Die Zuid-Afrikaansche Republiek en Groot-Brittanje se stryd om Delagoabaai,1889 - 1899

Loading...
Thumbnail Image
Date
1988-11
Authors
Edwards, Peter
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die strewe om deur Delagoabaai vrye toegang tot die see te verkry, loop soos 'n goue draad deur die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Leiers soos A. H. Potgieter, M. W. Pretorius, T. F. Burgers en Paul Kruger was oortuig dat die Transvalers, ter wille van hulle geestelike en stoflike behoeftes, oor 'n verbinding met Delagoabaai moes beskik wat vry van Britse invloed sou wees. Terselfdertyd was dit 'n beginsel in die Britse beleid om die Republiek nie 'n onafhanklike toegang tot die see te verleen nie. Die vrees dat Delagoabaai of die Portugese gedeelte van die Delagoabaaispoorweg in Britse hande kon beland, het vanaf 1889 tot verskeie Z.A.R.-beveiligingspogings in dié verband aanleiding gegee. Kruger was veral bekommerd oor 'n geskil tussen Portugal en 'n Britse spoorwegmaatskappy oor die besit van die Portugese gedeelte van die Delagoabaaispoorweg. Hoewel die geskil vir arbitrasie na 'n hof in Bern, Switserland, verwys is, het die Z.A.R. reeds in 1889 'n poging aangewend om die grondgebied tussen die Z.A.R. se oosgrens en Delagoabaai van Portugal te koop. Vanweë die Portugese nasionale trots en hul afguns op die Z.A.R. se vooruitgang het die poging egter misluk. Ook die Kaapse premier, Cecil John Rhodes, het verskeie pogings aangewend om besit of beheer oor Delagoabaai en die Portugese gedeelte van Delagoabaaispoorweg te verkry. Rhodes het Delagoabaai as die sleutel tot sy ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag beskou, maar het hom eweneens in die Portugese nasional trots vasgeloop. Rhodes se mislukte pogings het egter daartoe gelei dat Brittanje in 1893 'n versekering van Portugal ontvang het dat hulle die status quo in Delagoabaai tot na die uitspraak van die Bern-arbitrasie sou handhaaf. Uit vrees vir Rhodes en ten einde die Republiek se belange in Delagoabaai finaal te beveilig, is die sogenaamde Groot Saak in Augustus 1893 van stapel gestuur. Staatsekretaris Leyds is na Europa afgevaardig om beheer oor Delagoabaai te verkry en het met dié doel voor oë 'n ooreenkoms met V. Hansen en T. Schrader aangegaan. Ten spyte van 'n ses maande lange verblyf in Lissabon kon Hansen en Schrader egter niks uitrig nie. Terselfdertyd het die Z.A.R. 'n onsuksesvolle poging aangewend om hul belange in Delagoabaai deur middel van die Cohen-konsessie te bevorder. Hoewel die Groot Saak misluk het, het die Republiek die versekering ontvang dat Duitsland nie 'n Britse oorname van Delagoabaai sou duld nie. Duitslang het dan ook kort hierna oorlogskepe na Delagoabaai gestuur toe dit wou voorkom asof Lourenco Marques deur swart opstandelinge oorval sou word. Duitsland se bereidwilligheid om vir die Z.A.R. in die bresse te tree, het Brittanje nie aangestaan nie. Hoewel Brittanje, kragtens die Anglo-Portugese ooreenkomste van 1875 en 1891, 'n eerste opsie op Delagoabaai besit het, was die Britse regering bekommerd dat Duitsland en die Z.A.R. agter die skerms oor Delagoabaai gekonkel het. Die Britse Minister van Kolonies, Joseph Chamberlain, het Delagoabaai as die sleutel tot Suid-Afrika beskou en grot druk op Portugal uitgeoefen om te verhoed dat die Z.A.R. of Duitsland 'n vastrapplek in Delagoabaai verwerf. Dit was veral die twee moondhede se beweerde betrokkenheid in die Catembe-konsessie wat Britse regeringslui verontrus en tot Britse druk op Portugal gelei het. Chamberlain het op sy beurt ook verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om deur middel van finansiële hulp aan Portugal beheer oor Delagoabaai te verkry. Afgesien van die Catembe-konsessie het die Z.A.R. ook verskeie ander pogings geloods om beheer oor Delagoabaai te verkry. Hierdie pogings, wat ook die totstandkoming van 'n onafhanklike skeepvaartverbinding tussen Europa en Delagoabaai beoog het, het egter vanweë die Portugese nasionale trots en hul vrees vir Britse vergeldingstappe skipbreuk gelei. Delagoabaai het ook 'n belangrike rol gespeel in die onderhandelinge wat op die Anglo-Duitse Verdrag van Augustus 1898 uitgeloop het. Ingevolge die verdrag het Duitsland sy aanspraak op Delagoabaai laat vaar en sy steun aan die Z.A.R. onttrek. Met Duitsland uit die weg het Brittanje voortgegaan om die Z.A.R. in 'n hoek te dryf. Op die vooraand van die Tweede Anglo-Boereoorlog is groot druk op Portugal uitgeoefen om die Z.A.R. se invoer en wapens en ammunisie deur Delagoabaai op te skort. Portugal het voor Britse druk geswig en op 4 Oktober 1899 'n geheime verdrag onderteken, wat die invoer van krygsvoorrade deur Delagoabaai vir die duur van die oorlog verbied het. Daarmee is die Z.A.R. finaal van die see afgesny.
Description
Keywords
South Africa, History, Thesis (D.Phil. (History))--University of the Free State, 1988
Citation