Die invloed van pop-musiek op die skoolgaande Afrikaanssprekende jeug soos vasgestel by 'n groep senior leerlinge aan ses hoërskole van die Witwatersrand - 'n evaluering in Bybelkundige perspektief
Loading...
Date
1979-11
Authors
Steyn, Andries Adriaan
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die onmiskenbare en veelbesproke absolute feit van die tema
van hierdie verhandeling staan vir ons by voorbaat vas, soos
ook sal blyk uit die volgende hoofstukke.
In hierdie verhandeling sal uiteraard duidelik onderskei
moet word tussen die verskillende tipes pop-musiek, om nie
in simplistiese veralgemening te verval nie. Al die onderskeie
tipes word egter nie bespreek nie, maar net daardie
uitinge van pop-musiek wat op die oomblik baie relevant is
en populariteit onder die jeug geniet.
Die tema van die verhandeling dui op 'n christelik-prinsipiële
beoordeling van pop-musiek. Ons wil beklemtoon dat
'n beoordeling daarvan mank kan gaan aan diepgang indien
daar aprioristiese en oppervlakkige afwysings is van alles
wat in die breë as popmusiek bestempel word. Daarom trag
ons om so objektief as moontlik 'n regverdige beeld van
pop-musiek te gee al kom talle kritiese uitsprake uiteraard
na vore.
Om die literêre navorsing by die praktyk te laat aansluit,
en om te bepaal of die hipotese aanvaar of verwerp moet word,
is daar besluit om 'n vraelys oor pop-musiek saam te stel
en aan ses prominente Afrikaanse hoërskole aan die Witwatersrand
vir beantwoording te stuur. Dié ses hoërskole is gekies
omdat hulle binne en rondom Johannesburg gesentreerd is en die proefgroep 'n verteenwoordigende deel uitmaak van
Afrikaanse leerlinge in hierdie gebied wat in die brandpunt
staan vanwaar pop-musiek veral konsentreer op die jeug van
alle bevolkingsgroepe.
Nadat skriftelike magtiging van die Transvaalse Onderwysdepartement
verkry is vir die uitstuur van genoemde vraelyste
na die betrokke skole, is vier van die hoofde van
hierdie skole persoonlik genader om hul samewerking in dié
verband te verkry, terwyl die ander twee telefonies bereik
15. Volledige instruksies is by alle vraelyste ingesluit,
sodat die proefbeamptes ten volle op hoogte was van hoe
vraelyste beantwoord moes word.
'n Totaal van 310 vraelyste is uitgestuur en 'n buitengewone
terugvoering van een honderd persent is terug ontvang.
Hierdie sukses kan toegeskryf word aan die persoonlike belangstelling
van die betrokkenes by die onderwerp, en ook
moontlik aan die persoonlike toesig van die verantwoordelike
toesighouers wat die instruksies deeglik bestudeer en deurgevoer
het. Die nodige bedankingsbriewe is na terugontvangs
van die vraelyste aan die hoofde van dié betrokke hoërskole
gestuur.
Die vrae in die vraelyste is opgestel op so 'n wyse dat informasie
oor die volgende aspekte verkry kon word:
1. Trefkrag en invloed van pop-musiek.
2. Eienaarskap van musiekdraende items en geldelike uitgawes
daaraan verbonde.
3. Luistergewoontes.
4. Menings en houdings oor suggestiwiteit en dwelmmiddelverheerliking.
5. Waarde-oordele oor Christelike pop-musiek.
6. Pop-feeste en disko's.
Dit was belangrik om die vrae nie noodwendig so op te stel
dat die vrae die respondente in 'n sekere rigting "lei" nie
maar om slegs basiese informasie te verkry. By die ondersoek
is die vrae wat met mekaar verband hou, gegroepeer
om sodoende die nodige afleidings te kon voltrek.
'n Hipotese is soos volg geformuleer:
"Pop-musiek het nie 'n merkwaardige invloed·op die
Christelike Afrikaner-jeug van albei geslagte tussen
die ouderdomme 17 en 20 jaar nie".
Dis 'n hipotese waarvan ons oortuig was nie op grond van vae
intuisie nie, maar van die ondervinding met pop-musiek voor
hierdie ondersoek begin het. Dit is heel interessant dat
die meer gedetailleerde ondersoek hierdie hipotese bevestig,
eerstens wat betref gesaghebbende uitsprake en tweedens op
grond van die empiriese ondersoek. Daarmee is die negatiewe
opset en invloed van pop-musiek egter nie in die minste gerelativeer
nie.
Die logiese gang en opset van die verhandeling sal hoofsaaklik
soos volg daar uitsien:
1. Inleiding, doelstelling en hipotese.
2. Literatuurstudie.
3. Die ondersoek.
4. Kritiek, bespreking en aanbevelings.
Description
Keywords
Youth -- South Africa -- Religious life, Popular music, Dissertation (M.A. (Biblical Science))--University of the Free State, 1979