Europees-historiese vormtaalelemente in die Nederduits-Gereformeerde kerkargitektuur van die Groot-Karoo
Loading...
Date
1978-01
Authors
De Waal, Lydia Magdalena
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: In die ondersoek na die Europees-historiese vormtaalelemente
in die Nederduits-Gereformeerde kerke van die Groot-Karoo en
omgewing is bevind dat dié kerke veral deel het aan die
herlewingstyle wat in die 19e eeu in Europa ontstaan het.
Dit was veral die neo-Gotiek, gebaseer op die hoogtepunt van
die Middeleeuse style, en die neo-Klassieke styl wat in die
Karookerke neerslag gevind het. Die voedingsbron van die
Suid-Afrikaanse variasies is hoofsaaklik die Dietse stamlande
en Engeland. Seker die volmaakste voorbeeld van die Engelse
Gotiek is die Grootkerk van Graaff-Reinet, gebaseer op die
katedraal van Salisbury in Engeland. Die Nederduits-Gereformeerde kerk op Cradock is op sy beurt weer 'n variasie van
die neo-klassieke St. Martin-in-the-Fields op Trafalgar
Square, Londen. In albei dié kerke is die onderskeie style
se vormtaalelemente gevarieer, met in eersgenoemde geval 'n
minder suksesvolle toepassing. Die oorvloedige gebruik van
sekere Gotiese elemente en detail soos fiale, sterk geprofileerde kroon- en druplyste en beeldhoukunstige dekorasie skep
byvoorbeeld aan die symure 'n bont effek. By Cradock se kerk
is die toepassing van neo-Klassisistiese elemente - 'n diep
portiek, groot pediment en Toskaanse suile - wat met 'n
Gotiese toring gekombineer word, baie geslaagd.
Wat 'n algemene beskouing van al die Karookerke wat besoek is
betref, was dit opvallend dat dié kerke in hulle situering
ook 'n Middeleeuse tendens vertoon.
Die kerk is op 'n groot plein geleë, direk langs die hoofstraat (Beaufort-Wes, Prins Albert, Murraysburg en Laingsburg) ,
of vorm 'n "eiland", sentraal in die dorp (Aberdeen en Hanover). In ander gevalle loop die hoofstraat teen die kerk
dood (Merweville en Colesberg). Verskeie graftombes kom
dikwels binne die kerkterrein voor, wat heenwys na die oud-Europese "kerkhof- rond- die - kerk"-idee.
Sprekend van bykans al die kerke is die hoë torings, reeds
wat die meeste Europese elemente vertoon, soos steunbere (Nederland), kantele (Engeland) en ander versieringselemente soos
fiale, spuwers en hogels wat by die meeste Europees-Gotiese
katedrale aangetref word.
Naas die torings is die Gotiese spitsboogvensters dié kerke
se grootste bate. Vele Karookerke spog met pragtige getraseerde vensters met byvoorbeeld tipiese Engelse drie- en
vierpasindelings, soos by Graaff-Reinet en Beaufort-Wes.
Ander kerke, byvoorbeeld dié op Steytlerville, Merweville en
Prins Albert, het weer goeie voorbeelde van oorsnydende
trasering.
Die meeste kerke is volgens die Latynse en Griekse grondplantipes gebou. 'n Voorbeeld van 'n oktogonale plan kom in die
Bo-Karoo by Colesberg voor.
Oordekking van die kerkruimte geskied deur die algemene hanebalk- en stutbalkstelseIs, wat veral tipies is van houtgewelwe
in die Engelse Gotiek. Kruisgewelfstelsels in hout, geïnspireer deur onder meer die Engelse Perpendicular Style, waarin die knobbel prominent oor die viering figureer, kom by
onder meer Beaufort-Wes en Graaff-Reinet voor. Die meeste
ander kerke het nie oop dakstoele nie, maar is deur plafonne
afgedek.
Die tradisionele Europese ruimte-indeling van die interieur
in hoofbeuk, sybeuke, transep en koor word nie volledig in
die Karookerke gevolg nie. Veral die koorgedeelte of sanetuarium van die Rooms-Katolieke kerk, ontbreek en word bloot
deur die konsistorieruimte vervang. In sommige kerke
(Murraysburg, Merweville, Aberdeen en Steytlerville) neem
groot dubbele kansels, soms terug in nisse geplaas, ook 'n
groot ruimte direk voor die konsistorie in beslag.
Die kansels wissel dikwels in vorm en grootte. Behalwe die
tribune-tipe, kom ook 'n goeie voorbeeld van 'n tipiese
Oos-Engelse kelkvormige kansel op Prins Albert voor. Beaufort-
Wes se kerk het op sy beurt 'n pragtige agthoekige kansel op
'n hoë voetstuk. Die kansels het gewoonlik ryklik versierde
klankborde waarin een of ander Gotiese motief wat in die interne dekorasie gebruik is, herhaal word.
In afwerking en dekorasie sowel aan die interieur as eksterieur
is die oorgrote meerderheid van die Karookerke wat besoek
is, baie eenvoudig. Die trasering van die vensters, pleister en
klipwerk verskaf die nodige dekorasie.
Hoewel dié kerke tog, afgesien van gemelde feite, weelderiger as die plattelandse Protestantse kerke van Nederland vertoon,
bly hulle in die geheel gesien sober in benadering.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. History of Art))--University of the Free State, 1978, Church architecture -- History, Church architecture -- South Africa -- Great Karoo