Die ontwikkeling van 'n stelsel vir die evaluering van navorsing in die geesteswetenskappe

Loading...
Thumbnail Image
Date
1983-06
Authors
Uys, Jacobus Stephanus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die doel met hierdie studie was om inligting te bekom oor en 'n stelsel te ontwikkel vir die evaluering van navorsing (bepaling van die korrektheid en kwaliteit) en vir die waardebepaling van navorsingsbydraes (bepaling van die relatiewe waarde of beduidendheid) daarvan. Die studie is toegespits op nomologiese navorsing (formulering van algemene wette en wetmatighede) en idiografiese navorsing (bestudering en beskrywing van enkele onherhaalbare verskynsels). Die studie het bestaan uit 'n literatuurstudie en 'n empiriese ondersoek. Die literatuurstudie het gefokus op die aard en kenmerke van wetenskap, die indeling en klassifikasie van navorsing, en die evaluering en waardebepaling van navorsingsbydraes. In die empiriese ondersoek is gegewens verkry oor die evaluering en waardebepaling van navorsing deur middel van 'n inhoudsontleding van meer as 200 evalueringsverslae van navorsing en twee Delphi-oefeninge wat elk oor twee rondes uitgevoer is. Die klassifikasiemodel vir navorsing wat in die studie geverifieer is, is gebaseer op 'n drieledige indeling, nl.: die wydte van toepassingsmoontlikhede (basiese, toegepaste, kontrak- en aksienavorsing), die vlak van die navorsingsdoelwit (verklarend, voorspellend en beskrywend) en die graad van eksperimentele kontrole (laboratoriumnavorsing, veldstudies en biblioteeknavorsing). Hierdie drie dimensies verteenwoordig fundamentele onderskeidingsfasette van navorsing en navorsingsbydraes (beide nomologies en idiografies) behoort aan die hand van elkeen daarvan ingedeel te kan word. Die evaluering van die kwaliteit of korrektheid van die navorsing, word in hoofsaak gebaseer op die graad van eksperimentele kontrole (metode), terwyl die wydte van toepassingsmoontlikhede en die vlak van die navorsingsdoelwit meer bepaald 'n aanduiding kan gee van die waarde of beduidendheid van die navorsingsbydrae. Die stelsels wat in die literatuur voorgehou word vir die evaluering van navorsingsbydraes, kan in twee groepe ingedeel word, naamlik die evalueringskontrolelyste en -vraelyste en die meer omvattende en meerdimensionele evalueringstelsels. Opvallend is dat dit uit die wyse waarop feitlik al die stelsels saamgestel is, afgelei kan word dat die tegniese aspekte van aanbieding en rapportering van navorsingsresultate, net soveel aandag kry as die stappe in die uitvoering daarvan en die inhoudelike en beduidendheid van die bydrae. Die empiriese gegewens het egter uitgewys dat die onderskeie evalueringskomponente nie almal dieselfde gewig drain die evalueringsproses nie en ook tussen navorsingstipes verskil. Respondente het ook 'n aanduiding gegee van die belangrikheid van sekere kriteria in die evalueringsproses. Afgesien van verskille in hierdie beoordelings, was daar aanduidings dat spesifieke kriteria oor 'n wyer spektrum van vakdissiplines van toepassing kan wees en as algemene kriteria beskou kan word. Die kriteria wat die hoogste aangeslaan is, sluit in: - die hantering van wetenskaplike metodes; - logiese rigorisme; - kennis en insig t.o.v. bestaande navorsing en literatuur; - objektiwiteit; - duidelike en saaklike aanbiedingstyl; - oorspronklikheid; - kontroleerbaarheid van metodes en resultate; - handhawing van die aanvaarde etiek in die vakdissipline; - saaklikheid t.o.v. huidige/algemene navorsing in die veld; en - integrering met bestaande kennis/teorie. Die waarde van wetenskaplike bydraes word, soos in die literatuur uitgewys, hoofsaaklik deur twee metodes bepaal, naamlik die publikasie van navorsingsbydraes (kwantiteit) en die aantal verwysings of sitate in die vakkundige literatuur ten opsigte van bepaalde bydraes. Die respondente in die empiriese ondersoek het aangedui dat die volgende metodes volgens hulle mening, die algemeenste gebruik word om die relatiewe waarde van bydraes te bepaal: - die wyse waarop navorsingsbydraes aan die wetenskaplike gemeenskap beskikbaar gestel word; - publisering of versoek om publisering van navorsingsresultate deur 'n uitgewer; - versoeke vir herdrukke; - verwysings deur ander navorsers na navorsingsresultate of bydraes; en - bewyse van toepassing of gebruik van navorsingsresultate. 'n Groot mate van ooreenstemming is gevind in die beoordelings van die relatiewe belangrikheid van die wyses waarop wetenskaplike bydraes onder die aandag van die wetenskaplike gemeenskap gebring kan word. Uit die beoordelings wat gemaak is en die relatiewe gewigte wat toegeken is, blyk dit dat veral twee faktore die waarde van bekendstellingsmetodes bepaal, te wete die mate (wydte) van blootstelling van die bydrae aan die wetenskaplike gemeenskap en die keuringsproses waaraan die bydrae voor publisering onderwerp word. Die volgende metodes (in prioriteitsvolgorde} is die hoogste aangeslaan: - publikasie in 'n erkende internasionale vaktydskrif na redaksionele keuring; - referaat gelewer by 'n internasionale vakkongres; - publikasie in 'n erkende nasionale vaktydskrif na redaksionele keuring; en - referaat gelewer by 'n nasionale vakkongres. Die respondente het egter verskeie probleme uitgewys met die gebruik met sommige van hierdie bekendstellingsmetodes vir die waardebepaling van navorsingsbydraes. Sekere faktore maak dit vir wetenskaplikes moeilik om navorsingsbydraes in sekere vakdissiplines internasionaal bekend te stel. Veral die verpolitisering van sekere vakgebiede of navorsingstemas, die koppeling van sekere navorsingsvelde met die interne politieke en staatkundige bedeling in die R.S.A., beperkte samewerking op internasionale vlak en die eie-aard van sekere vakdissiplines maak internasionale blootstelling bykans onmoontlik. Een van die hoof-gevolgtrekkings oor die bepaling van die relatiewe waarde van wetenskaplike bydraes, is dat die spesifieke omstandighede en vereistes van die onderskeie vakdissiplines grootliks verskil. Alhoewel internasionale publikasies en blootstelling die maatstaf van besondere bydrae is, moet aanvaar word dat dit nie as algemene kriterium vir die geesteswetenskappe gebruik kan word nie en dat meer toeganklike en beskikbare metodes vir die doel geidentifiseer en ontwikkel sal moet word.
Description
Keywords
Thesis (D.Admin (Industrial Psychology)--University of the Free State, 1983, Research, Humanities
Citation