Economics and Finance
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Economics and Finance by Author "De Beer, Jesse Ada"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access The impact of the proposed new capital adequacy framework on credit risk management practices of South African banks(University of the Free State, Nov-02) De Beer, Jesse Ada; Van Zyl, H.Afrikaans: Die omvang van risiko’s in die finansiële dienste-industrie is groter as ooit tevore in die huidige omgewing van globalisering en toenemende mededinging. Om in pas te bly met veranderings in die risiko omgewing sowel as met die nuutste ontwikkelings in risiko- bestuurspraktyke, word aansienlike uitdagings aan beide banke en bankreguleerders gestel. Vir banktoesighouers is die grootste uitdaging om ‘n benadering tot kapitaalregulering te ontwikkel wat vir ‘n diverse en dinamiese omgewing geskik is. Vir finansiële instellings is die grootste uitdaging om verbeterings in risikometing en bestuurspraktyke op ‘n sistematiese wyse te implementeer en terselftertyd konsepsuele probleme rakende risiko-modelspesifikasie en databeperkings te hanteer. Die Nuwe Kapitaal Reguleringsraamwerk, soos voorgestel deur die Baselse Komitee is ‘n poging om hierdie uitdagings aan te spreek. Die voorgestelde nuwe Baselse Ooreenkoms is ‘n sleutelinisiatief om bankveiligheid en gevolglik ook stabiliteit in die finansiële sektor te versterk. Dit is beide ‘n verreikende en ambisieuse hervorming gemik op die belyning van regulerende kapitaalvereistes en ekonomiese risiko. Die nuwe kapitaalraamwerk hou besliste voordele in bo die bestaande benadering. Die voorstel beweeg weg van ‘n “one size fits all” benadering tot die toesighoudende benadering tot kapitaalvereistes. In plaas van die gebruik van slegs een opsie vir die berekening van kapitaalvereistes, bestaan daar nou ‘n keuse tussen ‘n verskeidenheid benaderings tot die berekening en bestuur van kapitaal. Banke wat ‘n gesofistikeerde benadering tot risikometing en -bestuur volg, sal uit laer kapitaalvereistes kan voordeel trek. Die implementering van die voorgestelde Baselse Ooreenkoms sal verreikende implikasies vir beide individuele banke en finansiële markte inhou. Die implementering van die voorgestelde Baselse ooreenkoms sal egter verskeie uitdagings daarstel, veral in ‘n ontluikende markte konteks. Die doel van hierdie studie is om die uitdagings wat die implementering van die voorgestelde kapitaal ooreenkoms aan Suid- Afrikaanse banke en banktoesighouers stel, te identifiseer. Die mate waartoe Suid-Afrikaanse banke en banktoesighouers voorbereid is om hierdie uitdagings die hoof te bied, word ook aangespreek. Die studie konsentreer op die kredietrisikovoorstelle van die nuwe Kapitaal Ooreenkoms, asook die impak van hierdie voorstelle op Suid-Afrikaanse banke se krediet- risikobestuurspraktyke. ‘n Oorsig van die struktuur van die Suid-Afrikaanse bank sektor word teen die agtergrond van die gesofistikeerde en effektiewe Suid-Afrikaanse finansiële markte gegee en die kwesbaarheid van Suid-Afrika se status as ‘n ontluikende mark word ook aangetoon. Kwanitatiewe indikatore van die veiligheid van ‘n finansiële sektor, soos verskeie aanduiders van kredietrisiko en kapitaaltoereikendheid word gegee. Die studie sluit ook ‘n oorsig in van Suid-Afrikaanse banke se benadering tot kredietrisikobestuur, sowel as die toesighoudende benadering van die Bank Toesighoudings Departement van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Hoewel Suid-Afrikaanse banke ‘n gesofistikeerde benadering tot kredietrisikobestuur en kredietrisikograderings volg, voldoen huidige risiko graderingstelsels nie aan al die vereistes gestel deur die Baselse Kommitee om vir die interne graderingsbenadering (“IRB”) vir die berekening van kapitaalvereistes te kwalifiseer nie . Verskeie waarnemers waarsku dat belangrike voorvereistes vir die suksesvolle implementering van belangrike komponente van die Baselse Ooreenkoms in verskeie ontluikende markte afwesig is. Die resultate van hierdie studie dui daarop dat dit nie die geval in Suid-Afrika is nie. Die FSAP missie beskou Suid-Afrikaanse banktoesighouers as bekwaam en effektief. Die faktore wat die effektiwiteit van minimum kapitaalvereistes in die bevordering van bank veiligheid en stabiliteit in verskeie ontluikende markte