Verskille in werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel in 'n Suid-Afrikaanse diensorganisasie
Loading...
Files
Date
Authors
Pienaar, Jacobus Willem
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Showing abstract in Afrikaans
Afrikaans: Die doel van hierdie studie is om ondersoek in te stel na die verskil in voorkoms van
werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel
in 'n Suid-Afrikaanse diensorganisasie.
Uit 'n beskouing van stres-literatuur blyk dit dat stres, werkstres en psigiese
uitbranding nie net wêreldwyd nie, maar ook in Suid-Afrika aan die toeneem is. Dit
word deur finansiële, organisatoriese en menslike uitgawes verbonde aan stres,
werkstres en psigiese uitbranding, beklemtoon.
Veranderinge binne veral die Suid-Afrikaanse politieke- en ekonomiese arena het
daartoe bygedra dat Suid-Afrikaanse diensorganisasies genoodsaak word om 'n meer
verteenwoordigende werksmag daar te stel, wat daartoe lei dat daar, onder andere,
toenemend meer swart bestuurders in diens geneem word.
Aangesien daar vroeër in Suid-Afrika nie veel aandag geskenk is aan hoe die swart
bestuurder werkstres en psigiese uitbranding in vergelyking met sy blanke eweknie
ervaar nie, bestaan daar tans 'n beperkte aantal literatuur rakende die oorsake van
werkstres en psigiese uitbranding vir hierdie groep.
Daar is dus besluit om ondersoek in te stel na die verskille in werkstres en psigiese
uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel, ten einde 'n data
basis vir toekomstige navorsing daar te stel, asook om organisasies in staat te stel
om voorkomend op te tree.
In hierdie studie word stres en meer spesifiek werkstres, asook psigiese uitbranding
as vertrekpunt gebruik en as sistemiese verskynsels bespreek, ten einde aan die doel
van studie te kan beantwoord. Die invloed van ras op die belewing van stres,
werkstres en psigiese uitbranding word aan die hand van 'n multikulturele model van
stres beskryf en verklaar.
'n Populasiegrootte van 387 middelvlakbestuurspersoneel uit 'n Suid-Afrikaanse
diensorganisasie is as proefpersone by die studie ingesluit.
Van Zyl & Van der Walt (1991) se Werk- en- Lewensomstandighedevraelys is gebruik
om stresvlakke en bepaalde stressors te meet en Maslach se Uitbrandingsvraelys
(Maslach & Jackson, 1981a) is aangewend om die vlak van uitbranding te bepaal.
Statistiese verwerking van gegewens wat van die 387 vraelyste verkry is, is met
behulp van die SPSS rekenaarprogram (SPSS, 1993) gedoen. In hierdie skripsie
word daar van beide beskrywende- en inferensiële statistiek gebruik gemaak om aan
die daargestelde doelwit te voldoen, nadat daar getoets is of die inferensiële
statistiese metodes voldoen het aan die statistiese aannames onderliggend aan die
gebruik van hierdie metodes. T-toetse en kovariansie-analise is geëvalueer vir
gegroepeerde data ten einde beduidende verskille waar van toepassing tussen
groepe aan te toon.
Daar is statisties beduidende verskille in gemiddelde tellings ten opsigte van
werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel
gevind. Vanuit die resultate blyk dit dat die swart groep statisties
beduidend hoër tellings as die blanke groep op eksterne stressors, taakeienskappe,
loopbaanaangeleenthede, sosiale aangeleenthede en depersonalisasie as bronne
van stres, werkstres en psigiese uitbranding, behaal het. Die blanke groep
daarenteen het statisties beduidend hoër tellings op emosionele uitputting as
komponent van psigiese uitbranding as die swart groep, behaal.
Na die integrasie van die data is daar tot die gevolgtrekking gekom dat maatreëls om
werkstres en psigiese uitbranding by blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel
te voorkom op verskillende vlakke van die sisteem ingestel sal moet word.
Description
Dissertation (M.Soc.Sc. (Industrial Psychology))--University of the Free State, 1998