Die Godsbeskouing van die teologie van die revolusie in samehang met die onderhawige vryheidsideologie

Loading...
Thumbnail Image
Date
1981-01
Authors
Heystek, Michiel Christiaan
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die teologie van die revolusie het sy ontstaan onder andere te danke aan die swak ekonomiese, maatskaplike en politieke toestande in die Derde Wêreld. Die term teologie van die revolusie is die eerste keer op die Konferensie vir Kerk en Maatskappy van die Wêreldraad van Kerke in Genêve (1966) gebruik. Daar is gepleit vir n veranderde houding in die teologie teenoor revolusie as 'n middel om veranderinge teweeg te bring. Die oorspronklike betekenis van revolusie het in verband gestaan met die omwenteling van die sterre. Teen die einde van die Middeleeue het dit n politieke betekenis gekry. Die Franse Revolusie word as die eerste groot revolusie beskou en is ook die model vir latere revolusies. Die Russiese Revolusie van 1917 het n belangrike verandering ten opsigte van revolusies aangebring. Geweld het deel geword van die revolusies, wat nie altyd spontaan ontstaan nie, maar dikwels kunsmatig beplan word met in agneming van maatskaplike en politieke toestande. Die verskoning vir geweld is dat bestaande strukture as geweldadig beskou is en daarom mag dit op 'n geweldadige wyse verander word. Die teologie van revolusie wil 'n teologie wees, daarom hou hy hom met uitsprake oor God en Christus besig, maar in sy uitsprake is hy nie Skrifgebonde nie. Hy steur hom ook nie aan die grense wat daar normaalweg aan 'n Skrifgebonde teologie gestel word nie. Hy wil 'n teologie vir sy tyd wees, deur 'n boodskap vir die mens in die hede te bring. Dit verkrag ongelukkig die wese van die evangelie deurdat dit nie die Woord van God suiwer laat spreek nie. In die teologie van die revolusie is daar 'n sterk religieushumanistiese grondmotief. Die religie is die geestesgesteldheid wat op die hart van die mens beslag lê as die diepste wese van die mens. Dit is ook die band wat hom met God verbind. Deur die sondeval is die band met God verbreek. Die humanistiese trek kom na vore wanneer die mens homself verhef om soos God te wees. Dit gebeur alreeds by die sondeval, waar die mens aan God ongehoorsaam is. Die humanisme het vanaf die Renaissance en Verligting geweldig veld gewen. Die moderne humanisme het uitlopers gehad soos onder andere rasionalisme, positivisme, liberalisme, materialisme ensovoorts wat almal revolusionêr van aard is, aangesien dit teen God as heerser oor hierdie wêreld in opstand kom. In die twintigste eeu kom daar reaksie in die vorm van irrasionalisme. Die humanisme bereik sy hoogtepunt in die outonomie van die eksessiewe liberalisme en sekularisme wat God geheel en al uitsluit en die mens as norm neem. Die Godsbeskouing van die teologie van die revolusie is nie Skrifgebonde nie. Dit stel God as onvoltooid voor, wat deur Sy handeling in die geskiedenis tot voltooiing kom. God is ook 'n dinamieshandelende God wat tot bevryding van die mens optree. Die mens werk hierin saam deur sy deelname aan die revolusie, waar God dan ook ontmoet word. Dit ken geen persoonlike ontmoeting met God nie. God is ook die politieke Bevryder wat die mens van onderdrukking en verslawing bevry soos in die Exodus-gebeure plaasgevind het. Jesus word as revolusionêr beskou. Hy sou teenoor die Romeinse oorheersing in opstand gekom het en sou aan die revolusionêre beweging van die Selote deelgeneem het. Sy kruisiging word ook as 'n revolusionêre daad beskryf. Jesus word ook as die partyganger van die armes voorgehou. Die koninkryk van God word as 'n politieke en revolusionêre begrip verklaar, waarin Jesus as politieke Middelaar optree. Ook die Heilige Gees word in hierdie politieke teologie ingeskakel. Die Gees is die dinamiese teenwoordigheid van God in die wêreld - waarin die vrywording herkenbaar is. Die politieke Messianisme verteenwoordig ook die sterk vryheidsideologie van die teologie van die revolusie. Daar is egter in hierdie teologie 'n verabsolutering van vryheid.
Description
Keywords
Liberation theology, Freedom (Theology), Dissertation (M.A. (Biblical Science))--University of the Free State, 1981
Citation