Customer's perceptions of business units within an agricultural business in South Africa
Loading...
Date
Authors
Alsemgeest, Liezel
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Die voordele van die bestuur van kliënteverhoudings bring kritieke faktore soos
kliëntetevredenheid en loyaliteit na vore. Klantetevredenheid is ʼn goednagevorste
bestuursaspek waarna al as “God, King and beyond” verwys is. Maatskappye se
oorlewing word deur klantetevredenheid en/of positiewe klantepersepsie bepaal omdat
die bestaan en groei van maatskappye van klante se herhaalde en toenemende
aankope op grond van positiewe gevoelens jeens die maatskappy afhang. Verder kan
klantetevredenheid die goeie reputasie van ʼn maatskappy uitbou en tot positiewe
persoonlike reklame lei wat weer nuwe klante kan lok.
Alhoewel die landbousakesektor ʼn belangrike middel tot landbouontwikkeling in Suid-
Afrika is, is navorsing oor klantetevredenheid by landbouverwanteklante skaars.
Landbouondernemings (voorheen bekend as koöperasies) is daarop geskoei dat hulle
deur samewerking tussen verskeie boere beter dienste en produkte teen verlaagde
pryse kan bekom wat waarde tot die boer op sy plaas kan toevoeg (boergesentreerd).
Koöperasies was ʼn lewensvatbare ondernemingsvorm tot en met 1996 toe die
Bemarkingsbeheerraad en gesubsidieerde rentekoerse afgeskaf is. Die meeste
landboukoöperasies is in beleggersgeoriënteerde firmas (BOF’s) omskep met die
hoofoogmerke winsgewendheid en die handhawing van waardeerbare aandeelpryse
(maatskappygesentreerd). Landbouondernemings is kompleks omdat die klante van ʼn
landbouonderneming ook in die meeste gevalle die aandeelhouers van die maatskappy
is. Landboumaatskappye dien ook ‘n nismark (boere) en die verhouding tussen die
onderneming en die klante verskil van diè van ander industrieë.
Tradisionele klantetevredenheidsnavorsing fokus op die gebruik van die SERVQUALmetode,
wat in der waarheid slegs dienskwaliteit toets. Hierdie studie stel dit ten doel
om die meetinstrument te vereenvoudig en ook ander klantetevredenheidsaandrywers
by te voeg, naamlik tevredenheid rakende prys, produk, personeel, diens en bestuur. ʼn
Landbouonderneming bestaan uit verskeie sake-eenhede wat as kleiner ondernemings
bestuur word en almal deel van die groter landbou “sambreel”-maatskappy uitmaak.
Die hoofoogmerke van hierdie studie is dus om die verhouding tussen die
klantetevredenheidsaandrywers (prys, produk, diens, personeel en bestuur) van die onderskeie sake-eenhede te bepaal en dit met die winsgewendheid van hierdie
eenhede in verband te bring; en om die impak van hierdie veranderlikes op
klantetevredenheid ten opsigte van die maatskappy te bepaal.
Die sekondêre empiriese doelwitte van die studie behels om te bepaal watter van die
klantetevredenheidsaandrywers die grootste impak op klantetevredenheid ten opsigte
van die algehele maatskappy het; watter van die sake-eenhede die grootste impak op
algehele tevredenheid het; of die gebruiksfrekwensie van die onderskeie sake-eenhede
die algehele tevredenheid met die landbouonderneming beïnvloed; en, laastens, of
klante se persepsie rakende die prestasie van die sake-eenhede ʼn invloed op
winsgewendheid het.
Die studie was kwantitatief van aard en het gebruik gemaak van vraelyste wat per
gewone pos na die algehele populasie (bestaande uit die lede van ʼn groot
landbouonderneming in Sentraal Suid-Afrika wat meer as R100 000 bydra tot die
omset van die landbouonderneming) gestuur is. Altesaam 963 vraelyste is uitgestuur
en 345 bruikbare vraelyste is teruggestuur. Die responskoers was dus 35,8%.
Die vernaamste resultate toon ʼn statisties beduidende verband tussen tevredenheid
ten opsigte van kleinhandelswinkels, versekering en meganisasie (werkswinkels) en
algehele klantetevredenheid – wat daarop dui dat om algehele klantetevredenheid te
verhoog, tevredenheid ten opsigte van hierdie drie sake-eenhede eerste aandag moet
geniet. Produk, diens en tevredenheid met bestuur het as
klantetevredenheidsaandrywers al drie ʼn statisties beduidende invloed op algehele
klantetevredenheid. Verder, toe die onderskeie aandrywers inherent aan die
onderskeie sake-eenhede teen algehele klantetevredenheid getoets is, het die
resultate getoon dat daar twee beduidende aandrywers inherent aan ʼn sake-eenheid
is, naamlik kleinhandelswinkelproduk en graanbemarkingsprys. Hierbenewens toon
statisties beduidende resultate dat die gebruiksfrekwensie van ʼn sake-eenheid die
mate van klantetevredenheid weerspieël (behalwe in die geval van
kleinhandelswinkels). Elke sake-eenheid se gemiddelde bydrae tot netto wins is oor ʼn
tydperk van vyf jaar bereken en met sy gemiddelde prestasie vergelyk. Die grafiek toon
ʼn definitiewe korrelasie tussen wins en klantetevredenheid.
Kleinhandelswinkels as ʼn sake-eenheid het interessante resultate opgelewer wat
aandui dat kleinhandelswinkelpryse, kleinhandelsproduk, kleinhandelswinkelpersoneel
en kleinhandelswinkeldiens die grootste impak op al die algehele
klantetevredenheidsaandrywers het. Hiervolgens beskou klante kleinhandelswinkels as
die “venster” van die landbouonderneming. Respondente is ook gevra om aan te dui
wat hulle as die hoofdoelwitte van die landbouonderneming beskou teenoor wat hulle
voel die doelwitte behoort te wees. Van groot belang was die beduidende resultate
waarvolgens bepaal is dat respondente die doelwitte as synde maatskappygesentreerd
waargeneem het, maar gevoel het dat die doelwitte boer-gesentreerd behoort te wees.
Daar word spesifiek aanbeveel dat kleinhandelswinkels verbeter word en dat die
beskikbaarheid en kwaliteit van kleinhandelswinkels verhoog word om
klantetevredenheid te maksimeer.
Description
Thesis (Ph.D.(Business Management))--University of the Free State, 2011