'n Ondersoek na die selfkonsep van die fisies gestremde leerling

Loading...
Thumbnail Image
Date
1977-12
Authors
Vermeulen, J. W. A.
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die doel van die ondersoek was enersyds om die selfkonsep van die fisies gestremde leerling te bepaal en andersyds om te poog om vas te stel wat dié leerling se verhoudinge met die verskillende aspekte van die Self is. Met die literatuurstudie oor die begrip selfkonsep is indringende ondersoek ingestel na die verskillende sienswyses wat hieroor gehuldig word van persone soos Freud, Adler, Erikson, Sullivan, Lewin, James, Combs, Snygg, Rogers, Jersild en Felker. Deur sodanige ondersoek word die ontwikkelingsgang van selfkonsepteorieë aangebied om 'n geheelbeeld daar te stel van wat daar in die literatuur opgeteken staan van hierdie belangrike begrip. Elkeen van die bostaande dimensies word bepaal in terme van drie aspekte, naamlik die proefpersoon se selfidentiteit, dit wil sê wát hy is; tweedens sy aanvaarding van daardie identiteit, en derdens sy persepsie van sy eie funksionering. Voorts is 'n volledige bespreking gelewer oor die wesenlike betekenis van die dimensies van die selfkonsep en is die selfkonsep se verband met die kognitiewe struktuur en persoonlikheidsorganisasie ook van nader ondersoek. Om 'n ware greep te verkryoor die teoretiese konteks waarbinne die Selfkonseptoets gebruik en begryp moet word, is die leefwêreld van die adolessent ook beskryf en kon die interpretasie van die gegewens verkry uit die ondersoek, binne konteks geskied. In die empiriese ondersoek is van Vrey se Selfkonseptoets asook 'n outentieke biografiese vraelys van die skrywer gebruik gemaak. Die aantal leerlinge wat in hierdie navorsing betrek is, word in die volgende tabel aangegee (sien volteks). Die populasie waaruit die steekproewe vir die ondersoek getrek moes word, bestaan uit die Afrikaanssprekende leerlinge op die Senior Sekondêre Skoolfase. Die toepassing en nasien van die Selfkonsepinventaris en biografiese vraelys, die struktuur, items en betroubaarheid en geldigheid van die Selfkonseptoets is baie deeglik beskryf en besondere moeite is gedoen om In duidelike beeld van die statistiese ontwerp daar te stel. By die tellings van die Selfkonseptoets is van die kritieke verhoudingstoets gebruik gemaak om te bepaal of daar in beduidende verskil bestaan tussen die selfkonseptellings van die eksperimentele-en kontrolegroepe,terwyl die chi-kwadraattoets by die items van die biografiese vraelys toegepas is. Die volgende bevindinge spruit uit hierdie ondersoek voort: 1. Die fisies gestremde leerling het In laer selfkonsep as die normale leerling. 2. Die volgende verhoudinge van die fisies gestremde leerling is ongesonder as dié van die normale leerling: a. verhoudinge met sy psigiese gesteldheid - sy persoonlike Self; b. verhoudinge met die liggaamlike gesteldheid - sy fisiese Self; c. verhoudinge met sy gesin - sy gesinself; d. verhoudinge met ander in die sosiale gemeenskap sy sosiale Self; e. verhoudinge met sedelike en godsdienstige waardes - sy waardeself. 3. Geen betekenisvolle verskil kon tussen die twee groepe gevind word betreffende die evaluatiewe aspek van die selfkonsep nie. Hierdie ondersoek het baie duidelik aangetoon dat dit belangrik is om ruimte toe te ken aan die rol van die selfkonsep in die begryping van die probleme van die fisies gestremde leerling. Dit sal meebring dat hierdie leerling raakgesien word vanuit sy eie verwysingsraamwerk en van daaruit begryp moet word.
Description
Keywords
Dissertation (M.Ed. (Educational Psychology))--University of the Free State, 1977, Children with disabilities, Children with disabilities -- Education
Citation