Die stelsel van parlementêre beheer oor die skatkisrekening van die Republiek van Suid-Afrika

Loading...
Thumbnail Image
Date
1963-02
Authors
Janse van Rensburg, Jacobus Hendrikus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Aangesien hierdie verhandeling slegs oor bepaalde aspekte van beheer oor staatsfinansies in die Republiek van Suid-Afrika gaan, is dit nodig om die studiegebied duidelik af te baken. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet Nr. 32 van 1961) stig die Gekonsolideerde Inkomstefonds en die Spoorweg- en Hawefonds. Behalwe hierdie Fondse stig die Wet ook In Provinsiale Inkomstefonds vir elkeen van die Provinsies. Alle staatsgeld behalwe dié wat die Spoorweg- en Hawefonds en die Provinsiale Inkomstefondse toekom, word in die Gekonsolideerde Inkomstefonds inbetaal. Gelde wat ten behoewe van die Administrasie van die Spoorweë en Hawens en die Provinsies ontvang word, word in die Spoorweg en Hawefonds en die Provinsiale Inkomstefondse onderskeidelik inbetaal. In hierdie verhandeling sal daar slegs ondersoek ingestel word na die stelsel waarvolgens die Parlement beheer uitoefen oor die besteding van die gelde wat in die Gekonsolideerde Inkomstefonds inbetaal word. Die inkomsteaspek van hierdie Fonds sal nie bespreek word nie en daar sal ook nie ingegaan word op die vraagstukke wat betrekking het op die Spoorweg- en Hawefonds en die Provinsiale Inkomstefondse nie. Hierbenewens val die maatskaplike en ekonomiese implikasies van staatsfinansies ook buite die bestek van die verhandeling aangesien hierdie vraagstukke van 'n gespesialiseerde aard is en nie direk betrekking op die tema van die verhandeling het nie. Die geld wat in die Gekonsolideerde Inkomstefonds inbetaal word, word deur middel van die Skatkisrekening aan die staatsdepartmente beskikbaar gestel. Hierdie Rekening is dus die spil waarom die Parlement se beheer oor die besteding van die betrokke gelde draai. Die voorskrifte en praktyke waarvolgens die Parlement sy beheer oor die gelde uitoefen, is die tema van hierdie verhandeling. Vir hierdie studie is daar hoofsaaklik gebruik gemaak van die gepubliseerde verslae van die Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge, die Skatkis- en Ouditwet, 1956 en die Finansiële Regulasies. Hierbenewens is die standaardwerke oor die Engelse stelsel van die parlemenêre beheer oor staatsfinansies ook geraadpleeg. In Suid-Afrika is daar ongelukkig nog baie min oor die onderwerp geskryf. Daar is egter met vrug gebruik gemaak van V. A. Rogers se boek "The Constitutional Control of Public Finance in South Africa". Die hoofstukke van die verhandeling is soos volg ingedeel. Hoofstuk een is hoofsaaklik bedoel om agtergrondinligting te verskaf. Hierdie hoofstuk bevat 'n saaklike beskouing van die ontwikkeling van die stelsel van parlementêre beheer oor die staatsfinansies asook 'n uiteensetting van die konstitusionele bepalings wat op daardie beheer betrekking het. Hierbenewens word ook enkele aspekte van die finansiële administrasie kortliks bespreek. Die res van die hoofstukke is ingedeel ooreenkomstig die verskillende fases van die jaarlikse finansiële siklus. Die proses waarvolgens die Parlement beheer oor die Skatkisrekening uitoefen, is dus gebruik as grondslag vir die hoofstukindeling. Hoofstuk twee handel hoofsaaklik met die formulering, oorweging en goedkeuring vna die uitgawebegroting. Hoofstuk drie is in besonder gemoeid met die vraagstukke wat ontstaan in die uitvoering van die Begroting. In hoofstuk vier word aandag gesken aan die eerste stadium van die beheer wat die Parlement ex post facto oor die besteding van die geld uitoefen. Hierdie fase behels ondersoek en ouditering van die rekeninge deur die Kontroleur en Ouditeur-generaal en verslaggewing daaroor aan die Parlement. Hoofstuk vyf handel met die werksaamhede van die Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge wat namens die Parlement ondersoek instel na die bevindinge van die Kontroleur en Ouditeur-generaal.
Description
Keywords
Finance, Public -- South Africa, Expenditures, Public, Economic policy -- South Africa, Budget -- South Africa, South Africa -- Parliament -- Rules and practice, Dissertation (M.Admin. (State and Muncipal Administration))--University of the Free State, 1963
Citation