Systematic Theology
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Systematic Theology by Author "Deetlefs, Johannes Petrus"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Die Triniteit en die eienskappe van God(University of the Free State, 2015-02) Deetlefs, Johannes Petrus; Venter, R.Afrikaans: Die voorbeelde van vernuwende wyses waarop daar oor die Goddelike eienskappe nagedink word het een kenmerk in gemeen: in al drie die voorbeelde waarna gekyk is staan die Drie-Eenheid van die Goddelike wese sentraal tot die ontwikkeling van die eienskappe. Om enigsins sinvol oor die eienskappe van God na te dink is slegs moontlik indien sulke nadenke gedoen word vanuit die trinitariese karakter van die Lewende God. In sy bespreking van skoonheid as eienskap van God neem Edwards die volle implikasies van die Drie-Eenheid van God in ag. Dit is juis in die liefdevolle harmonie wat daar bestaan tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat die skoonheid van God bestaan. Uit die aard van God se skoonheid is dit ‘n skoonheid wat meegedeel moet word. Dit is alleen moontlik as daar ‘n meervoud in die wese van God is. Die Vader deel sy skoonheid mee aan die Seun, wat op sy beurt weer die Vader verheerlik met sy skoonheid. Vader en Seun laat hulle skoonheid deurvloei na die Heilige Gees, wat die agent in die Drie-Eenheid is wat hierdie skoonheid na die skepping oordra. Die estetiese het in die verlede nie baie prominent in die teologie na vore gekom nie. ‘n Belangrike bydrae van Edwards se beklemtoning van die skoonheid van God is dat dit die verbintenis tussen God en skoonheid opnuut onderstreep. As God skoonheid is, en die bron van alle skoonheid is, dan verkry die estetiese in die wêreld meteens nuwe betekenis. Die skoonheid in die natuur, sowel as die skone kunste (in die vorm van beeldhouwerk, skilderkuns, musiek, digkuns, argitektuur, ens.) het hulle oorsprong in die Drieënige God. Die moontlikhede wat dit vir die teologie inhou is opwindend.19 Gasvryheid as eienskap van die Christelike God beklemtoon belangrike kenmerke van God se aard wat in die tradisionele Godsleer nie na vore gekom het nie, of wat ten minste nie die kern van bespreking was nie. Ook hier vind ons ‘n sterk trinitariese benadering. Hoe kan God anders van ewigheid af ‘n gasvrye God wees as daar nie in God self ‘n meervoud van persone bestaan nie. Die Vader betoon gasvryheid aan die Seun deur aan hom die ruimte te gee om Seun te wees naas die Vader, en Vader en Seun laat die Heilige Gees deel in hulle gasvryheid teenoor mekaar in die band van liefde wat die Gees is tussen Vader en Seun. Die gasvryheid van God onderstreep die relasionele karakter van God – God is ‘n gemeenskap van drie persone. Hierdie eienskap beklemtoon ook daardie karaktertrekke van God wat sy gewilligheid om homself op te offer in sy gawe van homself weerspieël. God is beide die Gewer en die Gawe. Verder word die gesindheid van God teenoor die swakkes en gemarginaliseerdes duidelik uitgebeeld. God is by uitstek die God van die armes, verontregtes en gemarginaliseerdes. As ‘n kommunikatiewe wese is God die een wat homself in sy spreke aan die geskape mens openbaar. Ons leer God ken uit sy spreke oor homself. Hierdie kommunikasie van God beklemtoon meteens dat God Drieënig is. Die Vader kommunikeer sy wese en heerlikheid aan die Seun, wat op sy beurt die Vader verheerlik. Die Heilige Gees kommunikeer hierdie heerlikheid van Vader en Seun aan die skepping en bring daardeur lof aan God. Dit is slegs in die verhoudinge tussen die drie persone wat daar van God as ‘n kommunikatiewe wese sprake kan wees. Die Heilige Gees is ook die een wat die Bybelskrywers inspireer, sodat die Woord wat hulle neerpen, al is dit mensewoorde, steeds nog Woord van God bly. Die Heilige Gees, as kommunikatiewe agent, bring dus die Woord na die mensdom. Die implikasie hiervan is duidelik: Daar moet erns met die Woord gemaak word. Die belangrikheid van die interpretasie (hermeneutiek) van die Skrif word hier beklemtoon. Bogenoemde voorbeelde van vernuwende denke oor die Drieënige God benadruk die belangrikheid dat daar voortdurend op kreatiewe wyses, maar terselfdertyd in getrouheid aan die openbaring van God soos in die Skrif opgeteken, nuut oor God gedink moet word ter wille van die geloofsgemeenskap, sowel as die wêreld.