Die ekonomie as bepalende faktor in die Suid-Afrikaanse politiek 1929 - 1936

Loading...
Thumbnail Image
Date
1989-06
Authors
Van den Berg, Jan Adriaan Hendrik
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die doel van hierdie dissertasie was primêr om ondersoek in te stel na die rol wat die ekonomie op die politiek van Suid-Afrika uitoefen. Die rede waarom die tydperk 1929-1936 gekies is, is omdat dit as 'n belangrike tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getipeer word. Dit was 'n tydperk wat inderdaad as 'n waterskeidingstydperk in die land se geskiedenis beskou kan word. Dit was 'n tydperk waarin ou begrippe as't ware afgebreek is om plek te maak vir nuwe, meer moderne begrippe. 'n Nuwe era het veral na 1934 in die Suid-Afrikaanse politiek sy beslag gekry. Die status quo ten opsigte van politieke en ekonomiese faktore tot 1928 word oorsigtelik beskou. Faktore wat deurlopend van aard was en wat 'n rol in die tydperk, onder bespreking gespeel het, is meer in detail bespreek. Daarna is 'n dieptesnit met betrekking tot die ekonomiese faktore, wat bepalend was, gemaak. Die belangrikste hiervan is die ineenstorting van die aandelemark in wall street op 29 Oktober 1929. Hierna het die ekonomie in Suid-Afrika 'n laagtepunt bereik. Die Droogte het sake net vererger en kan as 'n bydraende faktor beskou word om die Armblankedom tot sy hoogtepunt in hierdie tydperk op te stoot. Die politieke debat wat landwyd gevoer is oor die afstapping al dan nie van die goudstandaard was een van die hoogtepunte om die invloed van 'n ekonomiese gebeurlikheid op die politiek te illustreer. Die werklikheid waaroor dit gegaan het, naamlik sou Suid-Afrika enige baat vind daarby om die goudstandaard te verlaat, het later in die niet verdwyn namate partypolitici die dispuut gebruik het om persoonlike politieke gewin daaruit te behaal. Die Ekonomiese Volkskongres van 1934 het voortgevloei uit die verslag van die Carnegie Korporasie. Hierdie kongres kan beskou word as die beginpunt van die opheffing van die Afrikaner. Die ekonomiese herlewing wat na Samesmelting plaasgevind het, spreek boekdele vir Suid-Afrikaanse entrepreneuers. Die kragtige rol wat die ekonomie in hierdie tydperk gespeel het word uitgelig en daar word duidelik uitgewys hoe ekonomiese argumente selfs 'n regeringsverandering te weeg kon bring. Die tweede hooffaset van hierdie studie is die politieke gebeure van 1929-1936. Enkele hoofmomente hier was beslis generaal J.B.M. Hertzog se rol in die politiek van hierdie tydperk. Die 1929 Verkiesing het reeds die duidelike tekens getoon dat die Pakt-bewind nie meer bo verdenking was nie. Die invloed wat ekonomiese gebeure op die politiek gehad het, word ook telkens weer uitgewys. Die rol wat Tielman Roos, onder die dekmantel van die ekonomiese krisis rondom die goudstandaard, gespeel het word in hierdie gedeelte beklemtoon. Dit was immers as gevolg van sy inmenging en die onsekerheid by generaals Hertzog en Smuts oor waartoe hy instaat was, wat veroorsaak het dat Hertzog en Smuts begin saamwerk het. Die besluit van die twee generaals om eers Koalisie en daarna samesmelting aan te gaan., het veroorsaak dat die politieke gesig van Suid-Afrika 'n totale metamorfose 'ondergaan het. Dit was ook 'n manier waarop genl. Hertzog sy bekende viertal wette deur die Parlement aanvaar kon kry, omdat hy voorheen nie 'n tweederde meerderheid in die Parlement kon verkry nie. Die finale deel van die werk word gewy aan die gevolgtrekking waartoe gekom is, naamlik dat die ekonomie wel 'n bepalende rol in die tydperk 1929-1936 op die Suid-Afrikaanse politieke bestel gespeel het. Met negering van verskeie ander faktore wat wel in die tydperk 'n rol kon speel is die fokus op die ekonomies-politiese geplaas en is argumente aangevoer om die hipotese te verifieer.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (History))--University of the Free State, 1989, Economics, South Africa, Politics
Citation