Die Zuid-Afrikaansche Republiek en Delagoabaai - beveiligingspogings met betrekking tot toegang tot die see, 1889 - 1894

Loading...
Thumbnail Image
Date
1983-10
Authors
Edwards, Peter
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die ideaal om deur Delagoabaai vrye toegang tot die see te verkry, loop soos 'n goue draad deurdie geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Leiers soos A. H. Potgieter, M. W. Pretorius en T. F. Burgers het gedurende die pioniersjare van die Z.A.R. tevergeefs probeer om hierdie ideaal te verwesenlik. Trouens, Burgers se ideaal om 'n spoorwegverbinding tussen die Z.A.R. en Delagoabaai tot stand te bring was eenvan die redes waarom Brittanje die Z.A.R. in 1877 annekseer het. Na die Eerste Vryheidsoorlog het Paul Kruger hom opnuut vir die spoorwegverbinding tussen die Z.A.R. en Delagoabaai beywer. Kruger wou die Z.A.R. deur middel van die Delagoabaaispoorweg ekonomies onafhanklik van die koloniale hawens en spoorweë maak. Die Z.A.R.-regering se vrees dat Delagoabaai of die Portugese gedeelte van die Delagoabaaispoorweg in die verkeerde hande kon beland, het vanaf 1889 tot verskeie beveiligingspogings in dié verband aanleiding gegee. In Oktober 1889 is dit aan dr. W. J. Leyds opgedra om die grondgebied tussen die Z.A.R. se oosgrens en Delagoabaai van Portugal te koop. 'n Bedrag van een miljoen pond sterling is vir dié doel tot Leyds se beskikking gestel. Die Portugese se fyngevoeligheid oor die afstand van hul koloniale besittings asook hul jaloersheid op die Z.A.R. se vooruitgang het Leyds van sy opdrag laat afsien. Gedurende die tydperk 1890-1893 het die Z.A.R. verskeie kleinere beveiligingspogings met betrekking tot Delagoabaai en die Portugese gedeelte van die Delagoabaaispoorweg van stapel gestuur. Portugal se swak administrasie van die hawe en spoorweg en die beweerde planne van Cecil Rhodes in verband daarmee was die belangrikste redes vir hierdie beveiligingspogings wat min welslae behaal het. Ten einde die Z.A.R. se belange in Delagoabaai finaal te beveilig is die sg. "Groote Zaak" in Augustus 1893 van stapel gestuur. Leyds is weer eens na Europa afgevaardig om vir die Z.A.R. beheer oor Delagoabaai te verkry. Met dié doel voor oë het Leyds 'n ooreenkoms met V. Hansen en T. Schrader aangegaan. Ten spyte van 'n ses maande lange verblyf in Lissabon kon Hansen en Schrader egter niks uitrig nie. Ofskoon die "Groote Zaak" misluk het, het die Z.A.R. daarin geslaag om Duitsland se steun vir die beskerming van die Z.A.R. se belange in Delagoabaai te werf. Afgesien van die "Groote Zaak" het die Z.A.R. ook deur middel van die Cohen-konsessie probeer om sy belange in Delagoabaai te beveilig. Die Z.A.R.-regering wou die Cohen-konsessie gebruik om Delagoabaai se hawefasiliteite te verbeter. Vanweë Britse en Portugese teenkanting teen die Z.A.R. se betrokkenheid in die uitvoering van die konsessie het daar niks van gekom nie. In September 1894, met die Delagoabaaispoorweg feitlik voltooi, het 'n opstand onder die Swartes in die nabyheid van Delagoabaai uitgebreek. Die optrede van die Britse konsul in Delagoabaai en die teenwoordigheid van 'n Britse oorlogskop aldaar het die Z.A.R. by Duitsland om hulp laat klop. Op versoek van Leyds het die Duitse regering onmiddellik twee oorlogskepe na Delagoabaai gestuur. Die opwagting van die Duitse oorlogskepe in Delagoabaai is allerweë vertolk dat Duitsland bereid was om die Z.A.R. se belange in Delagoabaai te beskerm. Onder hierdie omstandighede is die Delagoabaaispoorweg in Januarie 1895 in gebruik geneem.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (History))--University of the Free State, 1983, History, South Africa
Citation