Die ontstaan van en veranderinge in die rasseloongaping in die Suid-Afrikaanse ekonomie, 1860-1970

Loading...
Thumbnail Image
Date
1992-11
Authors
Bothma, L. J.
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Die doel van hierdie studie was om die ontstaan van en veranderinge in die rasseloongaping in onderskeidelik die Suid-Afrikaanse diamantmynbedryf, goudmynbedryf, private vervaardigingsektor en spoorwee en hawens tussen 1860 en 1970 te ondersoek. Daar is gepoog om vas te stel waarom rasseloongapings in hierdie sektore en bedrywe beslag gekry het, waarom die onderskeie rasseloongapings nie ewe groot was nie, watter faktore daartoe bygedra het dat die rasseloongapings met verloop van tyd verander het, en wat die verband tussen rasseloonverskille en verskille in die indiensnamevlakke van die onderskeie rassegroepe was. Dit het veral daarop neergekom dat die rasseloongaping in die goudmynbedryf (wat buitengewoon groot was en teen 1970 die fokuspunt van rasseloonverskille in Suid-Afrika was) in perspektie geplaas moes word. Om die doel van die studie te bereik is as eerste stap gepoog om die rasseloongapings in die onderskeie sektore en bedrywe op 'n jaar tot jaar grondslag te meet en voor te stel. Daarna is die historiese ontwikkeling van die onderskeie sektore en bedrywe geanaliseer om die veranderinge in die onderskeie rasseloongapings te verklaar, en antwoorde op die bogenoemde vrae te kry. Die slotsom waartoe gekom is, is dat rasseloongapings in die onderskeie sektore en bedrywe beslag gekry het, omdat blankes van meet af aan die geskoolde en swartes die ongeskoolde poste beklee het. Die loongaping tussen die rassegroepe spruit ook uit die feit dat die geskoolde blankes (anders as die ongeskoolde swartes) van oorsee af ingevoer is en 'n volledig verstedelikte arbeidsmag was wat uitsluitlik van geldlone afhanklik was. In die diamantmynbedryf het die rasseloongaping vergroot nadat die bedryf in 1888 gemonopoliseer is. Dit het gepaard gegaan met afdankings wat die blanke arbeidsmag swaarder as die swart arbeidsmag getref het. Die buitengewoon groot rasseloongaping in die goudmynbedryf kan ook direk herlei word na volgehoue pogings van die Kamer van Mynwese om (met die hulp van die staat) die winsgewendheid van die bedryf te verseker. Hierdie pogings het egter neergekom op die minimalisering van blanke werksgeleenthede. Die gevolg was dat die mynbousektor die oplossing van die armblankevraagstuk op die private vervaardigingsektor en die spoorwee en hawens afgeskuif is. Om die armblankevraagstuk op te los moes die staat wetgewing daarstel om die rasseloongaping in die res van die ekonomie te vernou. Hierdie stap was van deurslaggewende belang vir die opkoms van die private vervaardigingsektor. Anders as in die goudmynbedryf, was dit vir private vervaardigers belangrik dat rasseloonverskille klein moes wees, omdat dit die sleutel tot groter markte en markaandeel was. Namate die armblankevraagstuk opgelos is, het private vervaardigers se aandag egter verskuif na die groot getalle nie-blankes wat begin verstedelik het. Gevolglik het die behoefte om die rasseloongaping te vernou (en so markte en markaandeel te vergroot) dringender geword. Die private vervaardigingsektor het tegelykertyd by die goudmynbedryf oorgeneem as die loonbepalende sektor in die ekonomie. Ondanks diskriminasie teen die nie blanke arbeidsmag, het die rasseloongaping in die spoorwee en hawens die in die private vervaardigingsektor gevolg. Die goudmynbedryf was egter gedwing om meer (goedkoper) vreemde swartes te huur. Gevolglik het die rasseloongaping in die bedryf voortdurend vergroot en teen 1970 was dit lankal nie meer 'n barometer van rasseloonverskille tussen Suid-Afrikaners nie. Daar is betoog dat rasseloonverskille in die Suid-Afrikaanse ekonomie oak die resultaat was van verskeie faktore wat niks of min met rassediskriminasie te make gehad het nie. Die punt is gemaak dat skrywers verkeerdelik rassediskriminasie as vertrekpunt kies om rasseloonverskille te verklaar. In hierdie studie is aangetoon dat rasseloonverskille in die eerste instansie bepaal is deur die (hoofsaaklik Engelssprekende) kapitalistiese besittersklas se sug na groter winste en mag.
Description
Keywords
Thesis (Ph.D. (Economics))--University of the Free State, 1992, Wages -- Miners -- South Africa, 1860-1970, Wages -- Railroads, 1860-1970, Income distribution, 1860-1970
Citation