Doctoral Degrees (African Languages)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (African Languages) by Subject "Foreign language"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access ’n Voorgestelde onderrigmodel vir die aanleer van Afrikaans as vreemde taal in ’n aanlyn omgewing(Universiteit van die Vrystaat, 2021) Stander, Alison Gretchen; van Niekerk, A.; van der Waal, M. C.𝑨𝒇𝒓𝒊𝒌𝒂𝒂𝒏𝒔 Die onderrig van Afrikaans as vreemde taal binne ʼn aanlyn omgewing het met die aanvang van die studie in 2017 nog nie veel aandag ontvang nie. Die navorsing wat vir hierdie proefskrif onderneem is, het eerstens gefokus op die ontwikkeling van ʼn aanlynvreemdetaalonderrigmodel en tweedens op die kritiese evaluering van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Owerheid (SAKO/SAQA) geakkrediteerde 𝘎𝘦𝘴𝘦𝘭𝘭𝘪𝘨 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴 (GA)-kursusse gerig op vreemdetaalverwerwing met betrekking tot die voorgestelde onderrigmodel. Die evaluering sal dit moontlik maak om tekortkominge in die kursusse (soos dit in 2017-2019 daaruit gesien het - ʼn aanlyn omgewing van onderrig impliseer noodwendig kontinue opdatering en vernuwing) te identifiseer en aanbevelings te maak. 𝘎𝘈-1 en 𝘎𝘈-2 is vreemdetaalaanleerderkursusse wat deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat aangebied word. Die kursusse bied geleentheid aan volwassenes om Afrikaans as vreemde taal aan te leer. Studente wat vir hierdie twee kursusse registreer, het onderskeidelik óf geen voorafkennis van Afrikaans nie óf beskik oor ʼn bietjie passiewe kennis van Afrikaans, maar nie die aktiewe vermoë tot kommunikasie nie. Dit is aanvanklik as gemengde leerkursusse aangebied en in 2017 is die inisiatief geneem om dit verder om te bou vir ʼn volledige aanlyn onderrigomgewing om ook vir volwassenes buite die UV se direkte voedingsgebied geleentheid te gee om Afrikaans aan te leer. Naas die literatuurstudie, het die ondersoek van ʼn multifase-gemengdenavorsingsmetode gebruik gemaak. Die eerste fase van die studie het plaasgevind voordat studente (respondente in die studie) met die kursusse begin het. Tydens hierdie fase is studente gevra om ʼn behoefte-analisevraelys te voltooi, wat grootliks kwantitatiewe data gegenereer het. Fase twee van die studie het plaasgevind nadat dieselfde studente die GA-kursusse voltooi het. Tydens die tweede fase is die studente gevra om aan ʼn individuele onderhoud deel te neem en ʼn evaluasievraelys te voltooi. Die resultate van die behoefte-analises het getoon dat studente wat vir die kursusse ingeskryf het Afrikaans wil aanleer om dit veral in ʼn sosiale opset te gebruik. Die studente wil ook in staat wees om eenvoudige Afrikaanstalige kommunikasie te verstaan om daarop te kan reageer. Die behoefte-analise het die studente se voorkeuraktiwiteite in terme van onderrig (taalverwerwing) en onderwerpe (kursustemas) geïdentifiseer. Die evaluasievraelys is gebruik om vas te stel tot watter mate die GA-kursusse aan die behoeftes en die verwagtinge van die studente voldoen het. Die onderhoude is gebruik om meer detail aangaande die evaluasie van die kursusse en ander aspekte van die aanlyn platform vas te stel. Om die parameters van ʼn ideale aanlyn onderrigmodel te kon identifiseer, is ʼn literatuurstudie met betrekking tot taalonderrigbenaderings en -metodes, volwassene-leer teorieë en aspekte rondom taalverwerwing (leer) in ʼn aanlynomgewing bespreek. Die ondervinding wat die navorser as fasiliteerder van die GA-kursusse opgedoen het en die data van die respondente (vraelyste en onderhoude) is ook gebruik in die ontwikkeling van die voorgestelde vreemdetaalonderrigmodel. Die model bestaan uit drie hoofkomponente: 𝘵𝘢𝘢𝘭𝘷𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘸𝘪𝘯𝘨, 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘰𝘭𝘸𝘢𝘴𝘴𝘦 𝘴𝘵𝘶𝘥𝘦𝘯𝘵 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘮𝘰𝘥𝘶𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘢𝘢𝘯𝘣𝘪𝘦𝘥𝘪𝘯𝘨. Elke komponent behels riglyne ten opsigte van die wyse waarop dit in ʼn aanlyn omgewing toegepas moet word. 𝘛𝘢𝘢𝘭𝘷𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘸𝘪𝘯𝘨 fokus op die taalvaardighede wat in ʼn vreemdetaalkursus ontwikkel moet word en watter taalonderrigbenaderings en -metodes daardie vaardighede die beste aanspreek. Die 𝘷𝘰𝘭𝘸𝘢𝘴𝘴𝘦 𝘴𝘵𝘶𝘥𝘦𝘯𝘵 fokus op riglyne vir die ontwerp van ʼn kursus om effektiewe leer vir volwassenes te bewerkstellig. Die 𝘮𝘰𝘥𝘶𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘢𝘢𝘯𝘣𝘪𝘦𝘥𝘪𝘯𝘨 is in vyf subkomponente verdeel wat op die ontwerp van leermateriaal, assessering en terugvoer, kursushulpbronne, kursusontwerp en die rol van die fasiliteerder fokus. Aan die hand van die toepassing van die ideale (voorgestelde) aanlyn onderrigmodel vir taalverwerwing op die GA-kursusse, is daar bevind dat dit oor die algemeen goed saamgestel is en meestal aan die riglyne van die voorgestelde model voldoen. Die belangrikste aanbevelings en/of gebreke setel rondom die gebrek aan kommunikasie (op die leerplatform) tussen die fasiliteerder en die studente, die tekort aan reflekteringsaktiwiteite en die eensydige sosiale aanwesigheid van die fasiliteerder. Die ondersoek kan ʼn bydrae lewer tot aanlyn onderrig vir vreemde tale en spesifiek ook vreemdetaalonderrig in ʼn Suid-Afrikaanse konteks en vergelykbare (“low tech”) omgewings (kontekste) wat betref die uitdagings en beperkinge met betrekking tot tegnologie en data. Die ondersoek lewer ook ʼn bydrae tot die opdatering en verbetering van tans die enigste geakkrediteerde kortleerprogram vir Afrikaans as vreemde taal. ___________________________________________________________________