Ideologie en die kerk in Suid-Afrika
Loading...
Files
Date
Authors
Lubbe, Jan Johannes
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Die mens is 'n religieuse wese. Hy is 'n onlosmaaklik verbonde aan God, of aan dit wat hy as oorsprongsinstansie beskou. Vanuit dié verhouding antwoord hy op die sinvraag van die lewe, die vraag na oorsprong, sin en bestemming. Vanuit 'n herbore hart antwoord die Christen dat alles en almal uit, deur en tot God leef. Die afvallige hart kies egter vir iets uit die geskape werklikheid om die plek van God in te neem. Só word iets immanent verabsoluteer, en verloor die mens tegelyk sy beeldskap Gods en word die kultuuropdrag afvallig gepositiveer. Die ontwikkeling van Westerse denke ken veral drie sulke afvallige grondmotiewe wat telkens vanweë die verabsolutering in 'n dialektiese spanning verval.
Deur 'n proses van sekularisasie en die "God is dood"-tydsgees het die mens tot die skokkende besef van sy uitsiglose situasie gekom. Hy het met 'n ontnugtering ontdek dat hy op homself aangewese is vir selfbehoud, voorspoed, vrede, vryheid en veiligheid en veiligheid. Die mens moes voortaan die verwesenliking van hierdie ideale self verseker. Dit het aan sy pogings 'n fanatieke en desperate kleur gegee: Ideologieë het posgevat. 'n Ideologie is dus 'n afvallige religieuse idee-sisteem wat as antwoord op die mens se soeke na sinsekerheid, gerig is op 'n gewaande imanente oorsprong, en 'n totalitêre werklikheidsbeskouing konstitueer.
'n Ideologie ontstaan in 'n situasie van intense bedreiging. In só 'n situasie word 'n geregverdige ideaal ("legitimate goal") soos gesonde volksliefde, weerstand teen onderdrukking en uitbuiting, die versekering van vooruitgang en welvaart of nasionale sekuriteit, 'n allesbeheersende doel. As enigste absolute verkry hierdie doel 'n buitengewone mag wat sy aanhangers tot ekstremiteite mobiliseer. Die doel heilig gevolglik ook alle middele, en verdraai alle norme om eie optrede te regverdig. Verder teer 'n ideologie op 'n valse beeld van die werklikheid en skep dit 'n oënskynluke vyand. Dit kan alleen verseker word deur die aanhangers van die ideologie te isoleer en alle moontlikhede wat kontak met 'n "ander" werklikheid inhou, óf te verketter óf onwettig te verklaar. Ideologieë roep nie net teen-ideologieë op nie, maar sluit ook bymekaar aan om 'n "monstrous alliance" te vorm.
Die opvallendste kenmerk van 'n ideologie is die noue aansluiting wat dit by die konteks waaruit dit gekom het, vind. Daarom neig dit om in Suid-Afrikaanse konteks Christelik te vertoon. 'n Oorsig van die geskiedenis dui aan hoe dit wat aanvanklik as natuurlik waargeneem is, in vooroordele ontwikkel het en uiteindelik as absolutes die ganse Suid-Afrikaanse samelewing georden het: Wit en Swart, onderdrukker en onderdrukte. Die rol wat die kerk hierin gespeel het en steeds speel, het aan dit wat totaal vreemd aan die Bybelboodskap is, legitimiteit verleen. Dit is veral in die opvattings van Christene waar hierdie "verdraaide waarhede" diep gewortel het en met 'n verskeidenheid "Skrifbewyse" verdedig is. 'n Fundamentalistiese Skrifbeskouing, 'n yl hermeneutiek en 'n geslote teologiese model dra by tot die regverdigingsisteem van 'n ideologie.
Hierdie opvattings vind verder bestaansruimte binne 'n verskraalde koninkryksopvatting en 'n oorspanne kerksbeskouing. Beide die tradisionele Wit Teologie en die "nuwere" Teologie is nie net in hierdie opsig aan dieselfde fout skuldig nie, maar stem ook ooreen in die wyse waarop 'n Swart en 'n Wit Ideologie dit verkneg het.
Geen gesprek oor die eenheid van die kerk of eensgesindheid onder die burgers van die koninkryk, of oor versoening kan gevoer word alvorens die "ultimate commitments" van die gespreksgenote nie duidelik is nie. In die proses van ideologiese suiwering sal daar dus by die gronde van ons beskouings begin moet word, en sal ons Skrifbeskouing, hermeneutiek, teologie en kerkbeskouing uit verknegting bevry met word. Dit kan slegs realiseer wanneer die alleenreg op waarheid prysgegee word, wanneer ander mense as imago Dei aanvaar word, wanneer die naam "Christelik" gereserveerd gebruik word, en wanneer elkeen die ideaal van vrede onvoorwaardelik najaag.
