'n Sosiaal-pedagogiese beskouing van sommige aspekte van die vryetydsproblematiek met besondere verwysing na vryheid en gesag

Loading...
Thumbnail Image
Date
1980-12
Authors
Landman, Willem Johannes Jacobus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die uitgangspunt van hierdie studie is dat die lewensbeskoulike aspek sentraal staan in 'n beskouing van die vryetydsproblematiek en dat die wisselwerking tussen vryheid en gesag van besondere belang is. Die doel is dan om sommige aspekte van die eietydse Westerse samelewing in ontwikkelde lande vanuit die Christelike lewensbeskouing in oënskou te neem en om daardeur riglyne uit te wys vir toekomstige ontwikkeling in die R.S.A. Die gebruik en die interpretasie van sekere begrippe blyk 'n belangrike probleem te wees. Ten aanvang word die begrippe "vrye tyd", "rekreasie" en "sport/spel" ontleed en veral die vier-dimensionele omskrywing van vrye tyd is hier van belang. Voorts word gewys op die eienskappe van arbeid en vrye tyd wat dan lei tot die aanwysing van verskille, die mate van verweefdheid en die wyse waarop arbeid en vrye tyd mekaar aanvul. Aansluitend hierby word daar besin oor die funksies van die vrye tyd. Vervolgens word daar na vrye tyd in samelewingsverband gekyk. Onder die kenmerke van die tegnologies-georiënteerde samelewing word aandag geskenk aan vrye tyd as kultuurverskynsel; die waardes eie aan hierdie kultuur; basiese vorme van deelname en die mate van disoriëntering wat binne die samelewing teenwoordig is. 'n Verdere kenmerk behels die invloed van die massakommunikasiemedia. Die verband tussen die media en kultuurkonsumpsie geniet aandag en die volgende aspekte onder meer tree na vore: die invloed van die tegnologie; die verkoopsinvloed van die media; samelewingsinvloede en die situasie van die individu. Die verband tussen die media en kultuurwaardes en ook die gesagsinvloed van die media word voorts behandel. Hierna geniet die stadsmilieu aandag. Daar word gekyk na stedelike ontwikkelingstendense en die invloed daarvan op die leefwêreld van die inwoners - betreffende beide die arbeid en die vrye tyd. Voorts word daar besin oor die geestesklimaat wat neig om na vore te tree in die grootstad; daar word verwys na heersende waardestelsels, geesteshoudinge en oriënteringsprobleme en die invloed daarvan op die vryheid van die individu in sy arbeid en vrye tyd. Vervolgens word die situasie van die jeug in oënskou geneem. Daar word besin oor onder meer die grense van die jeugtydperk en die situasie van die jeug in die samelewing. Hier word verwys na onder meer die jeugdige se ekonomiese situasie; sy blootstelling aan die reklame met die oog op verbruik en sy verhouding met die wêreld van die volwassene. Jeugkultuur geniet ook aandag en daar word verwys na die gesagsinvloede waarvan die jeug moeilik kan ontsnap. 'n Verdere aspek van die vryetydsproblematiek wentel om die gesin. Die resente evolusie binne die gesin word behandel en besondere aandag word geskenk aan die struktuur aan die gesin; die vryetydsituasie van die gesin en die bejaarde en die herverdeling van vryheid en gesag binne die gesin, asook die implikasies wat die voorgenoemde inhou vir vryetydsgebruik. Die laaste aspek wat behandel word, is die rol van die skool. Die situasie van die skool binne die pluralistiese samelewing en die eise wat aan die opvoedende onderwys gestel word, geniet aandag. Daar word gewys op leemtes en gevare betreffende 'n vryetydsheid veral met betrekking tot die tradisionele Christelike lewens- en wêreldbeskouing. In die slothoofstuk word riglyne aangedui oor beleidsaspekte vir die toekoms. Spesifieke aanbevelings word gemaak betreffende 'n nasionale jeugbeleid. Ten slotte word gewys op tekortkominge in hierdie projek en terreine word aangedui vir moontlike verdere navorsing.
Description
Keywords
Dissertation (M.Ed. (Education))--University of the Free State, 1980, Free time, Freedom, Leisure, Sport
Citation