Die invloed van die goudmyne op die ekonomiese aktiwiteite van enkele dorpe aan die Oosrand vir die tydperk 1930 tot 1970
Loading...
Date
1979
Authors
Kriek, Henry Rudolph
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: 'n Stad kan as die ruimtelike konsentrasie van werkende
inwoners as gevolg van sekere ekonomiese aktiwiteite wat
plaasvind, omskryf word. In die substreek van Benoni,
Boksburg, Brakpan en Springs was goud die stimulerende
aktiwiteit wat kapitaalbeleggings en arbeid gelok het, en
waardeur verskeie belangrike markte totstand gekom het.
As gevolg daarvan dat die goudmynbedryf baie winsgewend
was, het verdere uitbreiiings voortdurend plaasgevind en was
terugwaartse en voorwaartse skakeleffekte voordelig vir
die ekonomie, veral in dié sin dat nywerhede totstand
gekom het om in die behoeftes van die goudmyne te kon
voorsien. Groter indiensneming het gevolg en die verdienstes
van die werknemers het 'nl groter vraag na verbruikersgoedere
geskep waardeur die betrokke markte en nywerhede gestimuleer
was. Hierdie kumulatiewe proses het hand aan hand gegaan
met die voordele verbonde aan skaalekonomieë.
Bewus van die feit dat die goudmynbedryf 'n verdwynende
bate is, het die Suid-Afrikaanse regering sedert 1925 met
'n doelbewuste beskermingsbeleid vir plaaslike nywerhede
voor die dag gekom. Dit, sowel as die voorspoedtydperk
wat op die goudmyne na die devaluasie van die Suid-
Afrikaanse pond op 31 Desember 1932 gewag het, het nywerheidsvestiging gestimuleer. Die invloed van die Tweede
Wêreldoorlog wat 'n skaarste aan, en gevolglik 'n prysstyging
van, verbruikersgoedere laat ontstaan het, was
'n verdere bydraende faktor tot industrialisasie. Ten
spyte daarvan dat die goudmyne in die substreek hul toppunt
in 1940 bereik het, het hulle toe alreeds lank genoeg
bestaan dat voortgesette streeks-ekonomiese groei, as gevolg
van die vermenigvuldiger effek, in die na-oorlogse jare
kon voortgaan. Die nywerheidsontwikkeling se bydrae het
met die verloop van tyd belangriker as dié van die kwynende
uitgewerkte myne se bydrae tot die substreek se groei geword.
Die goudmyne het egter nog die buitelandse valuta verdien
waarmee masjinerie, en soms ook grondstowwe, vir die fabrieke
aangekoop was.
Baie potensiële nyweraars het eers na die uitbreek van die
Tweede Wêreldoorlog van Suid-Afrika se nywerheidsmoontlikhede
bewus geword, en dit het 'n kumulatiewe effek gehad.
Nywerhede was meesal in bestaande dorpe gevestig en kon die
bestaande fasiliteite soos watertoevoer, elektriesekrag,
paaie, spoorlyne, riolering, behuising, ensovoorts, benut.
Fabriekswese is verder in die voorsiening van kapitaal deur
staatskorporasies aangehelp.
As gevolg van die goudmynbedryf het daar oor die jare 'n
groot verbruikersmark in die substreek totstand gekom.
Dit het veral fabrieke wat mark-georienteercle artikels
vervaardig, gelok. Ten spyte daarvan dat die goudmyne
algaande gesluit het, het daar geen ontvolking of werkloosheid
gevolg nie, omdat die nywerhede algaande meer werkgeleenthede
gebied net.
Die plaaslike owerhede van die dorpe in die substreek het
gunstige voorwaardes aan moontlike nyweraars gebied om
hulle te oorreed om hulle in die dorpe te kom vestig.
Hierdie aanmoediging het gunstige reaksie uitgelok en die
groei van die dorpe was algou nie meer van die goudmynbedryf
afhanklik nie. Dorpsontwikkeling in die vorm van nywerheidsgebiede
sowel as residensiëlegebiede het voortgeduur in ooreenstemming met die groter vraag daarna.
Die aanvanklike basiese kapitaalbeleggings in die goudmyne
van die substreek, sowel as die loonverdienste het as basis
gedien vir die ontstaan en ontwikkeling van die ekonomiese
aktiwiteite van die dorpe. Op grond hiervan, en die opbou
van die infrastruktuur gedurende die eerste fase van ontwikkeling,
het die industrialisasiefase makliker bereikbaar
geword veral as gevolg van die kumulatiewe effek wat dit op
markverruiming gehad het. Elke suksesvolle fase van
nywerheidsuitbreiding verhoog inkomste en die stedelike
bevolking, en dit stimuleer verdere uitbreiding. Die dorpe
moes dienste soos behuising, onderwys, water, elektriesekrag,
ensovoorts voorsien, en as gevolg van die vraag daarna, het
hulle bly groei.
Die waarde van hierdie studie lê daarin dat dit leiding
aan ander myndorpe kan gee met betrekking tot hul toekomstige,
groei en ontwikkeling.
Description
Dissertation (M.Com. (Economics))--University of the Free State, 1979
Keywords
Gold mines and mining -- South Africa, Economics