Die taak van maatskaplike werk ten opsigte van geestesgesondheid

Loading...
Thumbnail Image
Date
1979-01
Authors
Meyer, Magdalena Magarietha
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Deur die eeue heen is daar op verskillende wyses hulp aan die psigo-sosiaal versteurde gelewer. Wanneer die hulpverlening aan die psigo-sosiaal versteurde persoon vanaf die vroegste tye in oënskou geneem word, kan ses tydperke onderskei word waartydens verskillende benaderings ten opsigte van die psigo-sosiaal versteurde persoon aangehang is en waartydens verskillende wyses van hulpverlening plaasgevind het. Hierdie tydperke is die animistiese, die naturalistiese, die teologiese, die hospitalisasie en afsonderings-, die rewolusionêre en die moderne tydperk. In die moderne tydperk is die fokus op gemeenskapsgeoriënteerde psigiatrie en op gemeenskapsgeestesgesondheid. Daar word 'n belangrike plek aan Maatskaplike Werk toegeken in die hedendaagse hulpverlening aan psigo-sosiaal versteurdes. Maatskaplike Werk as professie het 'n voorkomende taak op die geestesgesondheidsterrein. Hierdie taak omvat voorkoming in die wydste sin van die woord en impliseer nie slegs die voorkoming van veroorsakende faktore nie, maar die bevordering van geestesgesondheid in die algemeen. As sodanig gaan dit dus nie net om hulpverlening aan die psigo-sosiaal versteurde persoon nie, maar om die daarstelling van sowel 'n geestesgesonde gemeenskap as 'n gemeenskap wat geestesgesondheid bevorder. Drie interafhanklike komponente van voorkoming kan onderskei word, naamlik primêre, sekondêre en tersiêre voorkoming. Maatskaplike Werk kan primêr-voorkomend optree deur gemeenskapsgeestesgesondheidopvoeding; die daarstelling van voorkomingsfasiliteite en die ontwikkeling van gemeenskappe; en deur middel van maatskaplike groepwerk met hoë risiko-groepe. Hoewel die onmiddellike resultate van primêre voorkoming moeilik meetbaar is, lewer dit tog op die langtermyn positiewe resultate en behoort daarom as 'n saak van hoë prioriteit beskou te word. Wat sekondêre voorkoming aanbetref, bevorder drie werksterreine van Maatskaplike Werk, te wete, personeel maatskaplike werk, maatskaplike werk binne skoolverband en geneeskundige maatskaplike werk, die geleentheid vir maatskaplike werkers om op sekondêre vlak voorkomend op te tree. As gevolg van die tekort aan opgeleide maatskaplike werkers is dit egter nie altyd moontlik om aan alle persone met probleme, hulp te verleen voordat psigo-sosiale versteurdheid intree nie. Deur middel van krisisingryping en konsultasie kan meer persone in 'n korter tydperk bereik word en die probleem beperk word. Tersiêre voorkoming noodsaak dienslewering binne multi-professionele spanverband. Enkele instellings waar maatskaplike werkers in diens is en 'n bydrae lewer tot die tersiêre voorkoming van psigo-sosiale versteurdheid is onder andere die psigiatriese hospitaal die algemene hospitaal, buitepasiënt klinieke en gemeenskapsgeestesgesondheidsentrums. Die maatskaplike werker het 'n omvattende taak om te verrig as lid van die multiprofessionele span, wat die volgende insluit: Intensiewe hulp aan die psigo-sosiaal versteurde persoon met betrekking tot die hantering van psigo-sosiale versteurdheid; die lewering van rekonstruksiedienste ten einde voorbereiding te doen vir die persoon se herintegrasie in die gemeenskap en nasorgdienste waar-. tydens die maatskaplike werker die dienste van die multiprofessionele span afrond, die persoon spesifiek help met sy inskakeling en verdere behandeling en psigo-sosiale versteurdheid voorkom. As gevolg van die tekort aan opgeleide maatskaplike werkers, is dit nie altyd moontlik om doeltreffende dienste aan alle nasorgkliënte te lewer nie. Ten einde dié probleem te beperk, is dit belangrik dat die maatskaplike werker die hulpdienste waaronder byvoorbeeld die pleegsorgplasing van kliënte, klubs vir oudpasiënte, Beskutte Arbeid en halfweghuise in die gemeenskap, sal benut. Doeltreffende uitvoering van die taak van Maatskaplike Werk ten opsigte van voorkoming, op die geestesgesondheidsterrein is nie moontlik sonder die koordinasie van dienste, gesonde beleid en wetgewing, navorsing en opleiding nie. Dit is daarom ook die taak van Maatskaplike Werk om te koordineer; beleid en wetgewing daar te stel en uit te voer; navorsing te onderneem en.maatskaplike werkers op te lei vir dienslewering. Navorsing is noodsaaklik vir doeltreffende dienslewering en vir die voortbestaan van die professie. Omdat op die geestesgesondheidsterrein aan die mens in sy totaliteit aandag gegee word, is navorsing in multi-professionele verband noodsaaklik. Dit blyk egter dat navorsing op die geestesgesondheidsterrein deur die maatskaplike werker nog dikwels agterweë gelaat word. Wat opleiding betref, blyk dit dat die generies opgeleide maatskaplike werker toegerus is vir dienslewering op die geestesgesondheidsterrein. Spesialiteitsopleiding moet egter nie uit die oog verloor word nie en kan veral van waarde wees wanneer die maatskaplike werker In tersiêr-voorkomende diens lewer. Ten slotte kan gestel word dat Maatskaplike Werk in belangrike en byna onontbeerlike bydrae kan lewer ten opsigte van die hulpverlening aan die psigo-sosiaal versteurde persoon en die bevordering van geestesgesondheid in die algemeen.
Description
Keywords
Dissertation (M.Soc.Sc. (Social Work))--University of the Free State, 1979, Mental health, Social service, Social worker
Citation