Die musieklewe in Kroonstad tussen 1904 en 1985

Loading...
Thumbnail Image
Date
1986-01
Authors
Groenewald, Jacobus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die klem val in hierdie verhandeling op die plattelandse musiekliefhebber en amateurmusikus wat binne 'n betreklik afgesonderde gemeenskap daarin slaag om 'n kunsvorm lewend te hou. Die algemene beskouing dat musiek slegs in stedelike gebiede gedy en op die platteland 'n minderwaardige bestaan voer, word hier as verkeerd bewys. In Kroonstad is 'n gemeenskap ontdek wat gedurende die afgelope tagtig jaar getoon het dat waar hulle 'n gebrek gehad het aan stedelike vermaak soos teaters, orkeste, kore en musiekgeselskappe, hulle hierdie leemte oorbrug het en dat verstommende resultate behaal is. Op verskeie musikale terreine is besonder hoë standaarde bereik en Kroonstadse kunstenaars is lof toegeswaai wanneer hulle in groter sentra opgetree het. Terwyl daar 'n relatief klein groepie opgeleide musici was wat die musikale leiding moes gee, was dit merendeels die entoesiasme van die gewone musiekliefhebber wat die dryfkrag was agter die verskeie pogings om opera, oratorium en ander groot werke aan te pak Dit was ook hoofsaaklik die musiekliefhebbers wat verenigings gestig het om musiek te bevorder en dit is te danke aan die onvermoeide ywer van die musiekverenigings dat daar 'n voortdurende stroom van besoekende kunstenaars in Kroonstad opgetree het en waardeur kleur en afwisseling aan die dorp se musieklewe gegee is. Die verhandeling toon aan hoe die musikale behoefte en smaak van die gemeenskap deur sosiale en politieke toestande verander is en ontwikkel het. Onmiddellik na die Anglo-Boereoorlog was die musiektradisie in die hande van die Engelssprekende inwoners wat destyds 'n hoër vlak van opvoeding gehad het as die Afrikaanssprekendes. Deur die verdwyning van die Engelssprekende van die platteland, die bewuswording van 'n nasional gevoel en beter onderwys in die dertigerjare, het die Afrikaner begin toetree tot die musiekverhoog sodat hy die toneel vanaf die veertigerjare oorheers het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was die musiekaktiwiteite van die dorp toegespits op liefdadigheidskonserte ten bate van oorlogsfondse. Die periode vanaf die twintigerjare tot na die Tweede Wêreldoorlog is gekenmerk deur 'n groot populariteit van jazz - 'n genre wat na die oorlog heeltemal verdwyn het en plek gemaak het vir 'n bewuswording van ernstige musiek. Na 1945 was dit veral groot kunstenaars in ernstige musiek wat in Kroonstad vereer is. Die vyftigerjare was dan ook die hoogtepunt van musiekontwikkeling toe 'n groot groep sangers en instrumentaliste opgelei is en daar 'n aktiewe musieklewe bestaan het. Vanaf die sestigerjare het daar al hoe minder konserte deur plaaslike kunstenaars plaasgevind en sedert die laat-sewentigerjare word daar 'n gebrek ondervind aan opgeleide volwasse kunstenaars. Die rede hiervoor moet daarin gevind word dat die aanbiedings deur die Streekrade vir die Uitvoerende Kunste en die toename in die media soos televisie plaaslike inisiatief gesmoor het. Terselfdertyd is 'n onrusbarende afname in die getal musiekleerlinge by al die opvoedkundige inrigtings opgemerk wat ook daartoe bydra dat musiekbeoefening al hoe verder verwyderd raak van die gewone mens. Die verhandeling bestaan uit tien hoofstukke. Die eerste hoofstuk is gewy aan Suid-Afrikaanse en buitelandse besoekende kunstenaars soos instrumentaliste, sangers, kore, ensembles en vermaaklikheidsgroepe. In die tweede hoofstuk wrod konserte deur plaaslike kunstenaars bespreek en in verdere hoofstukke Kroonstadse kore, operaproduksies en orkeste. In hoofstuk VI word 'n oorsig gegee van die behoefte wat ontstaan het om 'n teater te hê, die oprigting van die Kroonstadse Skouburg en die benutting daarvan. Hoofstuk VII skets die rol wat tien plaaslike musiekverenigings gespeel het om musiek en kultuur te bevorder. Hoofstuk VIII behandel kerkmusiek en die hoogstaande uitvoering an gewyde musiek wat in sommige kerke plaasgevind het. Hoofstuk IX behandel die werk wat gedoen is en nog gedoen word op die gebied van musiekonderwys aan musiekskole, laerskole, hoërskole en die Tegniese Kollege. Hoofstuk X bevat biografieë en inligting oor die werksaamhede van bekende Kroonstadse musici wat as uitvoerende kunstenaars, pedagoë, resensieskrywers, koorleiers en komponiste, nie net 'n belangrike bydrae gelewer het tot die musieklewe in Kroonstad nie, maar ook in die Vrystaat en sommiges ook landwyd.
Description
Keywords
Dissertation (M. Mus.)--University of the Free State, 1986, Kroonstad, South Africa, Music, Rural areas
Citation