Die ontstaan van legato soos beïnvloed deur die vervolmaking van die fortepiano

Loading...
Thumbnail Image
Date
1985-12
Authors
Bruns, Jeanette Dalina Herholdt
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die oorkoepelende term, fortepiano, sluit die ganse familie van klaviatuurinstrumente, met snare en hamermeganiek, in. Fortepiano is die eerste Italiaanse benaming wat aan die instrument gegee is, tans in Afrikaans as klavier bekend. Toonproduksie by die klavier geskied deur middel van hamerslae op gespanne snare. Hierdie metode van toonproduksie lei daartoe dat die klavier in wese 'n slag- of perkussie-instrument is. Ten spyte van die perkussiewe aard van die klavier, word legato as een van die belangrikste speelmaniere in klaviervoordrag beskou. Legato, 'n Italiaanse begrip, beteken: musiek wat voorgedra word met 'n gladde verbinding tussen die tone en wat in musieknotasie met 'n fraseboog aangetoon word. Legato vind sy oorsprong in die middeleeuse musieknotasie (neume), legatura. Die legatura dui twee toonhoogtes, sowel as twee nootwaardes aan. Die oorsprong van die klavier kan so ver teruggespoor word as die dulcimer - 'n instrument wat in die Midde-Ooste ontstaan het. Die Pantaleon het uit die dulcimer ontwikkel en het uit 276 snare bestaan wat met hamers beslaan is. Bartolomeo Christofori het volgens oorlewering, die eerste klavier met hamermeganiek in 1709 gebou. Sedertdien is drastiese verbeterings in die instrument aangebring. Die klavier bekom sy finale vorm in 1874 met die toevoeging van die sostenutopedaal deur H.E. Steinweg. Elke klavier bestaan uit die volgende hoofonderdele: houtraam, klankbord met 'n kort en 'n lang brug, staalraam, snare wat oorkruis gespan is, hamer- en dempermeganiek (wat die pedale insluit), klawerbord en kabinet. Vanweë die bou van die klavier en die metode van toonproduksie, is daar sekere eienskappe wat legatospel bevoordeel en benadeel. Eienskappe wat legatospel in klaviermusiek benadeel is: - Die klavier bestaan uit 88 verskillende instrumente, kompleet met klawer, hamer- en dempermeganiek en gespanne snaar. - Die snare, hamers en dempers is nie identiese onderdele nie, maar word in drie registers gegroepeer. Die aanpassings in toonproduksie geskied daarom van klawer tot klawer, register tot register. - Die intensiteit van die toon is op sy grootste net nadat die snaar deur die hamer aangeslaan is. Daarna sterf die toon geleidelik weg. Legatospel word hierdeur benadeel, omdat 'n konstante geluidstroom op die klavier ontbreek. - Geraas in klavierspel word veroorsaak deur stampgeluide van byvoorbeeld die hamerkop wat teen die snaar bons. Geraas in klavierspel is te alle tye teenwoordig. Geraas benadeel die legatolyn, omdat dit verdere onderbrekings in die geluidstroom veroorsaak. Eienskappe wat legatospel in klaviermusiek bevoordeel is: - Pedaalgebruik maak simpatieke vibrasies moontlik. Sodoende word die toonduur verleng en 'n langer toonduur bevoordeel legatospel. - 'n Nie-perkussiewe aanslag bevoordeel legatospel. Die nieperkussiewe aanslag geskied wanneer geraas tot 'n minimum verminder word. Dit geskied deur klawerneerdalings voor te berei deur middel van 'n elastiese polsgewrig. Nie-perkussiewe aanslae het klein toonintensiteite en lang toondure tot gevolg. - Legatospel word ook bevoordeel wanneer die korrekte klawerneerdaling met die tydsverloop tussen klawerneerdalings gekoërdineer word. Die akoestiese eienskappe van legatospel is nie slegs veronde aan die onderdele van die instrument nie, maar ook verbonde aan die geslote area soos die konsertsaal waar klavieruitvoerings plaasvind. Klank wat in so 'n geslote area geproduseer word, word op twee verskillende maniere deur die luisteraar waargeneem: direk en indirek. Die indirekte klank word talle kere weerkaats en beinvloed legatospel ten sterkste. Om legatospel korrek waar te neem is dit ook noodsaaklik om die anatomiese en fisiologiese werking van die gehoororgaan en fisiese speelapparaat (hand en arm) van nader te beskou. Ten slotte word legatospel in styltydperke beskou. Die stylgebondenheid van legatospel is 'n kulminasie van al die voorafbespreekte fasette van die begrip, legato.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Music))--University of the Free State, 1985, Piano music, Fortepiano, Legato
Citation