Die invloed van pop-musiek op die skoolgaande Afrikaanssprekende jeug soos vasgestel by 'n groep senior leerlinge aan ses hoërskole van die Witwatersrand - 'n evaluering in Bybelkundige perspektief

Loading...
Thumbnail Image
Date
1979-11
Authors
Steyn, Andries Adriaan
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die onmiskenbare en veelbesproke absolute feit van die tema van hierdie verhandeling staan vir ons by voorbaat vas, soos ook sal blyk uit die volgende hoofstukke. In hierdie verhandeling sal uiteraard duidelik onderskei moet word tussen die verskillende tipes pop-musiek, om nie in simplistiese veralgemening te verval nie. Al die onderskeie tipes word egter nie bespreek nie, maar net daardie uitinge van pop-musiek wat op die oomblik baie relevant is en populariteit onder die jeug geniet. Die tema van die verhandeling dui op 'n christelik-prinsipiële beoordeling van pop-musiek. Ons wil beklemtoon dat 'n beoordeling daarvan mank kan gaan aan diepgang indien daar aprioristiese en oppervlakkige afwysings is van alles wat in die breë as popmusiek bestempel word. Daarom trag ons om so objektief as moontlik 'n regverdige beeld van pop-musiek te gee al kom talle kritiese uitsprake uiteraard na vore. Om die literêre navorsing by die praktyk te laat aansluit, en om te bepaal of die hipotese aanvaar of verwerp moet word, is daar besluit om 'n vraelys oor pop-musiek saam te stel en aan ses prominente Afrikaanse hoërskole aan die Witwatersrand vir beantwoording te stuur. Dié ses hoërskole is gekies omdat hulle binne en rondom Johannesburg gesentreerd is en die proefgroep 'n verteenwoordigende deel uitmaak van Afrikaanse leerlinge in hierdie gebied wat in die brandpunt staan vanwaar pop-musiek veral konsentreer op die jeug van alle bevolkingsgroepe. Nadat skriftelike magtiging van die Transvaalse Onderwysdepartement verkry is vir die uitstuur van genoemde vraelyste na die betrokke skole, is vier van die hoofde van hierdie skole persoonlik genader om hul samewerking in dié verband te verkry, terwyl die ander twee telefonies bereik 15. Volledige instruksies is by alle vraelyste ingesluit, sodat die proefbeamptes ten volle op hoogte was van hoe vraelyste beantwoord moes word. 'n Totaal van 310 vraelyste is uitgestuur en 'n buitengewone terugvoering van een honderd persent is terug ontvang. Hierdie sukses kan toegeskryf word aan die persoonlike belangstelling van die betrokkenes by die onderwerp, en ook moontlik aan die persoonlike toesig van die verantwoordelike toesighouers wat die instruksies deeglik bestudeer en deurgevoer het. Die nodige bedankingsbriewe is na terugontvangs van die vraelyste aan die hoofde van dié betrokke hoërskole gestuur. Die vrae in die vraelyste is opgestel op so 'n wyse dat informasie oor die volgende aspekte verkry kon word: 1. Trefkrag en invloed van pop-musiek. 2. Eienaarskap van musiekdraende items en geldelike uitgawes daaraan verbonde. 3. Luistergewoontes. 4. Menings en houdings oor suggestiwiteit en dwelmmiddelverheerliking. 5. Waarde-oordele oor Christelike pop-musiek. 6. Pop-feeste en disko's. Dit was belangrik om die vrae nie noodwendig so op te stel dat die vrae die respondente in 'n sekere rigting "lei" nie maar om slegs basiese informasie te verkry. By die ondersoek is die vrae wat met mekaar verband hou, gegroepeer om sodoende die nodige afleidings te kon voltrek. 'n Hipotese is soos volg geformuleer: "Pop-musiek het nie 'n merkwaardige invloed·op die Christelike Afrikaner-jeug van albei geslagte tussen die ouderdomme 17 en 20 jaar nie". Dis 'n hipotese waarvan ons oortuig was nie op grond van vae intuisie nie, maar van die ondervinding met pop-musiek voor hierdie ondersoek begin het. Dit is heel interessant dat die meer gedetailleerde ondersoek hierdie hipotese bevestig, eerstens wat betref gesaghebbende uitsprake en tweedens op grond van die empiriese ondersoek. Daarmee is die negatiewe opset en invloed van pop-musiek egter nie in die minste gerelativeer nie. Die logiese gang en opset van die verhandeling sal hoofsaaklik soos volg daar uitsien: 1. Inleiding, doelstelling en hipotese. 2. Literatuurstudie. 3. Die ondersoek. 4. Kritiek, bespreking en aanbevelings.
Description
Keywords
Youth -- South Africa -- Religious life, Popular music, Dissertation (M.A. (Biblical Science))--University of the Free State, 1979
Citation