Doctoral Degrees (Industrial Psychology)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Industrial Psychology) by Subject "Consequensialistic approach"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Die ontwikkeling van 'n werksetiekvraelys gebaseer op 'n holistiese filosofiese model van etiese besluitneming(University of the Free State, 2009) Boshoff, Estelle; Bester, C. L.Afrikaans: Onetiese gedrag is ‘n algemene tendens in die huidige werksituasie waar daar ‘n verval in etiese gedrag op nasionale sowel as internasionale vlak binne organisasies blyk te wees. Onetiese gedrag waaronder omkopery, nepotisme, bedrog en korrupsie word dan ook algemeen in Suid-Afrikaanse organisasies aangetref. Onetiese gedrag kan finansiële gevolge en markverwante risiko’s vir organisasies inhou en negatiewe mediablootstelling tot gevolg hê. Behalwe die negatiewe gevolge wat onetiese gedrag vir organisasies inhou, het onetiese gedrag ook ‘n lae moreel onder werknemers en ’n hoë werknemeromset tot gevolg. Die negatiewe gevolge wat onetiese gedrag vir organisasies sowel as die Suid-Afrikaanse ekonomie inhou, noodsaak ‘n fokus op faktore wat ‘n invloed op etiese gedrag, en spesifiek werksetiek, mag uitoefen. Huidige navorsing ondersteun ‘n persoon-situasie-interaksiebenadering tot etiese besluitneming waar beide individuele en situasionele faktore die besluite wat die individu neem, beïnvloed. Betreffende individuele faktore wys navorsers daarop dat die individu se etiese besluitnemingsfilosofie die wyse waarvolgens etiese probleme hanteer word en die gedragsbesluite wat geneem word, beïnvloed. Vanuit die literatuur het dit geblyk dat verskillende outeurs verskillende filosofiese benaderings rakende etiese besluitneming geïdentifiseer het. Daar bestaan egter nie ‘n model wat hierdie benaderings integreer nie. Verder het dit ook vanuit die literatuur geblyk dat daar binne die Suid-Afrikaanse konteks ‘n behoefte bestaan aan die ontwikkeling van ‘n betroubare en geldige werksetiekvraelys wat individue se etiese besluitnemingsbenadering sowel as vlak van etiese gedrag, bepaal. Derhalwe was die doel van hierdie studie tweërlei: Eerstens is ‘n holistiese filosofiese model van etiese besluitneming ontwikkel. Die model het die volgende ses filosofiese benaderings rakende etiese besluitneming geïntegreer, naamlik die reëlgebonde benadering; die konsekwensialistiese benadering; die reëlgebonde-konsekwensialistiese benadering; die deuggebaseerde benadering; die sosiale regverdigheidsbenadering en relativisme. Tweedens is ‘n werksetiekvraelys (Werksoortuigingsvraelys) (WOV) ontwikkel wat op ‘n steekproef van vyfhonderd-vier-en-twintig proefpersone afgeneem is. Itemontleding en seleksie van items vir die finale vraelys is uitgevoer deur van verkennende en bevestigende faktorontleding gebruik te maak. Vanuit die statistiese ontledings is daar tot die volgende gevolgtrekkings gekom betreffende doelstelling 1 en doelstelling 2 van die WOV. Doelstelling 1 (Skaal A): Die bepaling van die individu se vlak van etiese gedrag Skaal A beskik oor ‘n bevredigende inhoudsbetroubaarheid. Verder blyk dit dat wat die geldigheid betref (konstrukgeldigheid), die konstruk, vlak van etiese gedrag goed gedefinieer word. Doelstelling 2 (Skaal B): Identifisering van die filosofiese benaderings wat tydens etiese besluitneming gevolg word - Betreffende die ses filosofiese benaderings rakende etiese besluitneming wat vanuit die literatuur geïdentifiseer is, is daar eerstens eendimensionaliteit vir die benaderings veronderstel. Vanuit die statistiese ontledings blyk dit dat die ses benaderings elk ‘n bevredigende inhoudsbetroubaarheid toon. Verder blyk dit dat wat die geldigheid betref (konstrukgeldigheid), die konsep filosofiese benaderings rakende etiese besluitneming (ses- faktorstruktuur) goed gedefinieer word en dat die ses-faktorstruktuur ‘n goeie passing en ‘n bestendige metingsmodel toon. - Vervolgens is al tweehonderd-en-vyftien items aan verkennende faktorontleding onderwerp sonder dat enige vooraf geïdentifiseerde faktorstruktuur veronderstel is. Daarna is bevestigende faktorontleding op die nuwe faktorstruktuur toegepas. Drie faktore het na vore gekom, naamlik die reëlgebonde, konsekwensialistiese en diskresionêre benaderings. Die drie benaderings het elk ‘n bevredigende inhoudsbetroubaarheid getoon. Verder blyk dit dat wat die geldigheid betref (konstrukgeldigheid), die konsep filosofiese benaderings rakende etiese besluitneming (drie-faktorstruktuur) goed gedefinieer word en dat die drie-faktorstruktuur ‘n goeie passing en ‘n bestendige metingsmodel toon. Daar kan derhalwe met die ses-faktorstruktuur of met die alternatiewe drie- faktorstruktuur gewerk word. Die belangrike waarde van die studie blyk vanuit die feit dat dit die behoefte aan ‘n betroubare en geldige werksetiekvraelys vir die Suid-Afrikaanse konteks aangespreek het. Hierdie meetinstrument verskaf nie net ‘n aanduiding van die individu se vlak van etiese gedrag nie, maar ook die benadering wat tydens etiese besluitneming gevolg word.