'n Ondersoek na die behoefte en deelname aan sport en fisieke rekreasie van technikonstudente met spesiale verwysing na die Orange-Vrystaat

Loading...
Thumbnail Image
Date
1987-06
Authors
Venter, Everhardus Johannes
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Hierdie verhandeling het eerstens ten doelom die toeretiese grondslae met betrekking tot bewegingskundige studies van vryetyd en vryetydsbesteding na te gaan ten einde 'n teoretiese verwysingsraamwerk vir die empiriese gedeelte van die studie te bepaal. Die klem val hier op die tyd en ruimtelike aspek van menslike beweging, waar tyd in besonder na vryetyd verwys, ruimte na die natuurlike- en geskepte omgewing wat die mens aanwend vir die benutting van sy vryetyd * en beweging na daardie aktiwiteite wat in hoofsaak tydens vrye tyd * beoefen word. In plaas van 'n holistiese, segmentalistiese of pluralistiese benadering volg die navorser 'n fenomenologiese benadering vir die beskrywing van vryetyd. In navolging van die beskrywende paradigma van Immorlica val die fokus in die studie op dieveelheid van dimensies van vryetyd. Vryetyd is ingevolge hierdie benadering in verskeie dimensies verdeel. Vir die dimensionele kategorisering van vryetyd is slegs die sentrale idee gebruik wat in die verskillende definisies oor vryetyd vervat is. Hiervolgens is vryetyd verdeel in universele, unieke, supraorganiese, organiese, dinamiese en statiese dimensies, as synde algemene dimensies en kwantitatiewe, ruimtelike, kwalitatiewe, funksionele, kognitiewe, konfigurale, idiële, reële en gekonstrueerde dimensies, as synde besondere dimensies daarvan. Wat die verhouding tussen vryetyd, rekreasie, spel en sport betref, is in teenstelling met die integrasionistiese, segmentalistiese en molekulêre benadering, 'n kwalitatiewe benadering in die studie gevolg. Rekreasie, spel en sport is as die konkrete onderbou van die kwalitatiewe dimensie van vryetyd beskou. Binne die bestek van die kwalitatiewe benadering is die empiriese, normatiewe en psigologiese paradigmas met betrekking tot vryetyd, spel, rekreasie en sport geakkomodeer. Die belangrikheid van vryetyd en die sinvolle benutting daarvan is by wyse van 'n omvangryke literatuurstudie ondersoek. 'n Omvattende studie is gemaak van spel, rekreasie en sport as synde die kwalitatiewe onderbou van vryetyd. Uit die literatuur blyk dit dat spel oor 'n intrinsieke beloning beskik en derhalwe hoofsaaklik proses-georiënteerd is. Rekreasie is dus weer 'n emosionele ervaring en aktiwiteit en is dus proses- sowel as produkgeoriënteerd. Beide verteenwoordig positiewe komponente van vryetyd. Sport daarenteen is in hoofsaak produk-georiënteerd. Vryetyd is 'n belangrike komponent van die daaglikse lewe van die student. Die student is inderwaarheid nie alleen "homo faber" - mens die werker nie, maar ook "homo ludens" - mens die speler. Voortreflike en produktiewe akademiese arbeid is daarom net so noodsaaklik vir die student as positiewe produktiewe vryetyd en dit setel in 'n besonder rekreatiewe sportervaring. Daarom moet spel steeds die grondslag van die rekreasie- en sporthandeling bly. Daarsonder word beide aktiwiteite gestroop van hul kwalitatiewe inhoud, word die kwalitatiewe waarde daarvan gereduseer tot die momentele en is dit nie meer 'n ryke lewenservaring nie. Wat die praktiese ondersoek betref, is 'n opname gemaak van die behoeftes- en deelnamepatrone ten opsigte van sport en fisieke rekreasie van die studentekorps aan die Technikon O.V.S. In die verband is ondersoek, ingestel na die invloed van veranderlikes soos geslag, ouderdom, kursus en woonplek op die sport- en fisieke rekreasie behoeftes- en deelnamepatrone. Die ondersoek toon dat die genoemde veranderlikes 'n beduidende invloed op die deelnamepatroon van die technikonstudent wat sport en rekreasie betref uitoefen. Oor die algemeen dui die studentegemeenskap se aktiewe deelname aan sport en rekreasie op 'n gunstige syfer van bykans 70%. Wat die 30% fisiek onaktiewe studente betref, behoort stappe geneem te word om die groep tot deelname, veral wat fisieke rekreasie betref, aan te moedig. Die oorgrote meerderheid van die damestudente is sterk ten gunste van massadeelname, terwyl die manstudente voorkeur gee aan daardie aktiwiteite met 'n oorheersende kompetisie-element. Aangesien die studentegemeenskap se voorkeure met betrekking tot sport en rekreasie na hul toetrede tot die technikon wegbeweeg van die tradisionele sportsoorte wat op skoolvlak beoefen is, kan die geleentheid benut word om veral die manstudente aan te spoor om in 'n groter mate aktiwiteite te beoefen waar die intrinsieke beloning sterker figureer.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Human Movement Science))--University of the Free State, 1987, Free State, South Africa, Students, Leisure
Citation