Economics and Finance
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Economics and Finance by Subject "African cooperation"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access The depth of financial integration and its effects on financial development and economic performance of the SACU countries(University of the Free State, May-08) Aziakpono, Meschach Jesse; Burger, Philippe; Du Plessis, StanAfrikaans: Die studie ondersoek die verhouding tussen finansiële integrasie, finansiële ontwikkeling en ekonomiese groei in die SADU lande. Die empiriese analise begin met 'n ondersoek na die graad van finansiële integrasie in elk van die SADU lande, deur 'n battery van toetse te gebruik. Die resultaat verskaf in alle opsigte oorweldigende bewyse wat aantoon dat die finansiële sektore van die SADU lande individueel hoogs geïntegreer is en dat dit toeneem. Die aanwysers beklemtoon ook 'n duidelike asimmetrie in die kapitaalvloei tussen die banke en die SADU lande, met die kapitaalvloei betekenisvol ten gunste van Suid-Afrika en Namibië in vergelyking met die ander lande. Dit word toegeskryf aan die onderliggende eienskappe van hierdie lande, spesifiek hul swak institusionele ontwikkeling. Die resultate bevestig verder Suid-Afrika se dominante rol in die SADU. Die rentekoersanalises dui ook ondubbelsinnig op 'n hiërargie van die integrasie van die finansiële stelsels van elke lidstaat met die van Suid-Afrika. Namibië is bo-aan die lys, gevolg deur Swaziland, Lesotho en Botswana, in daardie volgorde. Die resultate dui verder ook aan dat die heersende integrasie tussen die finansiële stelsels voortspruit uit beide beleidkonvergensie en markkonvergensie. Die resultate toon egter ook dat, behalwe in Namibië, daar beperkte aktiwiteite tussen die lande bestaan, wat die gevolg kan wees van beide swak institusionele ontwikkeling en beperkte beleggingsgeleenthede, en die onvermoë van beleggers om sodanige geleenthede in die kleiner lande te verken. Die empiriese analise van die verhouding tussen finansiële ontwikkeling, finansiële integrasie en ekonomiese prestasie, wat gebaseer is op ko-integrasie en foutkorrigerende modelleringstegnieke deur die Johansen-benadering te gebruik, verskaf gemengde resultate tussen die SADU lande. By die verhouding tussen finansiële ontwikkeling en uitsetgroei varieer die resultate van land tot land en hang dit van die maatstaf van finansiële ontwikkeling wat gebruik is af. As ‘n geheel verleen die resultaat 'n mate van ondersteuning aan aanbod-leidende finansies oor die SADU lande heen, soos voorgestel deur Patrick (1966). Oor die effek van FO, dui die oorwig van die bewyse op 'n negatiewe jare-lange oorsaaklike effek van finansiële ontwikkeling op die uitsetvlak in die SADU lande, veral as die kredietaanwyser gebruik word. Die toetse vir die effek van die deposito-aanwyser op die uitsetvlak was grootliks onoortuigend, met die uitsondering van Swaziland, waar 'n robuuste positiewe effek gevind is. Die swak effek van finansiële ontwikkeling op ekonomiese groei word toegeskryf aan ondoeltreffendhede in die kredietallokasiemeganisme, weens swak regulasies, banktoesighouding en onderontwikkelde finansiële stelsels asook politieke, institusionele en strukturele probleme in party van die lande. Die resultate bevestig verder 'n langtermyn verhouding tussen finansiële ontwikkeling en finansiële integrasie oor die SADU lande heen. Die resultate bevestig ook 'n sterk terugvoer-verhouding tussen finansiële ontwikkeling en finansiële integrasie oor die lande heen. In alle opsigte is die effek van finansiële integrasie op finansiële ontwikkelinge en vice versa dubbelsinnig en dit varieer oor die SADU lande heen. Bykomend tot die variasie oor die lande heen, hang die bewyse af van die soort kapitaalvoorraad en die maatstaf wat vir finansiële ontwikkeling gebruik is. Dit is derhalwe moeilik om in die algemeen te beslis of finansiële integrasie 'n aanvulling of plaasvervanger vir finansiële ontwikkeling oor die SADU heen is. Laastens toon die resultate aan dat uitset oorheersend endogeen in die vier lande is, terwyl finansiële integrasie hoofsaaklik eksogeen is. Dit suggereer 'n beperkte terugvoerverhouding vanaf uitsette na finansiële integrasie. Wat die effek van finansiële integrasie op die uitsetvlak betref is die resultate gemeng; die effekte varieer van land tot land en hang van die soort kapitaal af. Die effek van Direkte Buitelandse Investering was negatief in Botswana, positief in Suid-Afrika, maar dubbelsinnig in Swaziland. Die verhouding van buitelandse bates van banke het 'n dubbelsinnige effek in Botswana, Lesotho en Suid-Afrika, terwyl geen effek in Swaziland bespeur is nie. Laastens het die verhouding van buitelandse laste 'n positiewe effek in Lesotho en Swaziland, en 'n negatiewe effek in Suid-Afrika, terwyl die effek in Botswana dubbelsinnig is.