Die verhouding van die Israel-spreuk tot die ander volkerespreuke in die boek Amos 1 en 2

Loading...
Thumbnail Image
Date
1984-06
Authors
Van Heerden, Schalk Willem
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: 1. Inleiding: In hierdie studie word die terrein van teksuitleg betree. 'n Verkenning van die veld toon aan dat daar 'n groot mate van verwarring bestaan en dat n eksperimentele tyd beleef word. Die doel van die studie is primêr om te bepaal wat die verhouding is tussen die Israel-spreuk (Am 2:6-16) en die sewe ander volkerespreuke (Am 1:3-2:5). Daaruit voortvloeiend word gepoog om die parameters te vind waarbinne die proses van interpretasie van hierdie perikoop as geheel behoort te verloop. 'n Newedoelwit is verder om die metode wat in hierdie studie aangewend word, te evalueer. Die metode wat aangewend word, kan as 'n komprehensiewe benaderingswyse beskou word. 2. Perikoopafbakening: Na 'n bespreking van die noodsaaklikheid van en maatstawwe vir perikoopafbakening word bepaal dat Am 1:3-2:16 geïdentifiseer kan word as 'n selfstandige perikoop, wat geskik behoort te wees vir gebruik as tekseenheid in hierdie studie. 3. Tekskritiek: Nadat n oorsig gegee is van verskeie variante lesings in manuskripte, sowel as voorstelle tot tekswysiging, word enkele probleemgedeeltes in meer besonderhede bespreek. Hierdie gedeeltes kom voor in 1:8,9,11; 2:2,7,15. n Enkele tekswysiging by 2:7 word aanbeveel. 4. Sinchroniese analise: Daar word aangetoon dat analises van hierdie aard nie eenvormig aangepak word nie. Ook die kriteria vir struktuurbepaling verskil. In die eie analise word uitwendige ornamentele aspekte, grammatikaal-sintaktiese aspekte en inhoudsaspekte gebruik vir struktuurbepaling. Daar word aangetoon dat die Israel-spreuk (2:6-16) opmerklike ooreenkomste met sowel as opvallende verskille van die vorafgaande volkerespreuke toon. Die verskille is geleë in die unieke struktuurelement "verswaring van skuld" (2:9-12), sowel as uitbreidings op beide die spesifieke oortredinge (2:6{c)-8) en die spesifieke strafaankondiging (2:13-16{a). Die afleiding is dat die Israel-spreuk van besondere belang sal wees vir die interpretasie van die perikoop as geheel. 5. Gattungskritiek: Na 'n historiese oorsig oor die Gattung-studie van die profetiese literatuur, sowel as die bespreking van die vraag wat n Gattung is, en watter riglyne geld vir Gattung-studie, word Am 1:3-2:16 onder die vergrootglas geplaas. Die begrippe Jahwerede, Scheltwort, Drohwort en Gerichtswort word oorweeg. Laasgenoemde blyk die mees geskikte benaming te wees vir die Gattung ter sprake. Hierdie Gattung word "funktionsatypisch" aangewend. Die Sitz in der Literatur is die verkondiging van 'n profeet aan sy eie volk wat ongehoorsaam geword het. 6. Tradisiekritiek: Na die bepaling van riglyne vir en metode van tradisiekritiese ondersoek word aangedui dat die identifiseerbare tradisies juis in die Israelspreuk (2:6-16) die mees eksplisiete vergestalting vind. Verder het al die tradisies 'n kritiese funksie wat nie die tipiese aanwending van hierdie tradisies is nie. 7. Redaksiekritiek: Die waarde en metode van redaksiekritiek word ondersoek. Die boek Amos bevat waarskynlik ses redaksionele strata, word bevind. Die perikoop Am 1:3-2:16 bevat moontlik vier gedeeltes wat sekondêr van oorsprong kan wees, naamlik 1:9-10, 1:11-12, 2:4-5, 2:10-12. Hierdie gedeeltes word toegeskryf aan 'n Deuteronomistiese redaktor. Die redaksionele bewerkinge is hoofsaaklik aktualiserend en konkretiserend en teologiesverklarend van aard. 8. Gevolgtrekkinge: Al die voorafgaande metodefasette se resultate sluit saam tot die afleiding dat die outeur(s) van die volkerespreuke in Amos 1 en 2 op 'n behendige wyse daarin geslaag het om spesifiek die Israel-spreuk (2:6-16) in die kollig te plaas. Vernuftige verrassingstegniek is aangewend. Die Israel-spreuk blyk dus van groot belang te wees vir die verstaan van die perikoop as geheel. Verdere gevolgtrekkinge is die volgende: Die resultate van teksuitleg is byna altyd voorlopig van aard; teksuitleg is n gekompliseerde saak; n komprehensiewe of komplementêre metode blyk sekere voordele in te hou.
Description
Keywords
Jews -- Identity, Israel, Bible -- O.T. -- Amos -- Book of Amos, Dissertation (M.A. (Semitic Languages))--University of the Free State, 1984
Citation