang, rol en betekenis van die Britse blokhuisstelsel tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gemaak nie. Hierdie studie poog om die leemte te vul. Ten einde die aanwending van blokhuise in Suid-Afrika in bree historiese perspektief te kan evalueer, word ter inleiding 'n historiese oorsig van soortgelyke en kontrasterende stelsels voor en na die Anglo-Boereoorlog gegee. Wat betref die redes vir die oprigting van die blokhuise in Suid-Afrika, was die primere rede die noodsaaklikheid om die belangrikste spoorbrue en -verbindings te beskerm. Met verloop van tyd en vanwee die gepaardgaande eskalering van die oorlog, het die blokhuise ook 'n rol as deel van die dryfjagte begin speel. Vanaf November 1901 tot Januarie 1902 is aansienlike vordering met die bou van blokhuislinies gemaak en teen Januarie 1902 was die meeste van die blokhuislinies voltooi. Veral twee hooftipes blokhuise is in Suid-Afrika opgerig. Die meerverdiepingblokhuise is van klip en sement gebou. Die ander hooftipe is van sink gebou. Die eerste sinkblokhuise het 'n reghoekige vorm gehad, waarna 'n verbetering op die blokhuise gevolg het in die vorm van 'n agtkantige blokhuis wat makliker was om op te rig. Namate die aanvraag na blokhuise toegeneem het, het maj. S.R. Rice (Royal Engineers) besef dat daar 'n behoefte ontstaan het vir 'n baie eenvoudige dog veilige blokhuis. So het die ronde Rice-tipe blokhuise hul beslag gekry. Verder is mobiele blokhuise op beperkte skaal gebruik. Tot November 1901 het blokhuislinies nie veel invloed op die gang van die oorlog gehad nie. Die Boerekommando's kon nog redelik maklik van een gebied na 'n ander beweeg. Blokhuise alleen het dus nie as genoegsame afskrikmiddel gedien om die Boere se pogings om deur te breek, te verhoed nie. Derhalwe is verskeie beskermingsmaatreels aangebring, insluitende doringdraadversperrings, alarmgewere en chemiese alarms. Die lewe in die blokhuise was een van eentonige reelmaat wat slegs verbreek is wanneer daar pogings aangewend is om deur die linies te breek. Wagstaan, voedselvoorbereiding en die versterking van die fortifikasie, was alles pligte waarmee die blokhuiswagte daagliks te doen gekry het. Teen die einde van die oorlog het nagenoeg 8 000 blokhuise die oorlogsgebied oor 'n afstand van ongeveer 6 000 km in kleiner gevegsblokke verdeel. Ongeveer 60 000 blanke soldate bet die blokbuise beman terwyl ongeveer 25 000 swart en bruin persone ook as wagte gebruik is. Die koste verbonde aan die oprigting van die blokhuise het ongeveer £1 000 000 beloop. Die Britse blokhuisstelsel was 'n duur dog gedwonge noodmaatreel wat die Britse Leerleiding getref het om die geografies-eskalerende guerrillastryd in hul guns te prober beklink. Die stelsel het uiteindelik 'n beduidende strategiese en taktiese rol gespeel en hoewel dit nooit die Boere geheel en al hokgeslaan het nie, het dit nogtans die kommando's se bewegingsvryheid in 'n mindere of meerdere mate aan bande gele. In hierdie verband was die “cross-country"-blokhuislinies in samewerking met die "New Model Drives" van besondere betekenis. Die blokhuisstelsel was egter nie die hoofrede waarom die meerderheid Boerebevelvoerders uiteindelik besluit het om hul ten gunste van die beeindiging van vyandelikhede, oorgawe en die verlies van onafhanklikbeid uitgespreek het nie. In die verband het faktore soos die verwoesting van die plase en die konsentrasiekamp beleid ook 'n rol gespeel. In die praktyk het die blokhuise egter in samehang met talle ander faktore, byvoorbeeld die dryfjagte, wel 'n rol gespeel in die vroee beeindiging van die oorlog, maar blokhuise op sigself sou nooit die oorlog vroeer laat beeindig het nie. Die boodskap was duidelik: alleen kon blokhuise nie 'n oorlog wen nie, maar in samehang met ander oorlogsmetodes, kon dit 'n beduidende rol speel ten opsigte van die uitkoms van 'n stryd.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (History))--University of the Free State, 1996, South African War, 1899-1902, Anglo-Boer War, Anglo-Boer War -- Blockhouses