Masters Degrees (Odeion School of Music)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Masters Degrees (Odeion School of Music) by Author "Human, J. L. K."
Now showing 1 - 3 of 3
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Die ontstaan van legato soos beïnvloed deur die vervolmaking van die fortepiano(University of the Free State, 1985-12) Bruns, Jeanette Dalina Herholdt; Human, J. L. K.Afrikaans: Die oorkoepelende term, fortepiano, sluit die ganse familie van klaviatuurinstrumente, met snare en hamermeganiek, in. Fortepiano is die eerste Italiaanse benaming wat aan die instrument gegee is, tans in Afrikaans as klavier bekend. Toonproduksie by die klavier geskied deur middel van hamerslae op gespanne snare. Hierdie metode van toonproduksie lei daartoe dat die klavier in wese 'n slag- of perkussie-instrument is. Ten spyte van die perkussiewe aard van die klavier, word legato as een van die belangrikste speelmaniere in klaviervoordrag beskou. Legato, 'n Italiaanse begrip, beteken: musiek wat voorgedra word met 'n gladde verbinding tussen die tone en wat in musieknotasie met 'n fraseboog aangetoon word. Legato vind sy oorsprong in die middeleeuse musieknotasie (neume), legatura. Die legatura dui twee toonhoogtes, sowel as twee nootwaardes aan. Die oorsprong van die klavier kan so ver teruggespoor word as die dulcimer - 'n instrument wat in die Midde-Ooste ontstaan het. Die Pantaleon het uit die dulcimer ontwikkel en het uit 276 snare bestaan wat met hamers beslaan is. Bartolomeo Christofori het volgens oorlewering, die eerste klavier met hamermeganiek in 1709 gebou. Sedertdien is drastiese verbeterings in die instrument aangebring. Die klavier bekom sy finale vorm in 1874 met die toevoeging van die sostenutopedaal deur H.E. Steinweg. Elke klavier bestaan uit die volgende hoofonderdele: houtraam, klankbord met 'n kort en 'n lang brug, staalraam, snare wat oorkruis gespan is, hamer- en dempermeganiek (wat die pedale insluit), klawerbord en kabinet. Vanweë die bou van die klavier en die metode van toonproduksie, is daar sekere eienskappe wat legatospel bevoordeel en benadeel. Eienskappe wat legatospel in klaviermusiek benadeel is: - Die klavier bestaan uit 88 verskillende instrumente, kompleet met klawer, hamer- en dempermeganiek en gespanne snaar. - Die snare, hamers en dempers is nie identiese onderdele nie, maar word in drie registers gegroepeer. Die aanpassings in toonproduksie geskied daarom van klawer tot klawer, register tot register. - Die intensiteit van die toon is op sy grootste net nadat die snaar deur die hamer aangeslaan is. Daarna sterf die toon geleidelik weg. Legatospel word hierdeur benadeel, omdat 'n konstante geluidstroom op die klavier ontbreek. - Geraas in klavierspel word veroorsaak deur stampgeluide van byvoorbeeld die hamerkop wat teen die snaar bons. Geraas in klavierspel is te alle tye teenwoordig. Geraas benadeel die legatolyn, omdat dit verdere onderbrekings in die geluidstroom veroorsaak. Eienskappe wat legatospel in klaviermusiek bevoordeel is: - Pedaalgebruik maak simpatieke vibrasies moontlik. Sodoende word die toonduur verleng en 'n langer toonduur bevoordeel legatospel. - 'n Nie-perkussiewe aanslag bevoordeel legatospel. Die nieperkussiewe aanslag geskied wanneer geraas tot 'n minimum verminder word. Dit geskied deur klawerneerdalings voor te berei deur middel van 'n elastiese polsgewrig. Nie-perkussiewe aanslae het klein toonintensiteite en lang toondure tot gevolg. - Legatospel word ook bevoordeel wanneer die korrekte klawerneerdaling met die tydsverloop tussen klawerneerdalings gekoërdineer word. Die akoestiese eienskappe van legatospel is nie slegs veronde aan die onderdele van die instrument nie, maar ook verbonde aan die geslote area soos die konsertsaal waar klavieruitvoerings plaasvind. Klank wat in so 'n geslote area geproduseer word, word op twee verskillende maniere deur die luisteraar waargeneem: direk en indirek. Die indirekte klank word talle kere weerkaats en beinvloed legatospel ten sterkste. Om legatospel korrek waar te neem is dit ook noodsaaklik om die anatomiese en fisiologiese werking van die gehoororgaan en fisiese speelapparaat (hand en arm) van nader te beskou. Ten slotte word legatospel in styltydperke beskou. Die stylgebondenheid van legatospel is 'n kulminasie van al die voorafbespreekte fasette van die begrip, legato.Item Open Access Die waarde van algemene leerteorieë vir die klavieronderwyser met spesiale verwysing na die omlyningsmetode van Abby Whiteside(University of the Free State, 1990-11) Van Zyl, Elsa Johanna; Human, J. L. K.Afrikaans: Die verhandeling word ingelei deur 'n probleemstelling waarin die redes vir