Doctoral Degrees (Economics and Finance)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Economics and Finance) by Author "Pool, Antonie"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Poverty and migration in a transformed South Africa(University of the Free State, Jan-16) Pool, Antonie; Booysen, Frederik le RouxAfrikaans: Ten spyte daarvan dat armoede die fokus van baie streeks-, nasionale en internasionale beleidsraamwerke is, leef 54% van die Suid-Afrikaanse bevolking steeds in armoede. Onderwyl dit moeilik is om aan armoede te ontkom, is dit ’n groter uitdaging om die oordrag van armoede tussen generasies te verbreek. Individue en huishoudings wend hulle tot metodes soos migrasie om uit die armoedekringloop te ontsnap. Die doel van die studie was die bestudering van die verband tussen armoededinamika en migrasie in ’n getransformeerde Suid-Afrika. ’n Tweeledige benadering is in die studie gebruik om hierdie verbande te ondersoek. Die eerste benadering het ondersoek ingestel na interhuishoudingsdinamika deur op armoede en die oordrag van intergenerasie-armoede vanaf kern- na dinastiehuishoudings te fokus. Die eerste benadering het ook ondersoek ingestel na migrasie en geldsendings (oordragte) in kern- en dinastiehuishoudings en die invloed daarvan op armoede in dinastiehuishoudings. Die tweede benadering het intradinastiehuishoudingsdinamika verken deur kern- en nie-kernlede in dinastiehuishoudings te vergelyk. Die invloed van die kenmerke van kern- en nie-kernlede op die welsyn van dinastiehuishoudings is ook in hierdie benadering ondersoek. Om hierdie doelwitte te bereik, het die studie gebruik gemaak van die data van die KwaZulu-Natal Income Dynamics Study (KIDS). Die bevindinge van die eerste analitiese benadering dui daarop dat post-apartheid dinastiehuishoudings beter daaraan toe is as hul kern-eweknieë vanweë die hoër gemiddelde en mediaanvlakke van huishoudelike besteding, asook die laer vlakke ten opsigte van die voorkoms, die diepte en die felheid van armoede. Die analise bied bewyse vir die voorkoms van intergenerasie-oordrag van armoede by huishoudings in KwaZulu-Natal. Die waarskynlikheid dat ’n dinastiehuishouding arm sal wees, neem met 40.3% toe indien die huishouding ’n kroniese armoede-agtergrond het. Die bevindinge dui ook op die relatief hoër mobiliteit van kernhuishoudings in die post-apartheid era as vroeër in die laat-apartheid era. Hierdie studie bevestig ook dat migrasie ’n huishoudelike risikoverspreidingstrategie is deurdat dinastiehuishoudings uit ’n kroniese armoede-agtergrond meer waarskynlik is om te migreer, terwyl migrerende dinastiehuishoudings beduidende laer vlakke van armoede as nie-migrerende dinastiehuishoudings ondervind. Die mede-versekeringsmotief vir oordragte is ook bevestig, aangesien dinastiehuishoudings uit ’n kroniese armoede-agtergrond meer waarskynlik is om oordragte te ontvang, terwyl die armoedevlakke ook beduidend laer is in geval van dinastie-huishoudings wat oordragte ontvang. Die bevindings van die tweede analitiese benadering onthul die belangrikheid van intrahuishoudelike dinamika rakende armoede in dinastiehuishoudings. Die bevindings laat blyk dat kern-individue deurslaggewend is vir die voortbestaan van dinastiehuishoudings en waarskynlik ook meer mag bydra tot armoedeverligting in sodanige huishoudings as niekernlede gegewe hul hoër vlakke van opleiding, sosiale kapitaal, arbeidsmarkdeelname en indiensname, asook groter betrokkenheid by oordragte en die ontvangs van maatskaplike toelaes. Die bevindinge van die tweede benadering suggereer ook dat die sosiale kapitaal van familielede belangrik is vir armoedeverligting. Die studie dra by tot die literatuur oor armoede in soverre dit ondersoek instel, enersyds na die verband tussen armoede en armoededinamika en andersyds tussen migrasie en oordragte. Die studie dra ook by tot die literatuur rakende migrasie en oordragte en dra by tot ons begrip van die verband tussen migrasie en die armoededinamika in Suid-Afrikaanse huishoudings.