'n Ondersoek na die selfkonsep van die fisies gestremde leerling
Loading...
Date
1977-12
Authors
Vermeulen, J. W. A.
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die doel van die ondersoek was enersyds om die selfkonsep
van die fisies gestremde leerling te bepaal en andersyds om
te poog om vas te stel wat dié leerling se verhoudinge met
die verskillende aspekte van die Self is.
Met die literatuurstudie oor die begrip selfkonsep is indringende
ondersoek ingestel na die verskillende sienswyses
wat hieroor gehuldig word van persone soos Freud, Adler,
Erikson, Sullivan, Lewin, James, Combs, Snygg, Rogers,
Jersild en Felker. Deur sodanige ondersoek word die ontwikkelingsgang
van selfkonsepteorieë aangebied om 'n geheelbeeld
daar te stel van wat daar in die literatuur opgeteken
staan van hierdie belangrike begrip.
Elkeen van die bostaande dimensies word bepaal in terme
van drie aspekte, naamlik die proefpersoon se selfidentiteit,
dit wil sê wát hy is; tweedens sy aanvaarding van
daardie identiteit, en derdens sy persepsie van sy eie funksionering.
Voorts is 'n volledige bespreking gelewer oor
die wesenlike betekenis van die dimensies van die selfkonsep
en is die selfkonsep se verband met die kognitiewe struktuur
en persoonlikheidsorganisasie ook van nader ondersoek.
Om 'n ware greep te verkryoor die teoretiese konteks waarbinne
die Selfkonseptoets gebruik en begryp moet word, is
die leefwêreld van die adolessent ook beskryf en kon die
interpretasie van die gegewens verkry uit die ondersoek, binne
konteks geskied. In die empiriese ondersoek is van Vrey se
Selfkonseptoets asook 'n outentieke biografiese vraelys van
die skrywer gebruik gemaak.
Die aantal leerlinge wat in hierdie navorsing betrek is, word
in die volgende tabel aangegee (sien volteks).
Die populasie waaruit die steekproewe vir die ondersoek getrek
moes word, bestaan uit die Afrikaanssprekende leerlinge
op die Senior Sekondêre Skoolfase.
Die toepassing en nasien van die Selfkonsepinventaris en
biografiese vraelys, die struktuur, items en betroubaarheid
en geldigheid van die Selfkonseptoets is baie deeglik beskryf
en besondere moeite is gedoen om In duidelike beeld
van die statistiese ontwerp daar te stel.
By die tellings van die Selfkonseptoets is van die kritieke
verhoudingstoets gebruik gemaak om te bepaal of daar in beduidende
verskil bestaan tussen die selfkonseptellings van
die eksperimentele-en kontrolegroepe,terwyl die chi-kwadraattoets by die items van die biografiese vraelys toegepas is.
Die volgende bevindinge spruit uit hierdie ondersoek voort:
1. Die fisies gestremde leerling het In laer selfkonsep
as die normale leerling.
2. Die volgende verhoudinge van die fisies gestremde leerling
is ongesonder as dié van die normale leerling:
a. verhoudinge met sy psigiese gesteldheid -
sy persoonlike Self;
b. verhoudinge met die liggaamlike gesteldheid -
sy fisiese Self;
c. verhoudinge met sy gesin - sy gesinself;
d. verhoudinge met ander in die sosiale gemeenskap
sy sosiale Self;
e. verhoudinge met sedelike en godsdienstige waardes -
sy waardeself.
3. Geen betekenisvolle verskil kon tussen die twee
groepe gevind word betreffende die evaluatiewe
aspek van die selfkonsep nie.
Hierdie ondersoek het baie duidelik aangetoon dat dit
belangrik is om ruimte toe te ken aan die rol van die selfkonsep
in die begryping van die probleme van die fisies
gestremde leerling. Dit sal meebring dat hierdie leerling
raakgesien word vanuit sy eie verwysingsraamwerk en van
daaruit begryp moet word.
Description
Keywords
Dissertation (M.Ed. (Educational Psychology))--University of the Free State, 1977, Children with disabilities, Children with disabilities -- Education