Die taak van maatskaplike werk ten opsigte van geestesgesondheid
Abstract
Afrikaans: Deur die eeue heen is daar op verskillende wyses hulp aan die
psigo-sosiaal versteurde gelewer. Wanneer die hulpverlening aan
die psigo-sosiaal versteurde persoon vanaf die vroegste tye in
oënskou geneem word, kan ses tydperke onderskei word waartydens
verskillende benaderings ten opsigte van die psigo-sosiaal versteurde
persoon aangehang is en waartydens verskillende wyses
van hulpverlening plaasgevind het. Hierdie tydperke is die
animistiese, die naturalistiese, die teologiese, die hospitalisasie en
afsonderings-, die rewolusionêre en die moderne tydperk.
In die moderne tydperk is die fokus op gemeenskapsgeoriënteerde
psigiatrie en op gemeenskapsgeestesgesondheid. Daar word 'n
belangrike plek aan Maatskaplike Werk toegeken in die hedendaagse
hulpverlening aan psigo-sosiaal versteurdes.
Maatskaplike Werk as professie het 'n voorkomende taak op die
geestesgesondheidsterrein. Hierdie taak omvat voorkoming in die
wydste sin van die woord en impliseer nie slegs die voorkoming van
veroorsakende faktore nie, maar die bevordering van geestesgesondheid
in die algemeen. As sodanig gaan dit dus nie net om hulpverlening
aan die psigo-sosiaal versteurde persoon nie, maar om
die daarstelling van sowel 'n geestesgesonde gemeenskap as 'n
gemeenskap wat geestesgesondheid bevorder.
Drie interafhanklike komponente van voorkoming kan onderskei word,
naamlik primêre, sekondêre en tersiêre voorkoming. Maatskaplike
Werk kan primêr-voorkomend optree deur gemeenskapsgeestesgesondheidopvoeding;
die daarstelling van voorkomingsfasiliteite en die
ontwikkeling van gemeenskappe; en deur middel van maatskaplike
groepwerk met hoë risiko-groepe. Hoewel die onmiddellike
resultate van primêre voorkoming moeilik meetbaar is, lewer dit
tog op die langtermyn positiewe resultate en behoort daarom as 'n
saak van hoë prioriteit beskou te word.
Wat sekondêre voorkoming aanbetref, bevorder drie werksterreine
van Maatskaplike Werk, te wete, personeel maatskaplike werk,
maatskaplike werk binne skoolverband en geneeskundige maatskaplike
werk, die geleentheid vir maatskaplike werkers om op sekondêre
vlak voorkomend op te tree. As gevolg van die tekort aan opgeleide maatskaplike werkers is dit egter nie altyd moontlik om aan
alle persone met probleme, hulp te verleen voordat psigo-sosiale
versteurdheid intree nie. Deur middel van krisisingryping en
konsultasie kan meer persone in 'n korter tydperk bereik word en
die probleem beperk word.
Tersiêre voorkoming noodsaak dienslewering binne multi-professionele spanverband. Enkele instellings waar maatskaplike werkers
in diens is en 'n bydrae lewer tot die tersiêre voorkoming van
psigo-sosiale versteurdheid is onder andere die psigiatriese
hospitaal die algemene hospitaal, buitepasiënt klinieke en
gemeenskapsgeestesgesondheidsentrums. Die maatskaplike werker
het 'n omvattende taak om te verrig as lid van die multiprofessionele
span, wat die volgende insluit: Intensiewe hulp
aan die psigo-sosiaal versteurde persoon met betrekking tot die
hantering van psigo-sosiale versteurdheid; die lewering van
rekonstruksiedienste ten einde voorbereiding te doen vir die
persoon se herintegrasie in die gemeenskap en nasorgdienste waar-.
tydens die maatskaplike werker die dienste van die multiprofessionele
span afrond, die persoon spesifiek help met sy inskakeling
en verdere behandeling en psigo-sosiale versteurdheid
voorkom.
As gevolg van die tekort aan opgeleide maatskaplike werkers, is dit
nie altyd moontlik om doeltreffende dienste aan alle nasorgkliënte
te lewer nie. Ten einde dié probleem te beperk, is dit
belangrik dat die maatskaplike werker die hulpdienste waaronder
byvoorbeeld die pleegsorgplasing van kliënte, klubs vir oudpasiënte,
Beskutte Arbeid en halfweghuise in die gemeenskap,
sal benut.
Doeltreffende uitvoering van die taak van Maatskaplike Werk ten
opsigte van voorkoming, op die geestesgesondheidsterrein is nie
moontlik sonder die koordinasie van dienste, gesonde beleid en
wetgewing, navorsing en opleiding nie. Dit is daarom ook die
taak van Maatskaplike Werk om te koordineer; beleid en wetgewing
daar te stel en uit te voer; navorsing te onderneem en.maatskaplike
werkers op te lei vir dienslewering.
Navorsing is noodsaaklik vir doeltreffende dienslewering en vir
die voortbestaan van die professie. Omdat op die geestesgesondheidsterrein
aan die mens in sy totaliteit aandag gegee word, is
navorsing in multi-professionele verband noodsaaklik. Dit blyk
egter dat navorsing op die geestesgesondheidsterrein deur die
maatskaplike werker nog dikwels agterweë gelaat word. Wat
opleiding betref, blyk dit dat die generies opgeleide maatskaplike
werker toegerus is vir dienslewering op die geestesgesondheidsterrein. Spesialiteitsopleiding moet egter nie uit die oog
verloor word nie en kan veral van waarde wees wanneer die maatskaplike werker In tersiêr-voorkomende diens lewer.
Ten slotte kan gestel word dat Maatskaplike Werk in belangrike
en byna onontbeerlike bydrae kan lewer ten opsigte van die hulpverlening
aan die psigo-sosiaal versteurde persoon en die bevordering
van geestesgesondheid in die algemeen.