'n Ondersoek na funksionele bemarkingsbeplanning deur kleinhandelslagters in die Republiek van Suid-Afrika

Loading...
Thumbnail Image
Date
1988-01
Authors
Van Vuuren, Johannes Petrus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Die prominente posisie van die kleinhandelslagter in die Suid-Afrikaanse vryemark-ekonomie beklemtoon die noodsaaklikheid van bemarkingsbeplanning ten einde doelgerigte bemarking te kan doen. Sodoende kan bemarkings- en ondernemingsdoelwitte bereik word. Bemarkingsbeplanning kan vandag dus as onontbeerlik vir die doeltreffende funksionering van die kleinhandelslagter beskou word. Hiersonder sal die kleinhandelslagter se kans op finasiële oorlewing binne die markgerigtheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie, skraal wees. Ten einde bemarkingsbeplanning te doen, moet die kleinhandelslagter 'n reeks ingewikkelde bemarkingsaktiwiteite verrig wat onontbeerlik vir die slaghuis en ook vir die rooivleisbedryf is. Aangesien die kleinhandelslagter 'n belangrike skakel in die bemarking van rooivleis is kan doelgerigte bemarking van rooivleis deur kleinhandelslagters 'n bydrae lewer tot 'n doeltreffende rooivleisbemarkingstelsel. Huidige en potensiële kleinhandelslagters kan deur middel van bemarkingsbeplanning hulself voorberei en verder ontwikkel ten einde 'n optimale bydrae tot die uitbouing van die slaghuis, sowel as die rooivleisbedryf te lewer. Gegee die belangrike posisie van die kleinhandelslaghuis in die rooivleisbemarkingstelsel moet funksionele bemarkingsbeplanning deur kleinhandelslagters dus 'n prioriteitsaangeleentheid wees. In die lig van die belangrikheid van funksionele bemarksingbeplanning is die doel van hierdie studie om die aard en omvang van funksionele bemarkingsbeplanning deur die kleinhandelslagter in die Republiek van Suid-Afrika te ondersoek. Die volgende doelwitte word nagestreef: - Om die elemente van die bemarkingsbeplanningsproses te identifiseer en te omskryf; - die omskrywing van die aard en omvang van marksegmentering en doelmarkkeuse; - die ontleding van 'n geïntegreerde produk-, bemarkingskommunikasie- en prysbeleid; - om die belangrikheid van die vestigingsplek in die bemarkingsproses te bepaal; en - om die rol wat interne uitleg en voorkoms van die slaghuis in die bemarkingsbeplanningsproses speel, te beskryf. Die studie is eerstens gebaseer op 'n teoretiese onderbou van relevante aspekte insake funksionele bemarkinsbeplanning wat spesifiek gerig is op kleinhandelslagters in die Republiek van Suid-Afrika. Tweedens is 'n empiriese opname op grond van die verwysingsraamwerk wat deur die teoretiese ondersoek daargestel is, beplan. Dié ondersoek is onder kleinhandelslagters in die Republiek van Suid-Afrika onderneem. 'n Sistematiese ewekansige steekproef van 50 persent, wat 'n steekproefgrootte van 3080 kleinhandelslagters gelewer het, is getrek. Die gegewens insake funksionel bemarkingsbeplanning is ingesamel met behulp van 'n voorafgestruktureerde vraelys wat aan kleinhandelslagters gepos is. 'n Totaal van 759 vraelyste is terug ontvang, waarvan 585 bruikbaar was. Met die teoretiese studie is gepoog om die volgende aspekte insake funksionele bemarkingsbeplanning, wat spesifiek gerig is op kleinhandelslagters in die Republiek van Suid-Afrika, te beskryf: - Die bemarkingsbeplanningsproses met spesifieke verwysing na strategiese en funksionele bemarkingsbeplanningsmodelle; - marksegmentering en doelmarkkeuse; - die formulering van 'n bemarkingsresep met spesifieke verwysing na die formulering van 'n produk-, bemarkingskommunikasie-, prys- en vestigingsplekbeleid. Uit die empiriese ondersoek wat onder die kleinhandelslagters geloods is het die volgende geblyk: - Bykans 'n driekwart van die respondente doen bemarkingsbeplanning, maar is nie bewus van al die aspekte wat in die bemarkingsbeplanningsproses ter sprake is nie. - Ongeveer 'n derde van die respondente is van mening dat hulle 'n doelmark dien. - Die verpakking en gradering van produkte blyk gewilde elemente van die produkbeleid te wees. Dienslewering, veral by wyse van persoonlike aandag en advies van klante, blyk 'n verder gewilde element te wees. Hierteenoor het die minderheid van die respondente aangetoon dat handelsmerke op produkte geplaas word. - Terwyl bykans al die repsondente van persoonlike verkope gebruik maak, blyk dit dat ander bemarkingskommunikasiemetodes nie 'n hoë prioriteit geniet nie. Uit die aard van die tipe bemarkingskommunikasietegnieke wat gebruik word kan afgelei word dat respondente nie besonder verbeeldingryk is ten opsigte van die gebruikmaking van dié tegnieke nie. Tegnieke word grootliks gebruik om verkoopsgeoriënteerde doelwitte te bereik. Hoewel die meerderheid van die respondente wel aangetoon het dat 'n bemarkingskommunikasiebegroting opgestel word, geskied dit grootliks volgens lukrake metodes. Verder word verkoopspersone merendeels as bestellingnemers beskou. - Respondente maak oor die algemeen van lukrake moetodes gebruik om die pryse van produkte vas te stel. Deur van dié metodes gebruik te maak word pryse so vasgestel dat dit tot 'n verhoging in verkope en wins sal lei. By die bepaling van die pryse van produkte word slegs 'n beperkte aantal aspekte in ag geneem. - Met die uitsondering van die koste van die vestigingsplek en potensiële verkope, blyk dit dat respondente nie 'n hoë prioriteitswaarde vaan die ander tersaaklike vestigingsfaktore heg nie. - Die oorgrote meerderheid van die respondente is van mening dat interne uitleg en voorkoms van die slaghuis belangrik is. Slaghuisbestuurders en -eienaars moet van die belangrikheid en omvang van funksionele bemarkingsbeplanning bewus gemaak word. Die prominente posisie van kleinhandelslaghuise in die Suid-Afrikaanse ekonomie noodsaak die implementering van funksionele bemarkingsbeplanning. Dié implementering sal nie alleen die kleinhandelslagters en die rooivleisbedryf nie, maar ook die volkshuishouding, tot voordeel strek.
Description
Keywords
Marketing -- South Africa -- Management, Small business -- South Africa -- Management, Meat -- Marketing, Butchers -- South Africa -- Management, Thesis (Ph.D. (Business Economics))--University of the Free State, 1988
Citation