Harmoniese aspekte in die Spanisches Liederbuch van Hugo Wolf in 'n historiese perspektief

Loading...
Thumbnail Image
Date
1991-12
Authors
Van Aardt, Catharina
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die biologies-wetenskaplike begrip "evolusie" in die sin van ontwikkelende verandering word in geskrifte oor musiek op groot skaal aangetref, ook in toepassings op harmoniese idioom, en baie dikwels met subtiel verskillende konnotasies. Wolf word in hierdie verband deur 'n groot meerderheid sodanige skrywers beskryf as 'n skakel in wat hulle beskou as die evolusionêre verloop waaruit atonaliteit en musikale surrealisme ontstaan het, meesal met verwysing na sy hantering van toonsoortgesteldheid en dissonansie. Enkele skrywers verskil van hierdie siening, wat in die gepubliseerde literatuur oor die onderwerp nêrens deur die nodige gedetailleerde analise gemotiveer word nie en 'n sterk inaruk wek dat lukraak gekose individuele gevalle as algemeen-geldend gebruik word. Die verbandhoudende biologiese begrippe word in hierdie proefskrif as volg oorgeplaas op harmoniese idioom: "spontane" evolusie - aantoonbare aansluiting tussen idioom en geestelike inhoud gepaard met opname van die resultaat in toepaslike praktiese en teoretiese musiekkultuuraktiwiteite; "laboratorium-geïnduseerde" evolusie die gebrek aan een of meer van die genoemde voorwaardes in verband met spontane evolusie. Die Spanisches Liederbuch bevat die mees "gevorderde" harmoniese deviese in Wolf se musiek, in die sin dat hy in hierdie liedere die verste gaan in wat oor die algemeen as vervaging van toonsoort en individuele hantering van dissonansie beskou word. 'n Volledige gedetailleerde harmoniese analise is gedoen van al die liedere in hierdie bundel, asook van al die Goethe Lieder, en verteenwoordigende voorbeelde van analises uit die eersgenoemde bundel is ten slotte in die proefskrif opgeneem. Hierdie prosedure het getoon dat daar teoretiese vervaging van die tuistoonsoort aangetref word wat betref 'n afname in die teenwoordigheid van die tonikadrieklank en in verbindings van die tonika- en dominantdrieklanke; 'n toenemende toesegging aan die rol van newetoonsentrums, waarin die tydelike dominantdrieklanke eweneens 'n groter rol speel as die tydelike tonikas; 'n merkbare voorrang aan mediantverhoudings tussen toonsentrums; chromatiese oplossing van chromatiek; en opvallend ongewone melodiese wendings en basbeweging. Dit moes egter ook telkens aangetoon word dat die bogenoemde teoretiese deviese nie gelei het tot 'n gehooreffek van toonsoortvervaging nie omdat die hoorbare gevolge van toonsoortbepaalde harmoniek almal op volle krag aanwesig bly. Die verband tussen Wolf se harmoniese deviese en die inhoud van die tekste wat hy getoonset het is voortdurend bevestig. Dit het duidelik geblyk dat sy idioom in alle opsigte altyd direk verband hou met teksinhoud, en dat sy "gevorderde" harmoniese deviese gegroei het uit die toonsetting van smartlik pyngevulde gemoedstoestande. Ten slotte is die afleiding gemotiveer dat daar van 'n bydrae deur Wolf tot spontane harmoniese evolusie kan sprake wees slegs in die beperkte sin dat 'n atonale harmoniese idioom later tot stand gekom het as gevolg van aansluiting by negatief-surrealistiese woordinhoud, soos wat die tekste van Schonberg se keuse aantoon, maar dat die tegniese deviese uitWolf se toonsettings geïsoleer en buite konteks nuut toegepas is, en dus nie deel gehad het aan die evolusionêre proses nie. Die algemeen beskrewe feit dat atonale musiek binne meer as tagtig jaar nie in musiekkultuuraktiwiteite opgeneem is nie behalwe in 'n teoreties beskrywende opsig, klaarblyklik omdat die klank daarvan nie vir gehore toeganklik is nie, het die afleiding bevestig dat daar na evolusie tussen Wolf se idioom en atonaliteit verwys kan word slegs met betrekking tot laboratorium-geïnduseerde eksperimente. Sy werklike plek in die geskiedenis van harmoniese idioom is bevind as 'n hoogtepunt van hoogs gekonsentreerde, programmaties geïnspireerde ekspressiwiteit wat in alle opsigte slegs binne die tradisionele toonsoortstelsel seggingskrag het, en as sodanig analities verstaanbaar is ook wat sommige ongewone chromatiese verskynsels betref: laasgenoemde ongewone verskynsels is een van die manifestasies van sy unieke maar inherent Romantiese skeppingspersoonlikheid.
Description
Keywords
Thesis (D.Phil. (Music)) - University of the Free State, 1992, Wolf, Hugo. Spanisches Liederbuch, Sacred songs (High voice), Wolf,Hugo, 1860-1903
Citation