Doctoral Degrees (Economics and Finance)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Economics and Finance) by Subject "Development indicators"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access The development status of women in South Africa: patterns, progress and profiles(University of the Free State, 2009/02/06) Booysen-Wolthers, Annelize; Fourie, F. C. v. N.; Botes, L. J. S.Afrikaans: ‘n Soeke na redes vir die voortgesette onderskeiding van vroue as synde die armstes onder die armes, ongeag ontwikkelingspogings oor dekades, gee noodwendig aanleiding tot die behoefte om vroue se ontwikkelingstatus te evalueer. In die geval van Suid-Afrika met sy progressiewe geslagsgelykheidsbeleide, getuig sodanige evaluering ook van die sukses waarmee die integrasie van genderaangeleenthede in die samelewing neerslag gevind het in die welsyn van vroue. Die ontwikkelingstatus van vroue in Suid-Afrika, asook die veranderinge in hierdie verband tussen 1996/98 en 2001/3, staan sentraal in hierdie studie. ‘n Gender-gedisaggregeerde aanpassing van die Menslike Ontwikkelingsindeks (MOI) (Engels: Human Development Index – HDI) is ontwikkel en toegepas op Suid-Afrikaanse nasionale en provinsiale data ten einde verskille in die veranderingsvlakke en –koerse van vroue se ontwikkelingstatus vergeleke met dié van mans te bepaal. Die ontwikkelingsgebiede waarop die MOI gebaseer is, is ondersoek om areas wat besonder swak vaar ten opsigte van vroulike ontwikkelingstatus te identifiseer. Die meting van Suid-Afrikaanse vroue se welsyn is uitgebrei deur die MOI-gebaseerde meetinstrumente aan te vul met die Genderontwikkelingsindeks (Engels: Gender Development Index – GDI), die Genderbemagtigingsmaatstaf (Engels: Gender Empowerment Measure – GEM), asook met twee indikatore van ‘magstatus’ – die Besluitnemingsindeks (Engels: Decision-Making Index – DMI) en die Drempelmaatstaf van Vrouestatus (Engels: Threshold Measure of Women’s Status – TMWS). Elk van hierdie indekse bied slegs een perspektief op vroue se ontwikkelingstatus wat ‘n gefragmenteerde beeld verskaf. Ten einde ‘n breër-gebaseerde, holistiese beeld van vroue se welsyn te voorsien, word voorgestel dat ‘n stel indekse gekombineer word in ‘n metingsraamwerk, genaamd die Vroue-ontwikkelingstatusprofiel (Engels: Women’s Development Status Profile – WDSP). Hierdie evaluering van vroue se welsyn vanuit ‘n aantal perspektiewe dra by tot ‘n meer ewewigtige waardebepaling. Die bevindinge van die studie kan soos volg opgesom word: • Tussen 1996 en 2001 het die ontwikkelingstatus van Suid-Afrikaanse vroue op nasionale vlak afgeneem, in sowel absolute as (veral) relatiewe terme. • Hierdie nasionale tendens was teenwoordig dwarsoor die nege provinsies, ofskoon in wisselende mate. • Vroue woonagtig in provinsies met ‘n vooraf bestaande swak absolute ontwikkelingstatus blyk voorbestem te wees om ook ‘n swak ontwikkelingstatus relatief tot mans te hê. • Daar is ‘n kennelike verskil tussen die provinsies ten opsigte van hul absolute en relatiewe ontwikkelingsvlakke. Alhoewel provinsiale rangordepatrone nie noemenswaardig verander het tussen 1996 en 2001 nie, het inter-provinsiale prestasieleemtes ten opsigte van vroulike ontwikkelingstatus in sowel absolute as relatiewe terme gekrimp. • Onderwyl vroulike ekonomiese aktiwiteit in 1996 die vernaamste swak plek op ‘n absolute vlak was, het vroulike lewensverwagting te en 2001 te voorskyn getree as ‘n nuwe knelpunt. Werkloosheid en ongeletterdheid was die swakste punte in terme van relatiewe vroulike ontwikkeling. Die snelle afname in vroulike laerskool bruto inskrywingsratio’s tussen die twee jare verdien verdere ondersoek. • ‘n Vergelyking van die vyf gender-spesifieke indekse het die provinsiale rangordening van die Wes-Kaap en Gauteng bevestig as die beste presteerders in terme van die ontwikkelingstatus van vroue, met Limpopo as die swakste presteerder. In hierdie verband was daar by ander provinsies minder duidelike tendense te bespeur. • Die Vroue-ontwikkelingstatusprofiel (‘WDSP’) toon die relatiewe hoë ontwikkelingstatus van vroue in die Wes-Kaap en Gauteng vergeleke met ander provinsies, terwyl die vroue van Limpopo die swakste vroulike ontwikkelingstatus vir die jare 1996/98 en 2001/03 gehad het. • Die onderskeiding wat die Profiel (‘WDSP’) moontlik maak tussen ontwikkelingspotensiaal en werklike ontwikkeling onthul dat vroulike ontwikkelingspotensiaal betekenisvolle vordering gemaak het tussen 1996/8 en 2001/3, wat neerslag vind in ‘n meer ewewigtige Vroue-ontwikkelingstatusprofiel. Die beduidende afname in die werklike ontwikkelingstatus van vroue, grotendeels toe te skryf aan ‘n afname in lewensverwagting (en bes moontlik verbandhoudend met die impak van MIV/Vigs), is desnieteenstaande besonder onrusbarend. Hierdie proefskrif bied ‘n holistiese en omvattende metingsraamwerk vir die evaluering van die ontwikkelingstatus van vroue, wat hopelik sal lei tot toepaslike beleidstappe en sosiale veranderinge ten einde volhoubare ontwikkeling te verseker.