en metode van navorsing uiteengesit word. Hoofstuk een word aan 'n historiese oorsig van klavierpedagogiek gewy. Daar word gepoog om aan te dui hoe uiteenlopende faktore klavieronderrig en -tegniek beïnvloed het. Die ontwikkeling van die klavier as instrument en die opkoms van virtuositeit in die 19de eeu het In belangrike rol gespeelom onderrigmetodes te beïnvloed. Die bydraes van bekende klavierpedagoë word kortliks bespreek. Hierby is die vroeë klawerbordspelers, die Weense skool van klavierspel en die meer tegniese benadering van die vorige eeu ingesluit. Denkrigtings in die twintigste eeu wissel van oorbeklemtoning van die speelapparaat tot die ontdekking van die rol van die brein in klavierspel. Hedendaagse pedagoë streef na 'n gebalanseerde benadering wat uit die kennis van die verlede sowel as nuwe bevindings put. Hoofstuk twee is 'n bespreking van toepaslike opvoedkundig-sielkundige beginsels. Namate kennis van die leerproses toeneem, behoort onderrigmetodes ook te verbeter. Die doelstellings van klavieronderrig word in oënskou geneem, asook die vereistes wat aan 'n klavieronderwyser gestel word. Aangesien die meeste hedendaagse leerteorieë uit bekende denkrigtings ontwikkel het, word 'n kort historiese perspektief van opvoedkundig- sielkundige beginsels gegee. Faktore wat die leerproses beïnvloed word bespreek. Daar word ook kortliks aangetoon hoe algemene leerbeginsels op die leerprosesse van klavierspel van toepassing gemaak kan word. Die bydraes van enkele prominente opvoedkundiges word ingesluit. Hoofstuk drie beskryf die metode van omlyning van die vorm ("outlining") wat deur 'n Amerikaanse pedagoog Abby Whiteside ontwikkel is. Sy het bevind dat 'n gebrek aan 'n geheelbeeld ('n totale klankvoorstelling) die oorsaak van baie pianistiese probleme is. Hierdie oortuiging kom ooreen met die Gestalt-teorie, wat in die vorige hoofstuk as 'n belangrike leerbeginsel uitgesonder is. Whiteside se aanwending van die omlyningsmetode by die aanleer van In aantal Etudes van Chopin word uiteengesit. Haar houding jeens tradisionele klavieronderrig word ook in oënskou geneem. Hoofstuk vier is 'n evaluering van Abby Whiteside se omlyningsmetode. 'n Aantal klavierleerkragte is gevra om die metode met leerlinge op die proef te stel. Deur middel van 'n vraelys is verslag van die leerlinge se vordering gedoen. 'n Hele aantal insiggewende bevindings het uit die ondersoek geblyk. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat dit die moeite loon om kennis te neem van die ontwikkeling op die gebied van die opvoedkundige sielkunde. Nuwe onderrigbenaderings kan met vrug op die proef gestel word.Item Open Access 'n Vergelykende ondersoek na die betekenis van die klaviersertifikaateksamens van verskillende eksaminerende liggame in die musikale ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse klavierleerling(University of the Free State, 1982-06) Fourie, Louie; Human, J. L. K.Afrikaans: Die eerste hoofstuk is gewy aan 'n bespreking van die terminologie, evaluering en meting om sodoende 'n uiteindelike definisie van die begrip musiekeksamen te bepaal. 'n Eksamen word as een van die belangrikste evalueringsprosesse beskou en 'n duidelike afbakening van die begrip skyn noodsaaklik te wees ten einde die plek en waarde daarvan te begryp. Hoofstuk twee is gewy aan 'n bespreking van die oorsprong van die musiekeksamenstelsel in Suid-Afrika. Die historiese prosesse in die ontwikkeling van die musiekeksamens van die Associated Board of the Royal Schools of Music, die Trinity College of Music, London en die Universiteit van Suid-Afrika is indringend ondersoek en volledig bespreek. Die huidige sowel as die ouer leerplanne van die klaviersertifikaateksamens van die Universiteit van Suid-Afrika, asook ooreenstemmende huidige leerplanne van die Britse klaviersertifikaateksamens is bestudeer en met mekaar vergelyk. Hoofstukke drie, vier en vyf is aan die bogenoemde aspekte gewy. In Hoofstuk ses is die rol en bydrae van persone wat by die musfekeksamens betrokke is, ondersoek. Die eksaminator, onderwyser, ouer en opsiener se verwantskap met die kandidaat, en die kandidaat se streservarings ten opsigte van die eksamensituasie is van naderby beskou. Die sewende hoofstuk is gewy aan die huidige situasie in Suid-Afrika. Dit wil sê die toepassing van klaviersertifikaateksamens en die invloed daarvan op musiekonderrig soos in Suid-Afrika ondervind word, is ondersoek en verskeie gevolgtrekkings en aanbevelings is gemaak. Die laaste hoofstuk bevat 'n samevatting van die ondersoek. Algemene gevolgtrekkings is gemaak, terreine vir verdere navorsing is voorgestel en die praktiese implikasies van die studie is bepaal.