bemoeilik, is skynbaar afwesig in die Suid-Afrikaanse banksektor. Hierdie faktore sluit die gebrek aan ‘n likiede kapitaalmark in, wat dit moontlik maak om “lae kwaliteit” kapitaal te verkry, asook ‘n gebrek aan beleidsmaatreëls soos voorsiening vir leningsverliesregulasies wat minimum kapitaalvereistes komplimenteer. Die regulerende raamwerk ten opsigte van Suid-Afrikaanse banke is inderdaad onlangs gewysig ten einde dit in ooreenstemming met internasionale praktyke te bring en om enige beperkings, soos aangedui deur die FSAP, aan te spreek. Implementering van die voorgestelde Baselse Ooreenkoms verteenwoordig nuwe terrein vir Suid-Afrikaanse bankreguleerders, insluitende die evaluering van banke se interne risiko- graderingstelsels. Suid-Afrikaanse bankreguleerders het reeds begin met spesifieke maatreëls om uitdagings, gestel deur die implementering van die nuwe Ooreekoms die hoof te bied. Suid-Afrikaanse banke het ook reeds met voorbereidings vir die implementering van die nuwe Ooreenkoms begin. Al die banke wat in die steekproef ingesluit is, het aangedui dat hulle beplan om die gevorderde interne risikograderingsbenadering (“advanced IRB”) te volg. Die huidige gesofistikeerde benadering tot kredietrisikobestuur en die gebruik van gesofistikeerde modelle in hierdie verband, verteenwoordig ‘n waardevolle platform vir die implementering van die IRB benadering. Die huidige struktuur van Suid-Afrikaanse banke se interne risiko- graderings en die algemene benadering tot die toekenning van risikograderings voldoen egter nie aan al die vereistes gestel deur die Basel Komitee vir kwalifisering vir die gebruik van die interne risiko-graderingsbenadering nie en verskeie wesenlike logistiese uitdagings bly oor. Oor die algemeen blyk dit dat Suid-Afrikaanse banke ‘n gesofistikeerde benadering tot kredietrisikobestuur volg, in ooreenstemming met internasionale standaarde. Die bevindinge van die studie dui daarop dat die groot Suid-Afrikaanse banke die uitdagings voortspruitend uit veraderings in die krediet risiko omgewing aanvaar en reeds geruime tyd besig is met die indentifisering, ontwikkeling en implementering van gesofistikeerde kredietrisiko-modelle en die organisatoriese konteks vir portefeulje-georiënteerde kredietrisikobestuur. Die studie het ook die huidige benadering van Suid-Afrikaanse banke tot interne krediet risikograderings geskets en verskeie internasionale vergelykings getref. Oor die algemeen lyk dit of Suid-Afrikaanse banke se risikograderings praktyke in lyn is met hulle internasionale eweknieë. Die gebrek aan betroubare langtermyn data rakende banklenings is ‘n sleutel uitdaging vir alle gebruikers van interne krediet-gradering stelsels wêreldwyd. Gebruikers sluit in bank- toesighouers wat die risikograderingstelsels moet evalueer vir regulerende kapitaalvereistes. Die gebrek aan sodanige data het negatiewe implikasies vir die vermoë van banke om effektiewe graderingsinstrumente te ontwikkel. Dit bemoeilik ook die verifikasie van die akkuraatheid van banke se gradering stelsels, ten einde onder andere betroubare kwantitatiewe beanderings van waarskynlikheid van wanbetaling te bereken. Al hierdie toepassings is belangrik, nie net uit die oogpunt van banke nie, maar ook uit die oogpunt van bankreguleerders (spesifiek in die lig van die voorstelle om banke se interne risikograderings vir regulerende kapitaalvereistes te gebruik). Die empiriese studie beklemtoon veral op een aspek waar die huidige Suid-Afrikaanse bankpraktyke agterweë bly by internasionale praktyke: die bekendmaking van inligting rakende krediet- risikomodelering en veral kredietrisikograderingstelsels. Dit verteenwoordig ‘n sleutel aspek wat aangespreek behoort te word alvorens die IRB benadering suksesvol geïmplementeer kan word. Behalwe die implemteringsuitdagings in individuele lande, bestaan daar kommer oor die impak van die nuwe Baselse Ooreenkoms op die stabiliteit van wêreldwye finansiële stelsels. Spesifieke faktore wat hierby ingesluit word, is die vrae oor die impak op kapitaalvloeie na ontluikende markte en die potensiële pro-sikliese impak van die nuwe Baselse Ooreenkoms. Die behoefte aan verhoogde koördinasie binne die internasionale gemeenskap ten opsigte van die agenda vir verandering in ’n toenemend geïntegreerde internasionale finansiële stelsel word uitgelig.