Harmoniese verskynsels in die eerste twaalf klavierpreludes van Debussy, met spesifieke verwysing na die begrip tonaliteit

Loading...
Thumbnail Image
Date
1982-01
Authors
Smith, Catharina
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die opmerklikste en vrugbaarste stimulasie tot die ontwikkeling in die musiekwêreld van die vroeê twintigste eeu vind ons in die musiek van Debussy, wat met sy uniek oorspronklike denke 'n verrassend nuwe, absoluut indiwiduele kwaliteit in musiek ingebring het. Die immer interessante nuwighede wat hy geskep het is deur almal opgemerk, en deur baie op 'n willekeurige wyse foutief vertolk of verbind aan hulle eie sogenaamde "wetenskaplike" of "tegniese" formules wat by nadere ondersoek blyk om nie veel meer as 'n soort fantasie-wêreld te wees nie. Dit kom dus voor of een van die kernprobleme van ons tyd is om die werklike plek van Debussy in die Musiekgeskiedenis te vind. Op sigself is dit belangrik om bewus te wees van sy nuwe akkoordgebruik, grootskaalse inkorporering van nuwighede soos heeltoon-harmoniek en pentatoniek, sy vervaging van toonsoorte met die behoud van tonaliteit as sodanig, ens. Met die oog hierop is die volgende ondersoeke gedoen: 1. Algemene sienings van verskeie skrywers in die musiekliteratuur. 2. Debussy se eie opvatting van musiek en komposisie: het hy doelbewus ikonokalsties te werk gegaan , of is hy gesteld op bande met tradisie ? 3. Die rol van programmatiese elemente in sy skeppingsproses oor die algemeen, met spesifieke verwysing naharmoniek. 4. 'n Noukeurige harmoniese analise van die eerste 12 klavierpreludes. Hierdie is 'n paar van die hoofredes vir die studie. Die begrippe is afsonderlik onder drie hoofafdelings behandel, met 'n vierde afdeling as opsomming (soos uiteengesit in die NOTA VOORAF ). AFDELING A Die algemene beskouing wat die meeste skrywers oor die musiek van Debussy huldig, is 'n gedwonge klassifisering van sy musiek onder talle "ismes" Die gerieflike formules word dikwels omskryf deur lang onsamehangende verduidelikings - wat heel dikwels daartoe bydra dat die musiek van Debussy nie reg begryp word nie. Debussy het as kaprisieuse skrywer natuurlik ook self verwarring veroorsaak: hy het bv. skerp kritiek gelewer op die bestudering van "reëls" in musiek, en het dikwels verklaar dat gedwonge analises, veral van seksies wat buite konteks geneem word, ook dat "geleerdheid" die dood van instink is. (Die res van die verhaal, naamlik dat hy self 'n absoluut suiwer en onbesproke smaak gehad het wat in die belangrikste opsigte gevorm is deur die groot musiek van die verlede, en dat dit vir 'n begenadigde genie soos hy self nie nodig was om te eksperimenteer om sodoende 'n valse aura van oorspronklikheid te skep nie, kon hy natuurlik nie so reguit stel nie. Komponiste na hom was daarenteen weer nie gewillig of by magte om hierdie selfde feite so reguit te aanvaar nie.) Baie skrywers beklemtoon dus die vooruitstrewende nuwighede in sy musiek, en soek doelbewus volgens twintigste-eeuse beskouings juis die eienskappe wat hulle in musiek wil sien. Wat dikwels baie gerieflik vergeet word is dat hy slegs aan die musikale boustene ( wat daar reeds was ) nuwe betekenisse en funksies gegee het, en dit op 'n prikkelende wyse verbind het met programmatiese bykomstighede. En, belangrikste van alles, dat hy in al sy musiek uitgaan van die standpunt van 'n komponis wat slegs eg hoef te wees om groot en uniek en nuut te wees. AFDELING B Ten spyte van die feit dat 'n tegniese harmoniese analise verbasend min opwerp wat teenoor tradisie as afbrekend of werklik versteurend beskou kan word, klink die preludes tog wel dikwels eksoties, vreemd, ongewoori en verrassend, en in geen gevalle soos enige musiek van enige ander groot toonkunstenaar voor hom vanweë 1. atmosferiese skildering wat verband hou met heel nuwe tipe programme, 2. bedrewe nuwe behandeling van die klavier as instrument, 3. imposante verskeidenheid van idees, musikaal sowel as tegnies, 4. fyn berekende detail wat betref voordragaanduidings, 5. interessante nuwe akkoordgebruike, 6. ongewone akkoordplasings, 7. nuwe benadering van toonsoorte en van tonaliteit oor die algemeen, en 8. onbetwisbare insig in die menslike psige, wat een of ander soort oriëntasie benodig in alles waarmee dit te doen kry. AFDELING C Die musiek van Debussy bly altyd wesenlik gebonde aan tonaliteit, en selfs aan toonsoorte wat baie sterk bepaal word deur tradisionele V- en I- konstruksies. Sy hantering van kadenskonstruksies is egter dikwels heel nuut, soos omskryf in AFD. B. Heelwat verrassende, indiwiduele en oorspronklike harmoniese verskynsels word verkry deur gebruikmaking van: heeltoonseksies, ongewone skakelmetodes, ens. ( Kyk AFD. C ) Tonaliteit word orals bevorder deur herhaalde melodiese motiewe of toonhoogtes of spesifieke akkoorde terwyl pedaalnote 'n opvallende belangrike rol vervul. Waar hy konstant afwyk van toonsoortbepaalde oriëntering, gee hy 'n uiters duidelike en oortuigende plaasvervanger daarvoor, soos in prelude 2, waar heeltoonharmoniek en pentatoniek as tonaliteite optree. Die vreemde, karikatuuragtige harmoniese gebruike in prelude 11 spruit uit programmatiese elemente. In musikale opsig wys dit nuwe riglyne aan, maar moet nog tradisioneelontleed word. Hier is 'n wonderlike voorbeeld van karikatuuragtige programmatiese inhoud wat deur karikatuuragtige musiek verklank word. Uit die studie het dit dus geblyk dat Debussy op 'n baie beheersde manier musikale tradisie en musikale nuwighede versmelt, en daardeur dikwels die toonsoortgevoel versteur maar nooit tonaliteit as sodanig skaad. nie. Daar is nooit sprake van eksperimenteie werk nie, en sy lieflike, sensuele klankwêreld kan nie vader staan vir die hele spektrum van groteske brutaliteit wat tans as musiek beskou word nie.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Music)) - University of the Free State, 1982, Debussy, Claude, Critique and interpretation, Tonality, Harmony, Canons, fuges, etc. (Piano)
Citation