Die verband tussen kompeteringsangs en beseringsinsidensie onder skole-rugbyspelers

Loading...
Thumbnail Image
Date
2012-01
Authors
Pretorius, Stephanus
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Free State
Abstract
Afrikaans: Die doelwitte van hierdie studie was om die aard en omvang van beserings onder skole- rugbyspelers te bepaal en die verband tussen die onderskeie beseringsprofiele en kompeteringsangs te ondersoek. Die studie het die insidensie en erns van beserings onder hoërskoolleerders ondersoek gedurende 2006 – 2008 en het gepoog om te bepaal of kompeteringsangs ‘n voorspeller van beserings onder die populasie was. ‘n Totaal van 94 deelnemers het aan die insluitingskriteria voldoen en is tot die studie toegelaat. Die deelnemers se beseringsgeskiedenis gedurende 2006 - 2008 is versamel en in drie afdelings verdeel, naamlik die aantal beseerde liggaamsdele of –streke oor drie jaar periode, die aantal beserings gedurende die 2008 seisoen en die erns van beserings gedurende die 2006 en 2007-seisoene. Die omvang van kompeteringsangs is bepaal deur middel van vraelyste. Karakter-geassosieerde kompeteringsangs (KGA) is bepaal met behulp van die SCAT-vraelys en Geleentheidsgeassosieerde kompeteringsangs (GGA) met behulp van die CSAI-2-vraelys. Die insidensie van beserings was hoog in vergelyking met internasionale data. ‘n Hoë aantal beserings van ernstige aard het voorgekom, wat meer was as in vergelykende populasies. Die beseringsinsidensie van die boonste ledemate was die hoogste en die voorkoms van potensieel-katastrofiese beserings onder hierdie groep was opvallend. ‘n Positiewe verband tussen KGA en aantal liggaamsdele beseer gedurende 2006 en 2008, sowel as die aantal beserings opgedoen gedurende 2008 is aangetoon, maar geen verband kon met erns van beserings gedurende 2006 bewys word nie. Geen verband kon bewys word tussen GGA en die beseringsprofiele nie. Die studie het hoë beseringsinsidensies bevind, met veral die boonste ledemate wat prominent was. Die erns van beserings was ook opmerklik, met ‘n hoë aantal spelers wat ernstig beseer was, asook die relatief-verhoogde insidensie van lewensbedreigende beserings (nek- en rugbeserings asook konkussie) in ‘n jong populasie. In terme van identifikasie van sielkundige voorspellers, wil dit voorkom of ‘n verhoogde KGA, gemeet deur die SCAT-skaal, verband hou met beseringsinsidensie, maar nie met erns van besering nie. Dit wil voorkom of daar nie ‘n verband tussen GGA, gemeet met CSAI-2 en die beseringsprofiele, is nie. Bepaling van risikofaktore, programme om beserings te voorkom, die korrekte hantering van lewensbedreigende beserings en ‘n nasionale bewuswordingsveldtog met sentrale databasis op skolevlak word voorgestel om beserings te beperk. Verdere navorsing word aanbeveel om KGA as voorspeller van beseringsinsidensie te valideer deur herhaalstudies en om uitsluitsel te verkry omtrent GGA as voorspeller van die aard en omvang van beserings.
Description
Keywords
Dissertation (M.A. (Sport Science))--University of the Free State, 2012, Rugby football injuries, Rugby football injuries -- Prevention, Competing risks, Stress (Psychology)
Citation